Chris Kritzinger
Chris Kritzinger (31) van Red Pepper Pictures het al meer as 11 000 km saam met Toast en Erns op die agterpaaie van Namibië en die Karoo gereis. Hy is die TV-reeks Weg
Agterpaaie se kamera-operateur, regisseur én redigeerder. Ons het met Chris gesels oor sy TV-werk
en ervarings op die reekse. Waar het jy grootgeword en wat was jou gunsteling-TV-reekse as kind? Ek is in Pretoria gebore, het grootgeword in Johannesburg en later my verstand gekry in die Baai. As kind was ek versot op Die Swart Kat en klassieke strokiesprente in die tagtigs soos BraveStarr, He-Man en die Teenage Mutant Ninja Turtles.
Wat het jy ná skool gestudeer en hoe het jy op ’n TV-loopbaan besluit? Ek het aanvanklik fotografie aan die Nelson Mandela Metropolitaanse universiteit gestudeer, maar het as student betrokke geraak by videowerk (dit was vir geld om bier te koop). Ek het ’n passie ontwikkel vir die “bewegende beeld” en my aandag voltyds daarop toegespits met my meestersgraad.
Wat het jy die meeste geniet tydens die skiet van die eerste twee reekse? Die reekse was verskillend, met verskillende nuanses. Die Namibiese landskap was vir my baie aangrypend met die eerste reeks. En in die Karoo-reeks het ek die mense die meeste geniet. Jy ervaar werklike menswees in die Karoo en dit is iets wat ek probeer vasvang in die tweede reeks.
Noem ’n paar gunsteling-oomblikke tydens die Karoo-reeks. Om David Kramer by Red Stone Hills te skiet was ’n hoogtepunt. So ook die insetsel met Etienne van Heerden op Cradock. Om saam met die boer Schalk van der Walt in sy bakkie te kon ry op die plaas Gelykfontein. Om op Antony en Margie Osler se stoep buite Colesberg te sit terwyl die reën neerstort. En die Vallei van Verlatenheid teen sononder buite Graaff-Reinet.
’n Bier saam met Ronnie Price van Ronnies Sex Shop buite Barrydale. ’n Besoek aan die rotsgravures by Springbokoog saam met Rina van Wyk. Die Klipwerf Orkes wat vir ons optree. Die waansin by die Tankwa Tented Camp én stilte op Verneukpan. Om te sien hoe Erns met ’n pap wiel spartel. Daar is te veel om te noem! Jy neem puik portretfoto’s vir die reekse. Watter foto’s bly jou by? Die portret van Tokkie Januarie op die plaas Gelykfontein – hy is baie ernstig en die perd het ’n lawwe uitdrukking!
En een van Christie Zietsman wat ek in die eerste reeks by Seeheim geneem het. Hy is kort daarna oorlede; dus herinner die foto my aan die verganklikheid van menswees.
Is dit swaar om vir ses weke op die pad te wees? Ja, jy mis jou geliefdes en ’n roetine. Maar terselfdertyd leef ek my werklik in die reeks in.
Wanneer ek wel moes moed skep in ’n stil oomblik, het ek die ou Voortrekkerleuse “Hou koers” ter harte geneem.
Vertel iets van Toast en Erns wat die kykers dalk nie weet nie. Dis ongelooflik om te sien hoe vinnig hulle albei goeie inhoud kan genereer.
Dis meer ongelooflik om te sien hoe ontsettend baie strooi dié twee kan kwytraak. Wat dink jy is die redes vir Weg Agterpaaie se sukses? Erns en Toast bring ’n dinamika wat die kyker (en vir my) vermaak, interesseer en inlig. Die reeks gee nie voor nie – ons verken die agterpaaie en probeer mense se stories op ’n opregte manier deel. Dit maak dat kykers in hulle motors wil klim en self die agterpaaie gaan verken. En is dit nie juis die punt van ’n reisprogram nie?
Waar sal jy nog reekse van Weg Agterpaaie wil skiet? Ek sal graag Suid-Afrika se kuslyn in diepte wil ontdek, veral die Weskus en Wildekus. En ek sal die Bosveld wil fynkam. Dan sal ek ook bittergraag in plekke soos Madagaskar en Zanzibar wil gaan skiet. Wat sal jy doen die dag wanneer jou skip uiteindelik inkom? Ek sal eers seker maak dat die skip nie die Titanic is nie en dan om die wêreld reis en deur my fotografie verder stories vertel.