TUSSEN WOUD EN WATER
Tussen Knysna se woude en waters borrel dit oor van goed om te doen. Ons het blyplekke, eetplekke en doendinge in ’n goudpan gegooi en geskud – hier is die knewels wat agtergebly het.
As ’n mens deur Knysna se geskiedenis delf, besef jy dat dit eens ’n werkersdorp was. Meer as ’n eeu gelede het mense hierheen gestroom om rykdom te vind. Dié fortuinsoekers was geharde mense: houtkappers wat in die Knysnawoud gewoeker het; goudmyners wat die eerste goudveld in Suid-Afrika by Millwood ingevaar het net om te besef fortuin lê eintlik noord van die Vaalrivier; en jagters wat met swaarkalibergewere die bos gefynkam het vir ivoor.
Op die Thesen-eiland het ’n houtfabriek geraas, en seil- en stoomvragskepe het daagliks The Heads aangedurf om van die hawe na die oopsee te vaar. Fluitende treine het goedere rondkarwei – eers tussen die woud en die dorp, en later ook oor die strandmeer na George.
Vandag lyk die prentjie anders. Nadat maj. Philip Pretorius in 1919 manalleen die olifantbevolking van 130 uitgeskiet het tot by net 15, het die grootvoete so te sê uit die bos verdwyn.
Hier word nie meer vir goud gemyn nie, en houtkappers moes ander weivelde gaan soek noudat woude tot ’n bewaarde gebied verklaar is. Onkruid groei tussen die dwarslêers van die treinspoor nadat vloede ’n dekade gelede die trein tussen George en Knysna tot stilstand gedwing het. Die hawe het gesluit en op Thesen het ’n luukse woonbuurt die houtfabriek vervang.
Maar Knysna bars deesdae uit sy nate. Tussen Harkerville in die ooste, die Goukammarivier in die weste en die Outeniquaberg in die noorde, is hier oorgenoeg trekpleisters vir toeriste.
Jy kan kom bak op ’n strand, of onder ’n blaredak in die Knysnawoud stap. Dobber rond op die strandmeer of voer ’n grootvoet ’n appel... >