Sakpasvakansie in Malawi
’n Plat beursie en min verlofdae hoef nie jou avontuurlus en liefde vir reis te kniehalter nie. Die leser Hendri Beukes het saam met sy vrou en vriende die warm (en bekostigbare) hart van Afrika gaan soek, en dit in Malawi gevind.
Ek en my vrou, Emma, en ons vriende Trevor en Kerstin Atterbury is jong getroudes met voete wat jeuk om Afrika te ontdek. Ons geld en verlof is min, dus begin ons ’n internetsoektog na ’n lekker vakansie deur goedkoop vliegtuigkaartjies op te spoor. Nie Lusaka, Luanda of Livingstone haal die paal nie, maar Lilongwe lyk haalbaar.
Ons Google Malawi en foto’s van mense met breë glimlagte, die Malawimeer en ongerepte natuurskoon verskyn op die rekenaarskerm. Die land was nog altyd op my wenslysie, en die foto’s oortuig die res van die span. Ons gaan Malawi toe!
Ons doen nog ’n bietjie navorsing oor besienswaardighede, bespreek ons vlugte en voordat ons mooi tot verhaal kom, is dit April 2016 en ons rugsakke is gepak vir ’n 12 dae lange toer deur die suide van die land. Ons het geen vooraf besprekings vir vervoer of verblyf nie, maar ons het spandrag (bypassende hemde en hoede), ’n rugsak vol noodsaaklikhede (muskietweerder, malariamedisyne, snorkels, duikbrille en swemklere), ’n kaart, Laurens van der Post se Venture to the Interior en ’n Lonely Planet- gids oor Malawi, wat ons sommer op die O.R. Tambo- internasionale lughawe koop.
Daar is daagliks vlugte tussen Johannesburg en Malawi se twee groot stede, Blantyre en Lilongwe. Ons vlug op Malawi Airlines land op Blantyre se piepklein lughawe, maar buite is ’n skare taxi-bestuurders wat toeriste die stad inkarwei. Een van hulle neem ons na Doogles Backpackers (R40 p.p.p.n.).
Voor ons daar lafenis teen die hitte soek, trek ons gou eers Malawiese kwatcha (elke R1 koop vir jou sowat MK50) by ’n kitsbank langs die pad en koop brood en avokado’s. Ons vier ons eerste aand in Malawi met Carlsbergbier en biltong-en-avobroodjies terwyl ons die strategie vir die volgende paar dae beplan. >
Mulanje eerste Ons plan is om heel eerste Berg Mulanje, die granietgebergte op Malawi se suidoostelike grens met Mosambiek, te sien. Die hoogste piek is Sapitwa, sowat 3 000 m bo seevlak. In Suider-Afrika is net die spitse van die Drakensberg hoër. Die berg word omring deur teeplantasies en inheemse woude strek tot teen die granietkranse. Oral stroom watervalle teen die rotswande af.
’n Oorlaaide minibus vervoer ons vir altesame R300 van die Limbe-stasie buite Blantyre af na die dorpie Likhubula, waar ons teen die voet van die berg slaapplek kry by die CCAP-sendingstasie vir net R14 p.p. Ons eet hoender, rys en slaai by Nancy’s Dream Restaurant en vergaap ons aan die sonsondergang en die massiewe berg. Rondom ons doen kinders huiswerk. Nancy se deur staan vir hulle oop aangesien dit een van die min plekke is met elektriese ligte.
’n Mens kan die berg verken op staproetes van een tot vyf dae. Likhubula is propvol “gidse” wat jou te hulp snel as jy net lyk asof jy die berg wil aanpak, maar dis beter om by die bosboukantoor te registreer en ’n amptelike gids te kry teen sowat R260 per dag. Ons het die Chambe Plateau-dagstaproete aangepak, wat kronkel deur dennewoude tot bo-op die Chambe-vallei en weer rivierlangs na onder daal. By Old Man Falls is ’n waterval en ’n swempoel wat lafenis bied teen die hitte en humiditeit. Dit neem agt uur om dié uitdagende roete te doen, maar die pieke wat bo die woude uittroon, die uitsig oor die Malawiese landskap in die verte en die reuk van die Mulanje-sipresse maak dit beslis die moeite werd.
Liwonde op die spyskaart
Ons tweede bestemming is die Liwondenasionale park. Die park is langs die Shirerivier waar dit in die Malombe-meer uitmond. Van Mulanje af ry ons per bus terug na Blantyre, deur Zomba tot in Liwonde. Geduld, en nogmaals geduld, is die mantra as jy hier openbare vervoer gebruik. Die 8 vm.-bus daag eers om 9.30 vm. op en dit neem 3 uur om 65 km af te lê. ’n Reisdag is presies dit: ’n volle dag se reis.
Ons klim in Liwonde af en reël met Liwonde Safari Camp vir ’n drywer om ons te kom haal. Die lodge behoort aan ’n Nederlander wat al die afgelope vyf jaar in ’n tent in die bos woon. Dit is ’n paar minute se ry uit die dorpie en is teenaan die park geleë. As jy egter nie jou eie vervoer het nie, het jy geen ander keuse as om
die lodge se dienste en restaurant te gebruik nie. Hier is luukse tente beskikbaar, maar ons het gelukkig ’n backpackersslaapsaal vir onsself (R190 p.p.). Hier kyk jy na voëls, lees boek of speel bordspeletjies in die ontspanningslokaal.
Die park se plantegroei bestaan uit digte woude teen die hange van die berge, mopanieen kremetartbome in die laagliggende dele en moerasse teenaan die rivier. Op ’n wildrit sien ons rooibokke, koedoes, waterbokke en olifante, asook visarende, ’n jong breëkoparend, troupante, ’n slangarend, bromvoëls en ooievaars. Ons gaan op ’n bootrit en ’n voetslaantoer deur die park. Binne twee dae merk ons meer as 20 voëlspesies op ons lys af. Dit sluit die kuifkopvisvanger, gestreepte vleiloerie, palmmôrelyster, spookvoël, saalbekooievaar, enkelbandslangarend, breëkoparend en kaalwangvalk in.
Tyd vir Cape Maclear
Van Liwonde af neem ons weer ’n minibus na die noorde, op pad na die Malawimeer. Die bus het 14 sitplekke, maar dit trek eers weg wanneer 19 volwassenes en ’n kind plek gevind het. Daar’s so baie bagasie dat die kattebak nie ordentlik kan toemaak nie. Die rit is allesbehalwe gemaklik, maar tog is daar dinge wat ons altyd sal bybly. Ons tref ’n slaggat teen volle vaart en ’n sak mielies val by die kattebak uit. Die bestuurder slaan rem aan en ry in trurat tot by die mieliepitte wat nou die pad vol gesaai lê. Almal help om die pitte met takke bymekaar te vee en in lapsakke toe te bind. Geen harde woord word gerep nie en daar is geen kwade gevoelens nie. Met die laaste pit terug in die bus, klim ons in en ry verder.
Op die dorpie Mangochi besluit ons egter ons het genoeg gehad van die oorvol minibus – dis tyd vir duimgooi. Ons stap eers die plek plat op soek na ’n kitsbank wat werk, waarna ’n vriendelike vragmotorbestuurder vir ons ’n geleentheid gee al die pad oor vlaktes besaai met oeroue kremetartbome tot by Cape Maclear.
Cape Maclear is in die Malawimeernasionale park, ’n Unesco-wêrelderfenisgebied. Ons kry slaapplek in ’n slaapsaal by die Fat Monkeys Backpackers (R130 p.p.). Die kampterrein is op die strand, hier’s ’n kroeg en ’n restaurant en die personeel dra jou op die hande. Ons huur kajakke om na >
die nabygeleë eilande Domwe en Thumbi te roei om daar te snorkelduik. Ons het juis ons eie snorkeltoerusting saamkarwei om die lewe onder die oppervlak van die meer te verken. Ons sien duisende blou, geel en pers tropiese visse. Visarende is ook volop in hierdie geweste.
Ons bly ’n klompie dae om die meer, die eilande en die dorp te verken. Ons seil met ’n katamaran om Domwe-eiland, en eet baie porsies kwarthoender en skyfies by die plaaslike restaurante. Die plaaslike vis op die meeste spyskaarte is chambo, en veral Fat Monkeys s’n is heerlik.
Die terugtog
Van Cape Maclear af kry ons ’n geleentheid saam met plaaslike motorfietryers na Monkeybaai. Die Malawi Shipping Company (MSC) bedryf ’n pont, die bekende Ilala, wat weekliks tussen Monkeybaai en Chilumba vaar. Die skip, wat sowat 450 passasiers kan vervoer, het kajuite, ’n restaurant met ’n eenvoudige spyskaart en ’n kroeg met koue bier.
Eersteklaspassasiers span uit op die boonste dek van waar hulle die uitsig kan geniet. Dit kos ons sowat R105 p.p. om die pont na Sengabaai te neem. Die Ilala stop by verskeie dorpies langs die meer. Elke keer word twee reddingsbote laat sak sodat passasiers en bagasie na die land geneem kan word terwyl nuwe passasiers op dieselfde manier na die skip gebring word.
Soos die kraai vlieg, is die roete tussen Monkeybaai en Sengabaai net 50 km, maar dit neem omtrent 12 uur om dit op die Ilala te doen. Dis 9 nm. en pikdonker teen die
tyd dat ons en drie bemanningslede in ’n reddingsboot gelaai en land toe geneem word. ’n Donderstorm oor die meer sorg vir ’n bietjie opwinding, en ons vier ons veilige landing met ’n G&T by Cool Runnings, die backpackers in Sengabaai waar ons slaapplek kry (teen R130 p.p.).
Ná ’n lekker nagrus verken ons die dorpie, swem ’n laaste keer in die meer en vang ’n minibus na Salima, waar ons oorklim op nog ’n minibus na die hoofstad, Lilongwe. In Lilongwe kuier ons ’n laaste aand in Malawi by Mabuya Camp (R80 p.p.). Die volgende dag neem ’n taxi ons na die lughawe. Dis tyd om huis toe te gaan.
Talle reisigers sal sê dat die noorde van Malawi – plekke soos Likoma-eiland, Nkhotakota en Nkhatabaai – die mooiste deel van dié land is. Maar ek sal enigeen aanbeveel om tyd in die suide deur te bring om teen Mulanje se hange te gaan stap en by Cape Maclear te gaan snorkelduik. Leer Malawi se mense ken, gebruik openbare vervoer soos minibusse, busse, motorfietse en die Ilala en ervaar die ware hart van Afrika.