Daar’s ’n man op die grens
Elke liewe Weg- leser met ’n paspoort het ’n grensstorie – of drie – om te vertel. Om nie eens te praat van vleis wegsteek wanneer dit by veeartsenybeheerpunte kom nie. Ja, dáái stories...
Jy hoef nie ’n recce te wees om ’n wilde grensverhaal te kan oorvertel nie. Geen kennis van landmyne, RPG7’s en leopard crawl is nodig om jou voor te berei vir ’n skermutseling op die grens nie. Al wat jy nodig het om deel te wees van ’n groeiende grensstatistiek, is ’n volgepakte bakkie, vakansiemusiek in die CD-speler, ’n Coleman, ’n vrolike hart en ’n geldige paspoort.
Destyds het ons gereeld ’n grensfoto geneem: Die hele gesin wat in ’n string hande vashou voor die Welkom in SWA-bord. Dit was die dae voor paspoorte, grensposte en beneukte beamptes. Ons het gekyk wie eerste sy voet oor die grenslyn kan steek en met die terugkomslag gestry wie se toon laaste uit ons gunsteling-vakansieland getrek is.
Vandag het ’n grenspos die manier om jou skuldig te laat voel. Jy nader die hekke soos ’n laerskoolkind wat na die hoof se kantoor gestuur word. Nog voordat jy spoed verminder, voel dit asof jy iets verkeerds gedoen het. So al asof jy ’n renosterhoring tussen die slaapsakke en die tent weggesteek het of dalk ’n blink klippie in jou buis Aquafresh gedruk het.
Jy stap op jou hoede by daardie baksteengeboutjie in. Reisgenote in ’n ry.
Jy lees sommer die plakkate van indringerplante (en hulle wetenskaplike name) én die Choice-houer se inligtingstuk, net om besig te bly en onskuldig te lyk. Al weet jy voor jou heilige siel dat jy “skoon” is, dat al jou honderde motorpapiere en -bewyse, die kinders se unabridged geboortesertifikate (in duplikaat), jou ZA-plakker, gesertifiseerde afskrifte van álles en jou Coleman se inhoud in orde is. En, natuurlik, jou paspoort.
Ek ken nie mense wat nié ’n storie oor ’n grenspos het nie. As jy nie die eienaar van ’n paspoort is nie, gaan jy nie die volslae verligting wat jou na ’n bier laat gryp, verstaan as jy uiteindelik “You may proceed” hoor nie. Maar die res van alle reisgieriges kan ensiklopedieë uitgee.
So ry die Suidwester en sy gesin uit Windhoek Kaap toe (Suidwesters gaan Desember óf Swakop óf Kaapse kus toe om te gaan afkoel). Net voor die grenspos by Noordoewer merk sy vroutjie liefies op dat sy wens hulle het tog die klavier saamgebring.
Hy vra verbaas uit oor dié belaglike voorstel en moet toe hoor dat sy vrou hulle paspoorte óp die klavier vergeet het!
Ek weet nie wat verder in daardie voertuig gebeur het nie; ek weet net dat die Steinway ongeveer 900 km ver was.
’n Sakemanvriend van Windhoek en sy vrou moes ook Kaap toe om teëls te gaan koop. Klaar met die aankope en familiekuiers, stoot hulle die volgelaaide Kombi se neus noorde toe, net om kort voor die grens te onthou haar paspoort hou nog vakansie by die familie in die Kaap.
’n Desperate boer se planne verdien gewoonlik patentereg. Om die storie te waardeer moet ’n mens weet dat die vrou – kom ons noem haar Ria – se swart hare gedoen is. Sy dra sykouse en is netjies uitgevat. Kom ons noem haar man Jan.
Jan maak toe ’n plan. Hy verpak die netjiese Ria onder die platgeslaande sitplekke agter die rye teëls in. Kop eerste stoot hy haar in – dis al manier.
Veilig en reeds ver deur die grens, is Ria weer aan die voete agter die nuwe badkamerteëls uitgehelp.
Toe ons in 1996 Windhoek toe getrek het, het ons toekoms so oop soos die ongerepte Namib gelê. ’n Nuwe werk en ons troue het gewag. Ons het middelmiddag in Februarie by Nakop aangekom. Die teerpad het gebewe, die sinkdak ook en die versamelvoëls het nie eens probeer versamel nie. Twee beamptes het roerloos gesmelt buite die prefab- gebou bly sit.
Ons voertuig was die enigste. Dit was ook die laaste keer dat ek ooit met ’n lekker gevoel by ’n grenspos ingestap het. Binne het als seepglad verloop, maar die amptenare buite het nie hulle enigste kans op vermaak op daardie vervelige, vloekwarm middag laat verbygaan nie.
Ons is gevra om af te pak – álles. Ons hele bestaan het destyds in ’n sleepwa en ’n kattebak gepas. En soos dit maar met ’n trek gaan, was daar oral los goed ingedruk wat met die oopmaak begin uitval het. Hier drie hangers en ’n matjie, daar ’n paar skoene.
Die probleem het gekom by die kombuisteegeskenke, wat steeds met geskenkpapier toegedraai was. Die halsstarrige amptenaar wou nie glo dat ’n mens geskenke kan kry vóór jy trou nie en ons moes oopmaak. (Ons kon toe darem sien hoeveel houtlepels en vadoeke ons sou kry.)
Dan was daar ook die beampte met die peer in die mond. Sy wou natuurlik nie die pret mis nie en het peer tussen die tande bokse begin oopmaak terwyl die peersap oor die splinternuwe AMCkastrolle drup.
Later staan ons hele nuwe lewe uitgestal en oor die teerpad versprei. Glase en bekers uit koerantpapier gewoel, ’n strykyster, tennisraket, droograk, toiletware, álles. My persoonlike kwikmeter het die hele Ariamsvlei-distrik soos Ysland laat voel.
Toe die pret verby was, is ons beveel om op te pak. Die uniforms het doodluiters omgedraai en weer jellie onder die afdak geword.
“Ag, nou ja,” het my geliefde gesug, “ek is bly ons kon iemand se dag maak.”
Ek het nie gedink dis snaaks nie.
Drie maande later is ons getroud en op wittebroodsreis deur die Caprivistrook Zimbabwe toe. Die pad deur die Caprivi was nog nie geteer nie – dit was ’n woeste grondpad.
By die Botswanagrens word ons ferm by die bek-en-klouseer-bord gestop. Geen diereprodukte nie! Dit was nog vroeg in die dag en geen regering sou ons van ons spek en eiers skei nie.
Net daar slaan ons die moeder van alle ontbyte aanmekaar. Berge spek, dosyne eiers en wors. Tim Noakes sou diep beïndruk gewees het en die hele Springbokspan sou kon aansit. Ons het net die botter vergeet; dié het later sissend in die polisieman se vuurtjie verdwyn.
Ons het vir twee dae nie weer geëet nie, maar ons Februarietrek is op daardie grenspos gewreek.
Ons ou volkie is mos geheg aan ons vleisies en jy kan mos nou nie ’n blikkie Weense worsies op jou eerste kampvuurtjie op vakansie braai nie.
Ek wil nou nie taktiek uitlap nie, maar ons ken iemand wat al deur die ergste grensposte gekom het met bevrore steaks netjies in die bakkie se deure versteek.
Ons self moes onlangs ons hamburgers en appels teësinnig afstaan (nie dat vandag se winkelpatties enige spoorelemente van vleis bevat nie).
Soms gaan jy deur sonder om te weet jy is skuldig, soos die keer toe ek met ’n koelboks vol van my sussie se verruklike kaaswors die einste kwaai grens deur is. Ek het so ewe met my elmboog op die sondige items gerus terwyl ek met die hekbeampte klets. Eers toe die kinders aan die ander kant van die honger begin kla, het my sonde my bygeval. Vir daai klas kaaswors sou ek in elk geval geveg het.
Ek wonder hoeveel skaap, biltong en brandewyn het al op grensposte hande verwissel? Hoeveel geliefde poedels, hoenders en troetelvetplantjies se “paspoorte” is met ’n bottel J&B of ’n skaapboud gestempel?
Wanneer jy weer jou vakansiekar pak, smeer maar jou sonblok en bekruip die grenspos versigtig: Die man op die grens wag vir jou...
‘Ek wil nou nie taktiek uitlap nie, maar ons ken iemand wat al deur die ergste grensposte gekom het met bevrore steaks netjies in die bakkie se
deure versteek.’