Weg!

BEKYK DIE VERLEDE

-

Toe Robert Gray – toe die Biskop van Kaapstad – die St. George’s Anglikaans­e kerkie in die middedorp in 1855 ingewy het, sou hy nie gedink het ’n nasionale pad gaan 162 jaar later teen die kerkgrond verby loop nie. Die kerk is gebou op grond wat George Rex, die dorpstigte­r, geskenk het.

Vir dekades is geskinder dat die einste George Rex die buite-egtelike kind van Koning George III van Engeland was, maar meer as ’n eeu ná sy dood het genetiese toetse bewys sy bloed was nie blou nie.

Jy kan die kerkgronde besoek en die grafte in die tuin bekyk. Lede van die Thesen-familie, John Rex (die seun van George Rex wat die hoeksteen van die kerk gelê het), en selfs John Benn rus onder die kerk se akkerbome.

Die jaar 1855 was bedrywig vir Robert Gray. Behalwe vir St. George’s het hy ook die Holy

Trinity-kerk ingewy by Belvidere aan die ander kant van die strandmeer. Besoekers kry ’n kaart waarop die Gebedsroet­e aangedui is – ’n roete tussen verskeie punte op die kerkgronde vir meditasie en gebed.

Stap ná jou besoek aan die kerk deur die historiese gedeelte van Belvidere. Parkeer by die kerk – motors word nie hier toegelaat word nie.

Die Knysna-museum in Koninginst­raat het dalk skaafwerk nodig, maar stop hier as jy wil uitvind wie die grootmener­e (en mevroue) van die dorp was. Die onderskrif op een van die geraamde foto’s lui: “Robert Thornley-Jones het met Ella Thesen in die huwelik getree. 1924. Die fotograaf het ’n ekstra vinger aan sy een hand gehad.”

Die museum bestaan uit vier historiese geboue op die perseel, asook die Ou Tronk by die hoek van Koninginst­raat en die hoofstraat. Toegang is gratis, maar skenkings is welkom.

Naas die grootvoete het Dalene Matthee die diepste spore in die Knysna-woud getrap. Met romans soos Kringe in ’n bos, Fiela se kind en Toorbos het sy dié woude vir duisende lesers in die lewe geroep. Sy word gedenk met ’n monument by ’n geelhoutbo­om by Krisjan-se-nekpieknie­kplek.

Die woude het ’n ryk verlede. Hoewel die Millwood-museum (asook die Mother Holly-teetuin reg langsaan) tydelik gesluit is, kan jy steeds net verby die hek by ’n houtkapper­sbegraafpl­aas stop. Sommige grafstene het inligtings­borde wat die roerende stories vertel van die mense wat hier lê. Ander grafte is net ’n uitstulpin­g in die grond. Die Diepwalle-stasie se Forest Legends

museum is steeds oop. Die museum vertel oor die lewe van die houtkapper­s, die diere wat in die woud voorkom, en daar is ’n skelet van ’n Knysna-olifant in een van die kamers. Navorsers skat dat daar nou net drie van dié olifante in die woud wegkruip.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa