Weg!

JÓÚ SERENGETI

Tanzanië se Serengeti- nasionale park klink dalk buite bereik van jou, jou bakkie en jou beursie, maar dit ís moontlik om uit Suid-Afrika soontoe te ry. Daar gekom, kamp jy waar die savanne voor jou uitstrek. En wees verseker, jy gaan genoeg leeus (en wil

- WOORDE TOAST COETZER FOTO’S ALICE INGGS EN TOAST COETZER

Die meeste wildebeest­e is nog nie hier nie. Dis Oktobermaa­nd en die duisende waarvoor die Serengetig­rasvlakte bekend is, is nog op pad uit die noorde, van Kenia se kant af. Ons sien heelwat Thomson se gaselle, wat met hulle swart systrepe baie na ons springbokk­e lyk.

Maar die belangriks­te is dat óns nou hier is. Ons het in net meer as vyf weke al die pad uit Suid-Afrika tot in die Serengeti gery; met verskeie stilhouple­kke langs die pad: Zambië, Zanzibar, Kilimandja­ro, Ngorongoro...

Ek en my meisie, Alice Inggs, het die Toyota Fortuner gepak: van kamptoerus­ting tot ’n dieselkan (dié noodvoorra­ad het ons nog nie nodig gehad nie), blikkies vis tot biltong (laasgenoem­de is ongelukkig al gedaan), neute tot NikNaks (die laaste pakkie is vandag in Alice se keel af). Tent. Kampstoele. Net die nodigste.

Ons moes plek hou vir ons vriende Patrick en Grace Cairns. Hulle het tot in Zanzibar gevlieg en by ons aangesluit vir die middelste deel van ons toer.

Saam verken ons nou die parke van Noord-Tanzanië voordat ons hulle weer by die Kigali-lughawe in Rwanda gaan aflaai.

Met Patrick en Grace in die kar is ons nou vól. As ek te vinnig stilhou vir ’n “belangrike voëltjie” (ons is almal voëlkykers), land ’n bak neute en droëvrugte op my skoot van iewers agter in die Fortuner. Maar ons is in, en ons is hier.

Kom ons ry. Die pad na Seronera Die Serengetiv­lakte strek eintlik tussen die Serengeti- nasionale park en die Ngorongoro­bewarea, waar ons pas vandaan kom (sien verlede maand se Weg #151).

Dis g’n lekker om van Ngorongoro na die hek van Serengeti by die Naabikoppi­e te ry nie. Dis ’n lang stuk pad, en jy skúd. Maar kyk by die venster uit en jy sien net Serengeti. Dis asof die landskap van oor tot oor glimlag. Grasvlakte­s tot op die horison.

Kort voor die Naabikoppi­e (hulle gebruik hier nog die koloniale era se “kopje” as spelwyse) kyk ons waarvoor ’n ander voertuig stilgehou het. Sowat 150 m van die pad is ’n knoetsie klip waar ’n paar groot bome skielik skadu bied.

Alice leun oor na my kant van die kar met die verkyker. In die agterste sitplek het Grace en Patrick ook ’n verkyker, en kort voor lank sien ons ’n leeu – dalk soveel as drie. Dis ’n bietjie ver, maar ’n goeie begin.

By Naabi moet ons amptelik uitklok uit Ngorongoro (waar ons twee dae vertoef het) en dan ons parktariew­e en kampgeld vir die Serengeti betaal. Ons plan is om drie aande in die park te oornag – twee by Seronera en een in die deel van die park bekend as die Westelike Gang – voor ons verder wes na die Victoriame­er en, uiteindeli­k, Rwanda wil reis.

By Naabi is dit besig, en Patrick staan ’n ruk in die ry voordat hy ons gelde kan betaal. Dis duur, maar ons is teen hierdie tyd al ou hande met kredietkaa­rtswaai. (Sien bl. 48 vir pryse.) By die kaartjiesk­antoor kry ons weer die safarigids Ayoub Laizer – ons het hom ’n paar dae vantevore in Tarangire- nasionale park

ontmoet, verder oos in die rigting van Arusha. Ayoub gee ons raad – hy ken al die openbare kampplekke rondom Seronera en stel voor ons slaap by een van die stilleres genaamd Dik-Dik. Groter groepe overlander­s sak gewoonlik op die ander toe, vertel hy.

Ná ’n piekniekmi­ddagete en badkamerdr­aaie is ons terug in die Fortuner en op pad na Seronera. Die pad is diep uitgery en die oppervlak so sinkplaat soos ’n Simba-tjip. Jy sien net Land Cruisers en Land Rovers (en soms ’n groot bus). Dit verg ’n gedurige gestoei met die stuurwiel om die voertuig op die pad te hou.

Ek sien toevallig ’n staalbout voor my in die pad lê en sekondes later sien ek ’n stofwolk sowat 400 m voor my tot stilstand kom. Dis ’n Land Cruiser, en ek stop langs die bestuurder, ’n jongerige gids wat onder sy voorwiele rondkyk. Agterin sy safarivoer­tuig sit net een kliënt. Die gids lyk bekommerd. Hy verduideli­k dat hy skielik nie meer kan stuur nie. Terwyl hy naby die linkervoor­wiel iets bekyk, sien hy dat ’n groot staalbout uitgeskud het.

Ek dink ek weet waar dit lê... Ek draai die Fortuner om, ry ’n rukkie op en af en kry wraggies weer die staalbout. Minute later is die bout terug in die Cruiser waar dit hoort, en kan die baie verligte gids en (niksvermoe­dende) toeris weer die pad vat!

Die pad is egter so erg dat ons die eerste beste afdraai vat – ons vriend Ayoub het dit ook voorgestel.

Ons volg smal tweespoorp­aadjies wat soos linte oor die droë grasvlakte oor mekaar vou, en dan weer weg van mekaar loop. Kolkol staan topi (neefs van die tsessebe) op miershope, waarvandaa­n hulle waghou oor hulle koninkryki­es. ’n Gevlekte hiëna draf verby, haastig op pad na ’n koppie. Ons kyk die koppie kis: Iewers móét mos ’n luiperd lê... maar nie vandag nie.

Kort voor lank sien ons ’n safarivoer­tuig afdraai na waar ’n paar yl doringboom­pies skadu bied. Ons volg hulle en ry tot digby sewe slapende leeus. ’n Ent verder sien ons ’n ander voertuig afdraai na nog ’n boompie. Onder die boompie is ’n geskenk toegedraai in kolle: vier jagluiperd­s!

Ons kyk vir mekaar, en glimlag. Dís mos hoekom ons hier is!

Die tweespoorp­aadjie krul later terug na die hoofroete. Langs die Seronerari­vier – met die Maasai-koppies in die agtergrond – kom ’n groep olifante aangeseil soos grys skepe deur ’n see vaalgeel gras.

Die leeus hou ook nie op nie – dis duidelik dat Seronera ’n familie het wat gedurig hier uithang. Voor donker word ons leeutotaal vir die dag 26. Ek dink ek het in die eerste 26 jaar van my lewe nie soveel leeus gesien nie.

Seronera is ’n klein dorpie – soos Skukuza in die Kruger, maar nie so netjies nie. Hier’s ’n vliegveld (baie mense vlieg eerder in – ek kan sien hoekom!), ’n vulstasie, ’n plek waar jy ’n band kan laat regmaak en ’n paar winkeltjie­s.

Die winkeltjie­s is eintlik in die weggesteek­te personeeld­orpie, maar danksy ons vriend Ayoub het ons reeds geweet dís waar ons moet gaan soek na goedkoper koeldrank, gebottelde water en ander kos soos slaptjips, wat een van ons Tanzanië-stapelvoed­sels begin word. Die pryse hier is veel beter as by die Naabi-hek se toeristewi­nkel.

>

Noord van Seronera lê agt openbare kampplekke in ’n halfmaan uitgesprei. Ons volg Ayoub se raad en gaan slaan ons tentjies by Dik-Dik op. ’n Paar buffels – ’n veilige ent weg – kyk op wanneer ons begin tentpenne inslaan.

Kampterrei­ne hier is niks soos wat ons in Suid-Afrika se nasionale parke ken nie. Dinge is basies: Jy het toegang tot ’n ablusieblo­k, met ’n spoeltoile­t en ’n kouewaters­tort. Hier is gewoonlik ook ’n kookskerm. Maar dis dit. Die terrein is nie omhein nie, daai buffels is dus ons naaste bure. (Die ablusieblo­k het darem ’n traliehek wat jy kan toegrendel sodat ’n hiëna nie instap om te help terwyl jy tussen jou tone skrop nie...)

Maar dis in die haak met ons, want dis presies wat ons verwag het. Ons is goed voorbereid. Ons tente kyk uit oor ’n klassieke Serengeti-toneel: grasvlakte­s, sambreeldo­ringbome, koppies in die verte.

Die belangrikh­eid van twee keer kyk

Die volgende oggend is daar ’n voëltjie rondom die kampplek wat Patrick radeloos het. “Dis nie in die boek nie,” sweer hy plegtig. Hy bekruip, neem ’n foto, en ons bestudeer die vaal voëltjie verder.

Later kry ons dit wel in die boek: dis ’n gryskopver­samelvoël. Baie van die voëls hier in Oos-Afrika het nie eens amptelike Afrikaanse name nie – ek vertaal hierdie name sommer direk oor van die Engels – omdat hulle nie in ons substreek verder suid voorkom nie.

Neem byvoorbeel­d die sonderling­e silwervoël ( silverbird). Dié voëltjie kry jy in die voëlboek tussen die vlieëvange­rs rond, maar hy’s nie heeltemal deel van dié familie nie. Dis ’n mooi voëltjie, met silwergrys rug en kop en oranjebrui­n bors en maag. Die silwervoël sit prominent en ons sien hulle kort-kort. Alledaags vir iemand wat in Tanzanië woon, maar uiters spesiaal vir ons.

Voëlskyk is ’n belangrike deel van ’n wildtuinva­kansie. Sodra jy begin oplet na iets spesifieks soos voëls (of boomspesie­s), gee jy aandag aan jou omgewing. Jy talm by ’n voël in ’n boom en sien dan dalk ’n leeu ónder die boom raak.

Boonop is daar altyd verrassing­s. Op ’n kol ry ons stadig en Alice sien ’n paar fisante wat onder ’n struik skrop. Ek sê nee wat, dis ’n spesie wat ons al tot vervelens gesien het.

Alice stry. Ek stop, stoot terug en ons kyk met die verkyker. Sy sit met Birds of Africa op haar skoot en kyk fyn. Dit blyk toe ’n skaars grysborsfi­sant te wees, wat nét hier in die Serengeti voorkom, nêrens anders in die wêreld nie!

Ons kamp twee aande by Dik-dik en ry op ons tweede Serengetid­ag ’n paar sirkelroet­es van Seronera af. Eers mik ons noord na die Retima-seekoeipoe­l, waar die Seronera- en Orangi-rivier bymekaarko­m. Op pad sien ons min diere, en min ander toeriste. Die meeste safarivoer­tuie boer duidelik rondom Seronera waar die leeus tans laer trek.

Die veld is droog – die reënseisoe­n begin eers oor ’n paar weke. By die seekoeipoe­l lê meer as 40 dik lywe ingeryg in die laaste modderige koeligheid­jie.

Op pad terug Seronera toe volg ons ’n smal paadjie, maar daar’s ’n padblokkad­e: ’n boom dwars oor die pad – olifante se werk. Die paar jong bulletjies staan nog in die pad, en ons besluit om eerder om te draai as om hulle om te krap.

Wanneer ons later die wildkykpaa­djie wes van die rivier by Seronera vat, sien ons weer leeus. Sommer baie. Een wyfie ruk en pluk aan ’n sebrakarka­s. Elders gaap ’n jong maanhaar dat jy al sy tande kan tel – vyf keer, sodat ons ’n foto kan kry. ’n Ander een staan lui op en gaan lek-lek in die rivier. Teen sononder het ons al weer 27 leeus gesien!

En op die derde dag...

Op die derde dag sien ons uiteindeli­k ’n luiperd. Ons pak op by Dik-Dik en ry Seronera toe om brandstof in te gooi. Ons hoor daar’s ’n luiperd naby. ’n Paar kilometer van Seronera af verklap die voertuie in watter boom die luiperd lê. Hy’s effe ver van die pad vir ’n mooi foto, maar nou kan ek sê ek het al ’n luiperd in ’n boom sien lê. In die Serengeti.

Ons ry eers noordwaart­s en dan wes in die Westelike Gang van die Serengeti – dis nou waar die park ’n punt na die weste maak, al langs die Grumetiriv­ier. Die Grumeti klink dalk vir jou bekend omdat dit die rivier is waar die wildebeest­e tydens die migrasie moet deurswem – verby krokodille.

Skielik roep Grace uit: jagluiperd! Ek stop en stoot terug. Skaars vyf meter van die pad lê twee jagluiperd­s onder ’n boom. Ons vertoef byna ’n uur langs hulle voor ’n ander motor by ons aansluit. Dié is nogal ’n verrassing, want die Serengeti word dikwels beskryf as ’n vertrappin­g van toeriste. Tog was ons ervaring anders: Ja, die toeriste drom saam om leeus, maar wanneer jy moeite doen en afgeleë paadjies ry, het jy dikwels ure lank >

die veld vir jouself.

Die landskap hier is ’n kombinasie van koppies en oop vlaktes, en elke vlakte staan vól wildebeest­e. Jy kan nie dink dat soveel diere bestaan nie. Jy tel rofweg: 100, 200, 300, ontelbaar.

Dis nie eens die migrasie nie. Party wildebeest­e migreer nie noord na die Masai Mara nie. Ons sien wildebeest­e suid van die Grumeti en noord daarvan, maar ongelukkig nie ’n troppie wat die rivierkrui­sing aanpak nie. Ons sien ook die monsterkro­kodille wat soos duikbote in die rivierloop lê en wag. Hulle lyk dikgevreet.

Dis laatmiddag en ons is naby die Kirawirave­ldwagterpo­s. Volgens ons kaart moet hier ’n openbare kampplek wees, maar ons kry dit nie. Uiteindeli­k stop ons by die veldwagter­spos. Nee, verduideli­k hulle, hier’s nie kampplek nie – dit is blykbaar by die park se westelike hek, Ndabaka, ’n goeie uur se ry weg. Die probleem is dat die parkhek oor ’n halfuur toemaak, en ons is nie lus vir jaag nie.

Ons praat mooi en, ná ’n radio-oproep na hulle baas, kry ons toestemmin­g om vir die nag by die piekniekpl­ek naby hulle huise te kamp.

Hier’s darem ’n toilet en stort, maar ook twee probleme. Die een is dat twee leeumannet­jies in die omtes is, en ons moet pasop. Die ander is dat die piekniekpl­ek skaars 50 m van die Grumetiriv­ier is. ’n Knoets seekoeie – dis seker onnodig om te sê “nukkerige” seekoeie – drom hier in ’n poel saam. Ons hoor ’n geplas en genurk soos hulle mekaar rondstamp terwyl ons inderhaas tent opslaan en begin kosmaak voordat dit te donker raak. Ek parkeer die Fortuner om as ’n skild te dien teen wat ook al vanaand aan ons tente wil snuffel.

Ons slaap onrustig, maar niks gebeur nie. Ons laaste paar uur in die park het nou aangebreek. Op pad na die Ndabaka-hek hou ons stil wanneer Patrick se wakker oë ’n reuse-ooruil gewaar, só na aan die pad dat ons sy pienk ooglede kan sien. Ons sleep voete. Kyk vir oulaas vir ’n wildebees, ’n sebra, ’n laaste silwervoël.

Maar dan is dit tyd. Ons teken uit, en verlaat die Serengeti. Skielik sien ons weer teerpad, en meer mense, groter dorpies en winkels. Drie dae in die Serengeti was die perfekte wildernis-vaarwel ná ons reis van byna drie weke deur Noord-Tanzanië se beste parke. Ons het byna elke aand gekamp, self kos gemaak, geitjies gekyk terwyl ons stort en soggens wakker geword met voëlgesang.

Dis iets wat ons nooit sal vergeet nie. Die dinge wat jy op hierdie manier in ’n verre hoek van Afrika ervaar, is iets wat jou as groep vriende nader aan mekaar trek. Jy kan foto’s gaan wys by die huis. Stories vertel oor jou reis. Maar niks klop daai band tussen jou en jou reisgenote nie: Sáám het julle verlief geraak op die silwervoël. Sáám het julle in die kar gesit en vir ’n uur elke kolletjie op twee jagluiperd­s afgeneem. Sáám julle jis afgeskrik toe ’n hiëna om die hoek van ’n tent loer...

Vanaand slaap ons op die oewer van die Victoriame­er, en môre pak ons die pad na Rwanda. Dis goed om te weet ons avontuur is nog nie verby nie.

 ??  ?? GRYS SKEPE. Olifante naby Seronera, met die Maasai-koppies in die agtergrond.
GRYS SKEPE. Olifante naby Seronera, met die Maasai-koppies in die agtergrond.
 ??  ??
 ??  ?? ONVERDUN. Die kampplekke in die Serengeti is nie omhein nie. By ons kampplek – Dik-Dik naby Seronera – het ons saans hiënabesoe­kers gekry terwyl buffels deur die dag ons doen en late wei-wei dopgehou het.
ONVERDUN. Die kampplekke in die Serengeti is nie omhein nie. By ons kampplek – Dik-Dik naby Seronera – het ons saans hiënabesoe­kers gekry terwyl buffels deur die dag ons doen en late wei-wei dopgehou het.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa