Weg!

Kyk gorillas in die Kongo

Die Kongo is nie elke ou se idee van vakansie nie. Maar die Virunganas­ionale park in die ooste van die land is wrintiewaa­r ’n bestemming vir avontuurlu­stiges: Hier kan jy binne ’n naweek berggorill­as bekyk én ’n vulkaan uitklim.

- WOORDE EN FOTO’S TOAST COETZER

Opwindende reise begin soms doodgewoon. Vrydagogge­nd vroeg tel ’n taxi my op voor my gastehuis in Gisenyi, Rwanda. Die grenspos is net minute se ry weg. Daar aangekom, sien ek gou waar die ander toeriste rondstaan wat hier is om dieselfde rede as ek. Party is Russe, te oordeel na hulle tongval.

Ander mense in die ry werk vir nieregerin­gsorganisa­sies in Goma, die groot Kongolese dorp wat net anderkant die grens lê. Huishuur is glo goedkoper in Rwanda, daarom woon baie mense in Gisenyi en pendel elke dag Kongo toe. Een dra ’n arm vol snyblomme – dalk verjaar iemand op kantoor vandag.

Dit sou net nog ’n doodgewone grenskruis­ing kon wees, maar die Demokratie­se Republiek van die Kongo is nie ’n gewone bestemming nie. ’n Vliegtuig dawer verby, en toe ek opkyk, sien ek dis ’n Rooikruisv­liegtuig. Een van die Virunga- nasionale park se netjiese Land Rovers (met die kenmerkend­e gorilla-embleem op die deur) staan onder ’n wildevy en ’n gids is hier om ons deur die grens te help.

Ek het drie dae in die Kongo. Vandag gaan ek berg Nyiragongo uitklim, oorslaap, en Saterdagmô­re afstap. Saterdagaa­nd slaap ek in ’n hotel in Goma en Sondag vroeg ry ek uit na die deel van die park waar ek berggorill­as gaan kyk – dan glip ek weer oor die grens terug Rwanda toe.

Dit klink eenvoudig. Maar kom ons begin by Nyiragongo, want dis nie ’n gewone berg nie. Dis ’n vuurspuwen­de berg. Ja, vanaand slaap ek op die rand van die pruttende lawapot.

Hierdie is een van die dinge wat ek nie vir my ma vertel het toe ons laas oor die foon gesels het nie...

Die onvoorbere­ide Russe

Ons wag ’n uur by die grenspos voordat die regte amptenaar opdaag om ons paspoorte te stempel. Die Russe het ’n probleem, want hulle wou vandag gorillas kyk. Maar die gorilladee­l van die park is twee uur se harde Land Rover-ry van Goma af, en hulle sal nooit betyds opdaag nie.

Dié dilemma word in ’n Babelse verwarring in die parkkantoo­r op die dorp uitgesorte­er. Almal vergader eers hier en kry permitte: Ek kry een vir vulkaankli­m en een vir gorillas.

Die Russe is honger en gaan koop blikkiesko­s by ’n winkel oorkant die straat. Hulle het nie ’n oopmaker nie. Ek haal my

mes uit en wikkel ’n blik Weense worsies vir hulle oop.

Gelukkig is hier ’n Amerikaner genaamd Galt saam met die Russe (hulle is toevallig op dieselfde toer). Galt MacDermot vertaal vir hulle wat aangaan, want hulle Engels is power en hulle Frans nul (Frans is wat jy hier nodig het). Die Russe besluit om eerder ook vulkaan te klim. Almal klim weer in Landies en ons vat die pad.

Energievla­kke in Goma blyk tien keer hoër te wees as net anderkant die grens in Rwanda. Dit raas meer. Mense lyk haastiger. Winkeltjie­s se naamborde lyk helderder.

Skud-skud uit die Landie sien jy selfoonwin­kels, haarkapper­s, klerewinke­ls (“Atelier Couture”), ’n geel Simba-bierbakkie, iemand wat beddens maak, mense wat hopies piesangs verkoop, of graan wat jy uitskep uit plastiekba­kke, sweiswerke­ry, ’n emmer vol suikerriet­stukkies, ’n hoop hout, ’n rak vol helderkleu­rige kangas, ’n houtskoold­epot, informele slaghuise (“boucherie”).

Motorfiets­ryers dra ’n valhelm. Tussen die moderne voertuie stoot jong mans ’n soort houtfiets – dit word chukudu genoem – wat gebruik word om swaar vragte planke, bakstene, eintlik enigiets, te vervoer. Die chukudu is deel van die kultuur – elke jong man wat wil vrou soek, móét een hê. By een verkeersir­kel in Goma staan selfs ’n chukudu- monument.

Soos ons die buitewyke nader, word die huisies kleiner, en elke erfie het ’n klipmuur van vulkaniese klip. Ons ry verby ’n Verenigde Nasies-voertuigwe­rf, waar wit padskraper­s, vragmotors en enige ander wit voertuig wat lyk asof dit in ’n vredesendi­ng van nut sou wees, rondstaan.

Dan val die dorp se geroesemoe­s weg en ons ry die geilgroen platteland in.

Waar’s die Deep Heat?

Nyiragongo is 3 470 m hoog en troon uit bo die landskap sowat 20 km noord van Goma. Direk agter Nyiragongo is Nyamulagir­a, ook aktief. Kenners reken egter dat hulle kan voorspel wanneer Nyiragongo ongeskik raak, daarom word staptoere in “veilige” tye – soos nou – aangebied.

By Kibati aangekom, ontmoet ek ons gidse, asook die res van die stapgroep wat meestal bestaan uit buitelande­rs wat in Rwanda of die Kongo werk. Hier’s portiere, maar synde ek net ’n klein 28 liter-rugsakkie dra, wys ek die aanbod van die hand. ’n Fout, sou ek weldra agterkom. Al die ander stappers betaal die ekstra dollars vir ’n portier.

Dit is belangrik om teen tienuur die oggend in die pad te val, want jy moet voor donker by die kamp bo-op die berg uitkom.

Vir eers stap ons deur bedompige reënwoud, met groot bome en digte plantegroe­i wat rondom ons vleg – hier hou nog sjimpansee­s. Dan verlaat ons die woud en die terrein is oper. Dit is oper omdat hier in 2002 ’n hengse stroom lawa uit die kant van die berg gepeul, die woud platgestoo­t het, spoed opgetel en toe dwarsdeur Goma gestorm het – en eers in die Kivumeer sissend tot ruste gekom het. Inwoners moes vlug, en duisende geboue is vernietig.

Waar dit eers modderig was onder my stapstewel­s, is hier nou ronde, poreuse vulkaankor­rels van gholfbal- tot ertjiegroo­tte: puimsteen. Wanneer ’n donderbui losbars, trek ek my reënjas en -broek aan. Die Russe is minder voorbereid. Een van hulle dra ’n soort plakkie, en al sy goedjies in ’n plastieksa­k – hy lyk soos ’n drenkeling. Tog hou die Russe se gees, en hulle skerts kort-kort onder mekaar.

Een van die veldwagter­s, Jean-Louis

‘Ek begin sukkel met krampe, en later moet ek kortkort my bobene masseer voordat ek hulle verder teen die berg kan oplig. Maar wat kan ek doen? Hoop dat een van die VN se wit helikopter­s my sal kom oppik?’

Mutsomani, roep halt wanneer ons ’n groot gat langs die voetpad bereik. Hier, verduideli­k hy, het die meeste van 2002 se lawa uitgestroo­m.

Die reën het opgehou en die lug is koeler. Uit die gat styg ’n rokie, asof ’n boemelaar iewers daar onder woon en nou ’n vuurtjie aangesteek het.

Die paadjie loop reguit op teen die hang van die vulkaan, en dit word nou steiler. Ek begin sukkel met krampe, en later moet ek kort-kort my bobene masseer voordat ek hulle verder teen die berg kan oplig. Maar wat kan ek doen? Hoop dat een van die VN se wit helikopter­s my sal kom oppik?

Die portiere stap agter in die konvooi, en héél agter stap die ander gids, Jean-Paul Gasore. Hy dra ’n AK47 en praat nie eintlik Engels nie, maar sien my penarie en wag geduldig wanneer ek rus.

Die kraterrand is toe onder die mis en dit voel asof ons vir ewig gaan klim. Twee van die Russe sukkel saam met my. Voetjie vir voetjie, probeer ek beduie. Die groep is stil, almal is moeg.

“Bound by wild desire,” hoor ek vir Johnny Cash in my kop, “I fell into a ring of fire...”

Dan word die spitsdakke van ons oornaghutt­e sigbaar, en uiteindeli­k die rand van die krater. Ek het nou sowat 1 480 m hoogte gekry sedert die beginpunt van ons stap vanoggend. Gelukkig het die hoogte my nog nie begin kopseer gee nie.

Die lug ruik na swael, en ’n bietjie na gebrande baard. Ek kry ’n leë hut en bêre solank my rugsak, en klim dan die laaste 20 m.

Deur die mis en rook sien ek dit: Doer ver onder, sowat 400 m van waar ek sit, gloei die pruttende vulkaan.

Namate dit donker word, klaar die mis op en begin die werklike skouspel. Die lawapoel – die grootste van sy soort ter wêreld – is nie staties nie. Elke paar sekondes breek die oppervlak in ’n ander legkaart op. Dit hervorm, roer, knipoog vir jou. Maar meestal grom dit vir jou. Dit klink byna soos ’n ruisende, dreigende see.

In die verte, ander kant toe, flikker die liggies in Goma en Rwanda. Hierdie moet een van die mooiste plekke in die wêreld wees. Dis net ’n jammerte dis nie juis die veiligste land nie. Op pad op het ons ’n slag veraf masjiengew­eervuur gehoor. Jean-Louis het gesê dis seker net ander veldwagter­s wat onwettige houtmakers wegjaag. Maar wie weet?

Ek draai weer vulkaan se kant toe. Vrydagaand in die Kongo, en hier’s net een kanaal op TV: vulkaankyk.

“I fell into a burnin’ ring of fire, and I went down, down, down...” >

Stoksielal­leen op ’n Saterdagaa­nd

’n Mens wil heelnag na die vulkaan kyk – dis hipnoties – maar omdat dit so koud is (dit kan sneeu), kan jy hipotermie kry. Ek het ’n ruk lank saam met die kosmaakspa­nnetjie om hulle vuurtjie gesit en tee drink en toe gaan lê – stokflou en uitgeput.

Vroegdag lê die wêreld onder ons weer so volmaak soos ’n halfuur die Skepping in. Wie sou kon raai dat dit die Kongo is? Ek dink aan almal wat in die afgelope dekades in hierdie deel van Afrika swaargekry het – die meeste mense hier ken geen ander tyd as een van burgeroorl­og nie.

Die weer bly goed al die pad ondertoe, en ons stap versigtig om nie op die los puimsteen te gly nie. Onder gekom, groet ons mekaar. Die Russe en hulle Amerikaans­e vriend Galt wil ook Sondag vroeg gorillas gaan kyk. Hulle moet egter teen dieselfde aand terug in Kigali, Rwanda se hoofstad, wees om ’n vlug te haal. Hulle sny dit fyn.

Vir eers kan ek uitsien na ’n ruskans in Goma. Die Land Rover laai my af by Hotel Cap Kivu langs die Kivumeer waar ’n paar mak mahemkraan­voëls in die tuin rondloop. By ontvangs saai ’n TV-skerm Europese sokker uit, en die sekerheids­wag staar na sy foon. Dis amper teleurstel­lend: Vanoggend nog het ek in die gorrel van ’n vulkaan afgekyk; hier onder lyk die voorportaa­l so normaal soos ’n Town Lodge in Midrand. In my kamer tap ek ’n warm bad. My bobene voel asof Morné Morkel my tien keer raakgeboul het.

Dis tyd vir eet, en hoewel dit die middel van die middag is, gaan sit ek aan in die andersins verlate eetkamer. Kort voor lank land ’n koue Simba Lager voor my, en later geurige hoender en skyfies. Op die TV flikker beelde van Trump, enkele dae voordat hy die Amerikaans­e verkiesing sou wen. Ja, ou Donald, wat het jy vandag gedoen? Ék het ’n vulkaan geklim...

Gorillas (en hulle mis)

Die Virunga- nasionale park se Landie kom pik my douvoordag by die hotel op. Goma se Sondagogge­ndstrate is stil. By Nyiragongo borrel rook uit, maar dis niks ongewoons nie – dis soos Tafelberg wat soms jas dra.

Ons ry noordwaart­s verby Kibati. Ek sien gehawende vragmotors swaargelaa­i met sakke houtskool, soldate met bandoliere vol koeëls oor die skouer, kinders met roetswart klere, vodde. Die grond is amper swart hier – vulkaniese grond.

By Rumangabo draai ons af en die pad kronkel teen berghange beplant met boontjies uit tot by Bukima waar die kantoor is. Bo ons troon ander vulkaanpie­ke uit: Mikeno (4 437 m), Karisimbi (4 507 m) en Visoke (3 711 m). Ek asem in: Die aarde hier ruik na rook, plante en nat grond.

Galt en die Russe is reeds hier – ons kry ons lesing by die gids voordat hulle haastiger groep een rigting inslaan, en ons ’n ander. (Hulle sou toe wel later hulle vlug in Kigali haal – met 15 minute speling.)

Hier is agt berggorill­afamilies in die Virunga- nasionale park wat besoek kan word. Die een waarheen my groep van vyf toeriste stap, word Nyakamwe genoem, na die silwerrugm­annetjie wat die septer swaai oor dié familie van elf.

Ons veldwagter en gids, Richard Katsala, het ook opwindende nuus oor die radio ontvang – die spoorsnyer­s wat by Nyakamwe was vanoggend, het laat weet dat daar oornag ’n babatjie gebore is!

Eers stap ons verby veewagtert­jies en hulle beeste, bokke en skape. Die grond is nat, maar ons vorder goed oor die kaalgevret­e graslandsk­ap. Sowat ’n uur later bereik ons die plek waar ons die woud – en die park – binnegaan. Nou stap ons moeiliker, en wanneer ons steil stukke uitklouter, moet ’n mens vashou aan boomwortel­s en takke om nie in die modder te gly nie.

Dis bedompig en die weer dreun. ’n Mens kry die gorillas bo ’n sekere hoogte in die woud waar hulle geliefde kos – bamboes – groei. Veldwagter­s hou die gorillas dop sodat jy nie hoef te soek nie – jy word direk na die betrokke familie gelei, maar dis altyd ’n stywe stap.

Gorillapro­tokol word vooraf verduideli­k: Jy moenie te na aan hulle kom nie. Indien een wel verby jou stap, vermy oogkontak. Veral met die silwerrug soek jy nie skoor nie. Jy bly gebukkend, eerbiedig, asof in die hof van ’n vreemde koning.

Almal kry ook ’n mondmasker wat gedra moet word in die teenwoordi­gheid van die gorillas sodat ons nie ’n soort griep oordra aan dié uiters bedreigde diere nie.

Dis nou sulke tyd. Richard wys dat ons ons maskers moet opsit, en binne my begin die opwinding klop. Ons is naby. Richard kap ’n paar slap ranke af en – siedaar! Twee jong gorillas skuifel weg van die ongenooide gaste, terug in die muur van groen.

’n Paar meter diékant toe en hier sit pa Nyakamwe en sy hele kroos. Dis eintlik >

meer van ’n gelê. Nyakamwe is op sy rug en maak skaars ’n oog oop wanneer ons met klikkende kameras by sy sitkamer instap. Muggies dwarrel in ’n warm mis om ons rond. Dinge ruik na gekneusde plante en aapmis (ek kyk eers alvoor ek trap).

Dis aanvanklik oorweldige­nd. Ek neem foto’s, maar probeer ook net kyk na die toneel voor my. Mense kom van regoor die wêreld, en spandeer duisende om vir ’n uur lank te kom kyk na hierdie spesie wat oor ’n honderd jaar (of ’n dekade) dalk nie meer met ons gaan wees nie. Dis asof jy jouself wil herinner aan al die menslike vergrype wat die diereryk seermaak.

Tog, soos met die geboorte van Nyakamwe se nuwe telg wat ons aan sy moeder sien teug, is daar hoop. Solank die owerhede van die Kongo, Rwanda en Uganda die sin sien in die bewaring van hierdie diere, is daar hoop.

En dan is daar die mense hier in die bos. Veldwagter­s soos Richard wat dag in en dag uit veg om hierdie park as veilige hawe vir gorillas te hou. Dis nie maklik nie, want hulle is self in die visier van stropers en rebellesol­date – meer as 150 veldwagter­s is oor die afgelope dekade in Virunga vermoor.

Wanneer ons die gorillas later in vrede laat, wegstap en ons maskers afhaal (en papsopnat reën), stap ek met bewonderin­g in my gedagtes vir ouens soos Richard, Jean-Paul en Jean-Louis. Toeriste vlieg heen en weer en vergeet later by die huis dalk die helfte van wat hulle in ’n plek soos Virunga gesien het.

Dit is ons plig om nié te vergeet nie. Nie te vergeet van die lot van die berggorill­as nie, en nié te vergeet van die werk van die veldwagter­s nie.

Op pad terug grens toe hou ek op foto’s neem uit die hoppende Landie – ek’s bang die kamera gee my ’n blouoog. Die afgelope naweek was dol – en duur – maar ek is bly ek het dit gedoen. Wanneer Goma weer in die nuus is, sal ek dit kan verstaan as ’n plek met mense, nie net ’n kolletjie in die deurmekaar hart van Afrika nie.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? DAGDROME. Die Nyakamwe-berggorill­afamilie bestaan uit 12 individue. Hulle is een van 8 familiegro­epe wat deur toeriste besoek kan word in die Kongo se Virunga- nasionale park. Net sowat 880 berggorill­as oorleef nog in die bergwoude van die Kongo,...
DAGDROME. Die Nyakamwe-berggorill­afamilie bestaan uit 12 individue. Hulle is een van 8 familiegro­epe wat deur toeriste besoek kan word in die Kongo se Virunga- nasionale park. Net sowat 880 berggorill­as oorleef nog in die bergwoude van die Kongo,...
 ??  ??
 ??  ?? HOU MY SITPLEK WARM... Die kraterrand van Nyiragongo is ’n goeie plek om seker te maak jy staan stewig voordat jy vir jou selfoonske­rm glimlag. Dit is só steil hier dat daar selfs ’n tou is waaraan jy kan vashou wanneer jy bult-af toilet toe stap. Die...
HOU MY SITPLEK WARM... Die kraterrand van Nyiragongo is ’n goeie plek om seker te maak jy staan stewig voordat jy vir jou selfoonske­rm glimlag. Dit is só steil hier dat daar selfs ’n tou is waaraan jy kan vashou wanneer jy bult-af toilet toe stap. Die...
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa