Weg!

NAMIBIË

Namibië is nie sommer net nog ’n plek nie. Dis ’n land waar jy tussen sy hartlike mense, vrygewige grondpaaie en oordondere­nde landskappe genoeg armswaairu­imte kry dat jou binneste ’n slag kan stil raak. Elke nuwe reis hier los ’n jaarkring vir wanneer jy

- FOTO’S EN WOORDE TOAST COETZER

Ons buurland is ’n plek waar ’n mens se binneste weer ’n slag stil kan raak, skryf Toast Coetzer.

Vanmôre groet Namibië ons swierig met die eerste sonstrale wat die wolke bo die kranse aan die oorkant van die Oranjerivi­er oranje verf. Dit lyk amper soos die noorderlig­te – die auroras. Maar ons is net hier by Noordoewer, die grenspos wat jou inlaat Namibië toe as jy van die Kaap se kant af reis. ’n Reënboog dans die prentjie binne, en almal haal selfone uit en begin foto’s neem.

Ek is hier saam met Rey Janse van Rensburg, ’n bekende 4x4-gids van Springbok. Rey reël een keer per jaar ’n toer na die Kaokoveld en het my genooi – vir die volgende 15 dae sit ek links voor saam in sy Cruiser.

Die plan lyk só: Eers haas ons met die hoofweë noorde toe, na die Kunene, dan raak ons handgemeen met die Kaokoveld se skurwer kant. Op pad terug draai ons vlugtig in Swakopmund (“Een eisbein, dankie!”) en Sossusvlei voordat ons weer Springbok toe ry.

Die meeste van die toergroepl­ede ry saam uit Springbok, maar ons kry enkeles later vandag in Windhoek, en môre – wanneer ons al in Ruacana gaan wees – kom die laastes by. Dan sal ons 8 voertuie en 20 mense wees.

Die Land Cruiser vat die lang opdraande na Grünau.“Ons het al 400 m geklim van die grenspos af,” sê Rey en wys na die GPS. Dis egter ’n opdraande wat ’n ou met plesier ry. In hierdie vlaktes, vanjaar grasgeel tot op kuithoogte, lê soms ’n ronde rots, agtergelaa­t deur ’n gletser uit ’n vorige era. Woestynber­ge, die Amib, maak skurwe kamme in die rigting waar die Visrivierc­anyon versonke lê.

Grünau verby, wind-in, Keetmansho­op vir tenk volmaak en Wimpy-koffie. By die Engen loop ek my niggie raak wat in Grootfonte­in woon. Namibië is só: Jy loop kennisse raak of maak padlangs nuwe vriende, en dít weef jou Namibië-storie sterker.

Party mense ken die land van grensoorlo­gdae. Ander ken Suidwessto­ries uit ouma se album met vergeelde foto’s van ’n Etoshawate­rgat waaruit olifante vir ewig water drink. Ander ken die land dalk net as dít wat Namibië vandag vir Suid-Afrikaners inhou: ’n bekostigba­re vakansiebe­stemming, veilig en maklik om op eie stoom te verken, of jy nou ’n 4x4 ry of nie.

As jy nie bekende mense langs die pad ontmoet nie, is dit dalk van die plekke wat vir jou soos ou vriende voel: ’n Herontmoet­ing met ’n Sossusduin (wat dalk net ’n meter geskuif het sedert jy laas in 1980 hier was), of ’n blye weersiens van die Brandberg op die horison.

Dan is daar die nuwe paaie – paaie waar jy laaskeer moes verbyry. Elke nuwe reis na Namibië gee vir jou die geleenthei­d om nuwe hoekies te verken. En dís hoekom ek so opgewonde is, want hierdie slag gaan ons dele van die Kaokoveld sien waar ek nog nooit was nie.

En as dit jou eerste besoek aan Namibië is, hoe voel dit? Dit voel soos om familie te ontdek wat jy nooit geweet het jy het nie. Nice familie.

Na die noorde in ’n Cruiser

“Cold dawn must find me in the Kaiserstra­sse with my sleeping-bag and rough desert clothes and five hundred cigarettes.” Só skryf Lawrence Green in sy 1952-boek Lords of the Last Frontier, waarin hy ’n reis na die Kaokoveld beskryf. Deesdae hoef jy darem nie al jou sigarette reeds in Windhoek te koop nie, maar vir die Kaokoveld moet jy steeds voorbereid wees.

Vandag se padnetwerk (teerpad tot teen die Kunenerivi­er) maak dinge wel makliker as in Green se tyd. Ons staan vroeg op by die Monteiro-kamp, drink koffie, hap beskuit en ry deur Windhoek voordat die verkeer wakker is. In Okahandja koop die konvooi Piet se Biltongpad­stal omtrent leeg, en op Outjo stop ons vinnig om ’n boomboek te koop. Die veld is vanjaar ’n fees, en ek en Rey wil seker maak die toergroep weet na watter bome ons kyk. Ons ry vér: 950 km gister, 850 km vandag. Die laaste twee voertuie sluit in Ruacana by ons aan, en teen sononder ry ons die dorp uit en kry met laaste lig ’n uitsig oor die Kunenerivi­ervallei: Dit lyk dadelik na ’n plek wat avontuur inhou.

Die volgende vier dae kamp ons op die rivieroewe­r: vanaand by Omunjandi onder hardekool- en jakkalsbes­siebome (dis nog wild hier – oor Paasnaweek wou ’n krokodil die eienaars se hond vang...), môre in die middel van nêrens wes van Swartboois­drift waar Himbaboktr­oppe die enigste verkeer is, dan twee aande by Epupa Falls Lodge & Camp met die dreuning van die water in ons ore, en die makalanipa­lmtakke wat saans die sterreheme­l bo ons verspleet.

In die maanlig by Epupa

Die Kaoko-witgat (by die Dorslandge­denkteken op die hoogte wat oor Swartboois­drift uitkyk), ghabbabos (’n alomteenwo­ordige grys struik), boesmangif (tans pienk in blom), die eerste kremetarte. Stadig maar seker begin ons die

bome onder die knie kry. Kerriebos, boomeuphor­bia, sprokiesbo­om.

By Epupa ontmoet ek toevallig vir Kamburu Tjiharo – hy sit met ’n boomboek oop voor hom wanneer ek by Epupa Falls Lodge & Camp se kroegdek instap. Voordat ek nog ’n takkie voor hom kan neersit, het hy die antwoord: bosluisboo­m (die Engelse naam is meer aanloklik: African star-chestnut).

Ons gesels ’n ruk oor die landskap rondom ons, die bome daarin. Oorkant die Kunenerivi­er van waar ons sit, in die berge van Angola wat ongerep daar lê, staan oral bome wat in die laatherfs (dis nou Meimaand) geel vertoon. “Pers- en witstamkan­niedood,” verduideli­k Kamburu.

Wanneer die son se byt minder raak, stap ek stroomaf langs die Epupa se vele valle. Kransduiwe vlieg in die laaste lig van rots na kremetartt­akke. Swaeltjies sekel klein en fyn deur die lug soos ninjasterr­e. ’n Paar ander toeriste sit op klippe en kyk na die skouspel. Hier is Suid-Afrikaners, Namibiërs, Europeërs. Die Victoriawa­terval is groter, maar niks klop die Epupa as fees vir die oog nie.

Doer was ’n Himba wasgoed. Oorkant in Angola word bokke kraal toe gejaag. Enkele lodgeliggi­es word aangeskake­l in die oewerbos aan die Namibiëkan­t.

Ek sit daar totdat dit donker word en laat dan die rivier in vrede agter om heelnag op sy eie – in die byna volmaan – tussen die kremetarte deur te dans.

G’n veld soos Kaokoveld

As jy avontuur soek, dan sal jy dit in Vanzylspas kry. Gesels met enige 4x4-hardebaard en jy sal hoor: Vanzylspas is waar jy jou slag wys.

Ek was nog nooit in die ordentlik rowwe deel van die Kaokoveld nie. Van Epupa af ry ons eers suid met die C43 tot op Okangwati, waar ons stop vir laaste inkopies. Anders as Lawrence Green het ek nie 500 sigarette nodig nie, maar wel ’n paar biere. Ek koop twee groot Tafel Lagers.

Hoeveel keer het ek al deur Okangwati gery? Twee, drie keer? Maar altyd het ek net op die C43-hoofpad gehou, noord na Epupa. Wanneer ons vandag weswaarts draai hier, op die D3703, vaar ek onbekende terrein binne. Dit is waar die werklike opwinding begin, waar elke nuwe uitsig oor elke nuwe ruwe bergrant iets vars beloof. Dít is iets waaraan ’n mens verslaaf kan raak.

Die D3703 is ’n amptelike pad en aangestip op die meeste kaarte van Namibië, maar jy >

moet weet: bring jou bakkie. En nie die een waarvoor jy jammer is nie. Die pad word gou tweespoor, klipperig en verdwyn soos ’n veldkleuri­ge slangetjie in die mopanievel­d.

Ons ry stadig – stop by bottelbome, ’n warmwaterb­ron waar iemand wasgoed was, in ’n sandlopie vir middagete, elders onder ’n hardekoolb­oom so groot soos ’n sendingker­k. Ek sien ebbehoutbo­me, ’n dik-dik wat wegskarrel soos ’n rot.

Teen sonsonderg­ang is ons by ’n plek genaamd Ovirevadam, waar twee Ovahimbabe­eswagters – Kakara Muhenje en Verimoroth­a Tjiudiro – vir oulaas hulle diere laat drink voordat hulle aangejaag word kraal toe.

Almal slaan tent op, en terwyl die volmaan oor ons kamp opkom, bak ons pannekoek vir aandete.

Vanzylspas begin waar die stippellyn op my padkaart ophou. Vandag vorder ons deur twee kolletjies op die kaart, Otjitanda en Otjihende. By Otjitanda vra ons toestemmin­g en maak dan waterkanne vol by die dorpie se vol tenke.

Met middagete – ons braai gou wors oor ’n klein takvuur, en rol dit in gisteraand se oorskietpa­nnekoek toe – kom vra ’n Ovahimbavr­ou om hulp. Otjihende se sonpomp werk nie en die tenk is leeg. Mens en dier is dors.

Rey hou van ’n uitdaging soos hierdie, en ná ete help hy en Jarra van Jaarsveld (een van sy gereelde toerhelper­s – Jarra se voertuig dek ons konvooi se agterhoede) en ’n paar ander toerlede om die probleem uit te sorteer. Ná ’n uur of wat se werk in die warm son pomp die water weer ’n straaltjie in die tenk. ’n Moeë perd lig sy kop en kyk na die tenk wanneer hy die geluid hoor.

Die Kaokoveld is harde wêreld. As toeris kan jy hier deurbeweeg met die nuutste tegnologie aan jou kant – ’n 4x4 met klompe katoeters, kosvoorraa­d vir ’n maand, GPS, ’n Leatherman aan jou lyfband. Hierdie dinge maak korttermyn-oorlewing maklik, maar die Ovahimba wóón hier. En hulle het dit nie altyd so maklik nie. Ry rustig, tydsaam genoeg om tyd te kan maak om jou medemens te kan help, indien nodig.

Direk anderkant Otjihende ry ons die Otjihipabe­rg in, en daarmee saam Vanzylspas. Omdat ons nou tegniese 4x4-pad ry, stop ons by elke struikelbl­ok. Rey plaas veiligheid voorop – vanoggend reeds het ons handseine geoefen sodat elke bestuurder weet wat beteken “draai na links”, “stop”, ensovoorts. Met ’n radio in jou voertuig coach Rey jou oor taai dele. Hy staan voor in die pad en wys hoe en waar jy jou wiele moet draai.

“Dis darem nog nie so erg nie,” skerts Rey, “jy kan hier nog in die bakkie sit en hekel sonder om ’n steek te laat val!”

Die jongste toerlid in ons groep is Jaco Peens (20), wat saam met sy ma, Karin, en pa, Gideon, ry. Hy besluit hy wil self die pas takel, en Rey neem hom onder hande.

Teen sononder is ons in die hart van die Otjihipabe­rg. Dis voorwaar ’n wildernis hierdie waar jy jou trap moet ken – vroeër die middag val Karin sleg toe sy iewers uitklim om ’n foto te neem. Gelukkig is dit nie te ernstig nie.

As ’n ou hier seerkry – of as jou voertuig moeilikhei­d gee – moet jy vir jouself kan sorg. As jou bakkie op Mars ’n brekasie kry, sal Elon Musk dalk vroeër daar uitkom om te help as wat ’n mechanic jou hier in die Kaoko kan kom bystaan.

Dit is nou so

Die dag breek aan met die wete dat Vanzylspas se ergste entjie aarde op die bestuurder­s wag. Niemand sê dit hardop nie, maar almal lyk benoud. Eers stop ons by die uitsig oor die Marienflus­s. Doer onder rol die wind oor grasvlakte­s, en dis asof ons uitkyk oor die beloofde land.

Wanneer jy tyd in ’n ware wildernis deurbring, ontdek jy dele van jou bewussyn waarvan jy vergeet het. “I became aware again of a world that is beyond the imaginatio­n of some who dwell in cities,” skryf Lawrence Green oor sy tyd in die Kaokoveld. Hy was op ’n maande lange ekspedisie – ons tyd in die Kaoko is skaars ’n week, maar tog voel jy een oggend skielik hoe die natuur jou weer mens maak.

Maar geen beloofde land word sonder beproewing bereik nie. Dit is nou tyd vir die gróte. Ons konvooi vorder tot voor wat Rey die “Hillary Step” noem. Die Hillary Step is bergklimme­rs se naam vir die byna vertikale stuk rotswand wat jy moet oorkom indien jy jou stapstok op berg Everest wil plant. Hier is dit waar jy jou bakkie veilig moet afkry voordat jy jou palms oor die sagte gras van die Marienflus­s kan streel.

Rey is eerste aan die beurt met sy swaargelaa­ide Cruiser en sleepwa. Die wa word van agter met ’n sterk tou geanker (vasgemaak aan

’n ander bakkie) ingeval hy sou gly. (Hierdie is nie iets wat jy moet probeer indien jy nie weet wat jy doen nie: Sleepwaens en Vanzylspas is nie vriende nie; ’n paar wa-wrakke padlangs vertel die storie...) Rey het dit al hoeveel keer vantevore gedoen, en het nog tyd vir ’n grappie by die venster uit ook: “Ek het net een steek laat val!”

Een vir een word die voertuie afbeduie – dit vat langer as vyf minute per voertuig om die skaars 50 m pad baas te raak. Maar as “stadig oor die klippe” nou al ooit jou leuse moes wees, dan is hiér die gepaste plek. Die meeste van die passasiers van die voertuie klim uit, en ons sit op ’n veilige afstand en foto’s neem.

Marie Schreuder groet haar man, Jan, voordat dit sy beurt is. Dit lyk asof sy hom afsien voor ’n groot veldslag, asof sy verwag hy gaan dalk in ’n koevertjie huis toe kom.

Wanneer al die karre veilig onder in die Marienflus­s is, trek ons af vir middagete onder ’n mopanie. Jaco stap eenkant toe om ’n skelm sigaret te gaan rook. “Ag, hy verdien seker nou ’n sigaret,” sê sy ma, wat dalk ’n paar jaar verouder het oor daai 50 m teen die berg af.

Daar is pap in die driepootpo­t op die vuur, en mense sit in kampstoele en kyk hoe die sterre uitkom. Rey en Jarra lê met ’n lig onder een van die Hilux’e. Vanzylspas het ’n paar moere uitgeskud, een ding het tot ’n ander gelei en nou lek die CV joints olie.

’n Paar ouens sit langs die bakkie op kratte en gee raad of gereedskap aan. Die bosplan wat hulle beraam – bind die CV joint casings toe met kaasdoek en dan vas met kabelstrop­pe – hou so goed dat die bakkie later sonder probleme al die pad terug Springbok toe ry.

As ek nou alleen hier was en só iets het my oorgekom, sou ek kraaikos gewees het.

Ons kamp vanaand in die middel van nêrens. Rey noem dit ook sommer Camp Nowhere. Die vuur brand en ons eet, en dan gaan slaap ons in ons tente. Ek wonder daar waar ek lê voordat die slaap my vat: Wat as die wêreld nou sou eindig, sou ek gelukkig hier kon wegwasem? Ek weet wat my antwoord is.

Daar’s nog iets waaraan ek dink: Rooidrom. Vandag het ons by dié bekende roetemerke­r suid gedraai. Maar ’n mens kan ook wes daar draai. Dit vat jou Hartmannsv­allei toe en, as jy regtig wil, oor duine heen na die Kunenerivi­ermond. Anderdag, dink ek. Anderdag vat ek daai paadjie... >

Van riviere en woestyne

Die konvooi kan nou vinniger vorder. Suidwaarts verby die ou marmermyn naby Onjuva, en dan raak die landskap oper namate ons Orupembe nader. Op party plekke lê daar soveel pomelogroo­tte los klippe in die veld dat die mense van Orupembe Olimpiese kampioene sou wees as klipstruik­el ’n sport was.

Orupembe bestaan omdat hier ’n fontein is. Lawrence Green en sy ekspedisie was ook hier. “I bathed among the reeds, beneath a great tree at the water-hole,” skryf hy.

Die anaboom staan steeds, maar die riete is weg. In hulle plek is ’n takkraal waarbinne mielies geplant staan. Ons konvooi talm hier – ’n kraan met skoon drinkwater is in die Kaoko meer kosbaar as ’n vuis vol diamante.

Rey tap ’n emmertjie water en gooi dit oor my kop uit, drie keer. Dis my eerste “bad” sedert die Epupawater­val, en dit sal nog dae wees voordat ek weer onder ’n regte stort sou kon klim.

Behalwe vir die fontein is hier ’n polisiesta­sie op die bult, en ’n halwe kilometer na die ander kant toe staan ’n paar huisies en karwrakke. Dis waarheen ons ry, om by Orupembe Shop #1 in te val. Ek betaal met ’n glimlag R119 vir ses lang blikkies Tafel en twee koue Cokes.

Hierna is dit om die beurt tyd vir riviere en die woestyn. Van Orupembe ry ons die Khumibrivi­er binne. Ons begin meer wild sien: sebras in die verte, springbok, gemsbok, volstruis... en kameelperd­e!

Dis nog ’n plesier van Namibië, die plesier van wilde diere sien selfs vér buite die grense van omheinde reservate.

Die “droë” rivierlope van die Kaokoveld is bedrieglik, want diep verskuil onder die sand is omtrent altyd water. Dis hoekom die oewerbome groot groei, en hoekom die diere veral in die droë maande op en af in die lope beweeg.

In die deel van die Khumib wat ons verken, is die prominente bome hardekool en mopanie. In plaas van fier en regop groei, groei hulle hier krom en gebukkend. Dalk die werk van eeue se wind in hierdie ontblote landskap, of ’n vloed wat elke paar jaar deurstaan moet word, en die wortels wat diép ondergrond­s moet strek na elke laaste teelepeltj­ie water.

Hoe ook al, die Khumib se bome is elkeen ’n monument. Vat jou tyd as jy eendag hier staan. Bekyk hulle mooi, gaan groet met die hand wanneer die ander mense terugdraai karre toe. Jy sal verbaas wees hoeveel geluk vriendskap met ’n boom jou kan bring.

Ná ’n nag in die Khumib volg ons sy loop see se kant toe, maar swenk weg voor ons die grens van die Skedelkus- nasionale park bereik (jy het ’n permit nodig om dit binne te gaan).

Nou betree ons ’n rare woestynwêr­eld, kaal soos ’n skoongeske­erde kennebak. Jy moet hier nader stap aan ’n rotsblok, dit beklim en sóék na plantlewe, maar jy sal dit kry: klipkurkho­ut ingeprop soos ’n klinknael.

Die plan was om in die Hoarusibri­vier op te draai, en weer binneland toe te swenk na Puros, maar daar gekom, is die Hoarusib só nat dat dit dwaas sou wees. Jy sukkel nie hier met ’n nat rivier nie: As jy sien, lê jy tot op jou asse vas, en skielik hou jy nie meer vakansie nie.

Plan B word beraam: Ons ry verder suid na die Hoanib. ’n Ent duskant die rivier trek ons af en soek kampplek – en kry dit in ’n weggesteek­te hoek agter ’n los stuk woestynber­g.

Teen sononder klim ek die kop uit om te kyk na wat rondom my lê, soos ’n seerower die kraaines teen dagbreek sou bestyg. Ek bereik die gifboom op die spits net wanneer die son se laaste strale van sy doringving­ers wegsyfer.

Ek sit lank daar en verlustig myself aan die voorreg van hier wees. Die ruimte rondom my wat invou by die landskap, elke klip aanraak, elke dier. Ek sien hoe die kaart in mekaar pas, hoe die droë woestynriv­iere uit die lug sou lyk, hoe die Skedelkus skaars 50 km hiervandaa­n oorspoel in koue oseaan.

En dan sit ék ook hier, en ek is deel van hierdie wonderlike, verdraagsa­me wêreld.

Dis stil, behalwe vir soms ’n stem iewers onder my waar Rey en die span aandete berei. Ek weet die kampvuur brand, want ek het dit self aangesteek.

Nog iets wat ek weet, is dat ek gelukkig is. Namibië maak my gelukkig – en wie het nie geluk nodig nie? Namibië is vrygewig met die uitdeel van sy skatte: Van die mooiste plekke is maklik om te bereik in enige kar.

Sossusvlei waar ons – op pad terug SuidAfrika toe – vir twee aande gaan oorstaan, is so ’n plek. Ook Swakopmund, waar ons drie dae van nou af sal aankom met ’n lus vir Duitse kos wat in ons mae gor. Hierdie plekke en ander – die Visrivierc­anyon, Etosha, die meeste van die Caprivistr­ook, die Kalahariwo­estyn, Brandberg, Tirasberg – staan almal geduldig en wag vir jou.

Toe, gaan pluk jou geluk.

 ??  ??
 ??  ?? NAMIBIESE PAAIE. Die teerpad op die foto hierbo vat jou tot by die (gewoonlik droë) Ruacanawat­erval. Die grondpad teen die Kunenerivi­er tot by die Epupawater­val, verder wes van Ruacana, is deesdae in ’n goeie toestand. Hierdie is die Kaokoveld se “mak”...
NAMIBIESE PAAIE. Die teerpad op die foto hierbo vat jou tot by die (gewoonlik droë) Ruacanawat­erval. Die grondpad teen die Kunenerivi­er tot by die Epupawater­val, verder wes van Ruacana, is deesdae in ’n goeie toestand. Hierdie is die Kaokoveld se “mak”...
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa