DORP VAN DIE MAAND
Fraserburg is ’n eiesoortige Karoodorp in ’n leë kol noord van die Nuweveldberg. Kom stap saam met ’n passievolle “inkommer” en ontmoet ’n paar van die dorpsmense.
Jy kom nie toevallig op Fraserburg af nie, jy gaan soontoe as jy daar wil of moet wees, skryf Erns Grundling, wat by dié Karoodorp en sy mense gaan kuier het.
‘ Fraserburg was on the road to nowhere, and for that reason it missed – or escaped – various forms of excitement.” Só haal die skrywer Lawrence Green ’n inwoner van dié dorpie aan in sy boek Karoo (1955). Meer as ses dekades later geld hierdie woorde steeds. Fraserburg bly een van die Karoo se mees outentieke dorpe: Die kerktoring troon hoog bo al die ander geboue uit en die enkele breë strate het meestal ou Victoriaanse wonings, sandsteenhuise en selfs ’n paar tipiese platdak-Karoohuise.
Hier is twee algemene handelaars en ’n paar kafees, en behalwe Pep is hier nie juis kettingwinkels nie. Die dorp het een bank en geen prokureur nie, en ’n dokter van Williston kom lê elke tweede week besoek af.
Iets eie aan die dorp is die Peperbus in Meyburghstraat. Dit is ’n seskantige gebou wat uit 1861 dateer, met slegs een deur en een venster. Die Peperbus het deur die jare die simbool van Fraserburg geword.
Lawrence Green dik waarskynlik ’n bietjie aan, maar skryf nietemin: “They say that Fraserburg without its pepper-box would be like Cape Town without Table Mountain.”
Hier is maar 2 000 permanente inwoners. Dit is ook by uitstek skaapwêreld, met ’n hegte boeregemeenskap wat mekaar deur tye van droogte en droefnis dra.
Sou mens ’n denkbeeldige vierkant tussen die dorpe Williston, Loxton, Beaufort-Wes en Sutherland trek, lê Fraserburg omtrent presies in die middel, myle weg van enige hoofpad. Dit is dus nie ’n dorp waarop jy toevallig afkom nie. Jy kom hiernatoe as jy hier wil of moet wees.
Fraserburg is reeds in 1851 gestig toe die plaas Rietfontein gekoop is – nadat ’n behoefte aan ’n kerk in die gebied ontstaan het. Die dorp is genoem na die Skotse predikant Colin Fraser wat ’n gemeente in Beaufort-Wes gehad het. Die Afrikaanse digter A.G. Visser is in 1878 buite die dorp op die plaas Zaaifontein gebore.
Maar Fraserburg is waarskynlik die bekendste vir paleontologiese ontdekkings in die omgewing.
Digby die dorp is ’n plaas met versteende spore, onder meer ’n prominente een van ’n Bradysourus, ’n heuphoogte “krokodil” wat 250 miljoen jaar gelede sonder twyfel ’n skrikbewind hier gevoer het.
In Februarie vanjaar het ek en Toast Coetzer met die skiet van die TV-reeks Weg Agterpaaie Karoo ’n vinnige draai op Fraserburg gemaak. >
Ons het by Herman en Ronél le Roux se Kliphuis tuisgegaan, juis om vroeg die volgende oggend die fossielspore te besoek.
Ronél het ons aan Marthinus Kruger voorgestel, ’n oudlanddros van Bronkhorstspruit wat maar twee jaar tevore saam met sy vrou op Fraserburg kom woon het.
Marthinus het hom gou gevestig as die dorp se passievolle gids en toerisme-ambassadeur – party mense sê selfs “burgemeester”. Hy was daardie oggend ons gids en het vir ons die spore gaan wys.
En nou, ’n paar maande later, is ek terug by die Kliphuis. Eintlik bevind ek my “tussen stories”, met ’n paar dae vir kantoorwerk opvang én die kans om Fraserburg en sy mense beter te leer ken.
GEKNEUS, MAAR NIE GEKNAK NIE
Dit is kwart voor agt op ’n Woensdagoggend. Ek en Marthinus drink koffie op die stoep by die Kliphuis. Al wat ons hoor, is opgewekte voëlgeluide. Die res van die dorp is tjoepstil: Nie eens die windpomp in die agterplaas kreun nie.
“Hier gaan slaap die dorpie agtuur saans en staan eers weer agtuur in die oggend op,” vertel Marthinus. “Fraserburg is vir my ’n wow-dorpie, ’n verrassingspakkie. Die plek se rykdom is sy mense. Omdat hier nie ’n grootpad of spoorlyn is nie, is almal afhanklik van mekaar. Hier is baie unieke mense, en jou eie uniekheid word hier aanvaar.”
Ons het juis besluit om die dorp vanoggend te voet te verken – Fraserburg is klein genoeg dat jy oral heen kan stap – en ’n paar dorpsmense te groet. Dit is nie ’n dorp met ooglopende doendinge vir toeriste nie, maar Marthinus glo dit is juis ’n bate. “As jy die dorp te veel bemark, gaan hy sy uniekheid verloor,” sê hy. “Dit is een van die min ongeskonde Karoodorpies. Die mense wat jy hier sien, is maar elke dag hierso.”
Hy wys na ’n geboutjie oorkant die pad waar die dorp se eerste kragopwekker was. “Die dorp het eers in 1983 Eskom-krag gekry. Voor dit het sewe Lister Blackstone-enjins vir die dorp krag gegee. Hulle is nog daar. Dit behoort ’n nasionale gedenkwaardigheid te wees,” sê hy.
Marthinus en sy vrou, Carien, wou aan die begin van 2015 ’n stiller en rustiger lewe iewers in die Noord-Kaap kom lei. Hulle het ’n drieslaapkamerhuis teen ’n billike prys op die internet gekoop en sak en pak hierheen verhuis.
“Dit was ’n absolute bestiering; dit is ’n plek waar ’n mens kan kom om gesond te word,” sê hy.
“As ’n vreemde kar hier inry, weet die mense iemand kuier,” vertel Marthinus. Op daardie oomblik ry ’n bakkie by ons verby. “Dit is Esmarie, sy’s ’n onderwyseres en op pad na die skooltjie toe,” sê hy.
Ons stap eers verby Kliphuis se netjiese woonwapark en dan na die oorspronklike Rietfontein, waar die dorp destyds ontstaan het. Die fontein is toegegroei onder riete, maar die opstal word vandag nog bewoon. Dit was waarskynlik net so stil soos vandag toe hier nog net ’n fontein op Fraserburg was...
Dan mik ons terug na Voortrekkerstraat en stap verby ’n monument wat die Groot Trek se eeufeesviering in 1938 herdenk. Die monument moes al meer as weer en wind trotseer. Marthinus vertel ’n perlemoensmokkelaar het glo jare gelede in die monument vasgejaag. “Die monument dra sy merke, hoor. Seker maar soos die Voortrekkers van ouds. Gekneus, maar nie geknak nie.”
In Fraserstraat stap ons aan die dorp se buitewyke langs na Oudam, Fraserburg se eerste dam. Die dam is reeds in 1870 gebou. Hier is min water, maar die landskap is aangrypend en diep Karoo, met ’n windpomp wat in die water weerkaats.
Teen 1899 het die stadsraad besluit dat dit elke keer ’n openbare vakansiedag sal wees wanneer die dam oorstroom, sê Marthinus: ’n tradisie met die naam damvakansie.
Die Nuwedam is in 1917 gebou, en sedertdien was daar nog net drie damvakansies, met die laaste een in 1983. Die Nuwedam, wat nog in 2012 gasheer gespeel het vir die Speedo Afrika-ysswem, is die laaste paar jaar maar dolleeg.
Marthinus wys ook vir my Fraserburg se gholfbaan, ’n tipiese Karoogholfbaan met weinig gras. Ons stap aan na die ruim en netjiese begraafplaas. Hier is mooi grafte, onder meer van sandsteen, en verskeie met historiese belang, soos Britse grafte uit die tyd van die Anglo-Boereoorlog.
Jane Wilson, ’n algemene werker, staan nader met haar hark. “Ek maak maar net hier skoon, hark die blare en kyk deur die dag dat kinders nie die blompotte kom breek nie,” sê sy. “Ek help ook toeriste om spesifieke grafte te vind. Hier was drie weke gelede ’n toeris wat ek gehelp het. Sy het so gehuil toe sy hier weggaan dat ek ook begin huil het.”
Jane vertel sy “praat” graag met die dooies terwyl sy werk. “As ek so hark, dan sê ek ‘Julle moet agter my kyk en my ’n lang lewe gee sodat ek vir julle kan skoon hou.’ En hulle luister – dit is amper soos ’n beskerming vir my.”
Sy het vrede met die lewe én die dood en wil eendag langs haar ma gaan lê. “Dan gaan ons so onderlangs by mekaar kuier.” >
VAN PEPERBUS TOT ’N PLANTKENNER
Ons stap in Meyburghstraat verby die Hoërskool Fraserburg, waar die bekende Logan-toneelfees elke jaar in Augustus plaasvind. Die sanger Pedro Kruger noem dit die “Cravenweek” van toneelkompetisies, met meer as 400 leerders in tot 50 produksies op die verhoog.
Ek gewaar ’n ou tannie met ’n kierie wat stadig na ’n stoep beweeg. Bessie Vivier is nou al vyf jaar in die ouetehuis, maar kom sit so gereeld as moontlik hier by die huis waar sy in 1939 gebore is.
“Sommer vir die oefening stap ek so af en toe en kom sit vir ’n uur hier op die muurtjie,” vertel sy. “Die huidige eienaar, Morné, het ’n goeie geaardheid. Hy gee nie om dat ek hier kom sit nie. As die rose blom, pluk ek graag vir my een. Dit is lekker om ’n bietjie weg te kom van die ouetehuis, want daar sit jy ook maar net heeldag.”
In Voortrekkerstraat wys Marthinus vir my die Stadsplein en die replika van ’n ou korbeelhuisie. Ons loer ook in by die dorpsmuseum, wat destyds die ou Pastorie was. Hier is allerlei oudhede wat dorpsmense deur die jare heen geskenk het en indrukwekkende uitstallings oor die vroeë kerkgeskiedenis en paleontologiese ontdekkings.
Ons keer terug na Meyburghstraat en bekyk die Peperbus. Dit is met kleistene gebou, agt-en’n-half meter hoog en die enigste gebou van sy soort in Afrika. Fraserburg se eerste predikant, Carel Bamberger, wat in Duitsland gestudeer het, het dit destyds ontwerp.
Vroeër jare was dit onder meer die markkantoor, die landdros se private kantoor, die dorp se eerste biblioteek en die plek waar die klok in die apartheidsjare om 9 nm. gelui het.
“Wil jy nou ’n interessante omie sien?” vra Marthinus met ’n glimlag, en beduie na ’n bebaarde oom – die Peperbus se buurman – wat in sy tuin staan en werskaf.
Ons skud blad met oom Koos Olivier, op 83 nog hard aan die werk. “Goeiemôre, goeiemôre! Ek kan nie eens meer behoorlik opstaan nie, maar ou goed vrek darem nie so maklik nie. Ek restoureer nou die ou stoep ’n bietjie. Ek soek nog ’n groot klip, man. Jy weet nie waar ek ’n groot plat klip gaan kry nie? Ek wil ’n tafel maak.”
Ek en Marthinus groet eers; hy besig die middag. Hy stel voor ek gaan loer in by oom Gerrit Visser en sy vrou, Rita, in die ouetehuis.
Eers eet ek middagete by die Meerkat-restaurant – hartlike boerekos met malvapoeding, koeldrank en koffie, vir minder as R70!
Oom Gerrit is deel van Fraserburg se DNS. Die plaas Rietfontein, waar die dorp begin het, het aan sy oupagrootjie Abraham Albertus Visser behoort.
Hy het sy lewe lank op sy geliefde plaas, Roodekruis, geboer, maar hy en tannie Rita – met wie hy al sestig jaar getroud is – het vier jaar gelede om gesondheidsredes in die ouetehuis kom woon.
“Ek is gebore in die Karoo, ek het grootgeword tussen die bossies en grassies – dis nie goed waarvan jy afskeid kan neem nie,” sê jy. “Dit haak aan jou vas, jy sleep hom waar jy gaan. Hierdie Karoo herhaal vir homself. Hy kan venynig wees en hy kan goed ook wees. As hy vir jou kap, kap hy vir jou raak; as hy jou seën, dan seën hy vir jou mildelik.”
Gerrit glo in lewenslange studie en dat jy elke dag iets nuuts moet leer. Met my besoek deel hy sy passies: ’n grafiese voorstelling van reënvalrekords van meer as 100 jaar (Fraserburg se gemiddelde jaarlikse reënval is maar 156 mm), navorsing oor onderaardse water in die Karoo, die veranderende plantegroeifases oor dekades heen, fotoalbums met plantfoto’s én ’n paar velskoene kleiner as ’n vuurhoutjieboksie wat hy gemaak het!
Hy probeer nog so gereeld as moontlik by die plaas uitkom. “Ek stap in die veld en praat met my plante,” sê hy. “Hulle is my beste vriende en het my nog nooit teleurgestel nie. Hulle draai by die dood en dan kom hulle terug en dan kom red hulle weer my lewe, want hulle produseer weer kos dat my skaap kan eet dat ek kan vleis kry. En gras is ’n wonderlike ding. Dis die kleed van die aarde. Dis seker die gewas in sy Karootuin waarop die Skepper die trotsste is.”
ASOF JY IN DIE HEMEL IS
Fraserburg het smiddae ’n soort Karoosiësta, wanneer die meeste winkels toe is. Ek loer in by Die Pers Malva vir koffie en ’n stuk koek.
Die eienaar, Dirk van Schalkwyk, het Die Pers Malva omskep in ’n koffie- en geskenkwinkel. Sertifikate vir blommerangskikking, fotografie en troubeplanning hang teen ’n muur. “Ek het nog nie ’n troue beplan nie; hier trou nie baie mense nie,” sê hy. “Dis vir my lekker hier en ek het die voorreg om te doen wat ek nog altyd wil doen. Ek geniet die stilte en rustigheid van die Karoo.”
Laatmiddag ry ek veld toe vir ’n fotosessie saam met Fraserburg se twee goths, Daniel Johnson-Barker en Debbi Morkel. Weg het ’n paar jaar gelede oor dié twee geskryf wat die Kaap vir Fraserburg verruil het ( Weg #88). “Niks het intussen verander nie,” sê Daniel skertsend. Debbi is ’n skilder en hy ’n grafiese ontwerper en die dorp se IT-kenner. “Ons het lekker hier geïntegreer, ons is rustig. Die dorp is gebou rondom die skaapboerdery; dis nie ’n oulike plek soos Prins Albert nie. Ons gaan drie keer per jaar Kaap toe, maar wil dan terugkom. Ons is lief vir die plek. Hier het ons ruimte.”
Die son sak, die skakerings van die laaste lig is intens. ’n Ligte reënbui sak uit. Op Fraserburg stel die goue uur nie teleur nie. Ek dink aan al die ontmoetings van die afgelope dag: kort maar kosbaar. En die perspektief wat dit bring op ’n dorp en sy mense.
Ek tel ’n Karoobossie op en dink aan iets wat Marthinus se ma, Christa Kruger van Pretoria, vroeër vanmiddag gesê het: “Jy moet hier op Fraserburg kom batterye laai en ’n Karoobossie vryf en ruik. Dis asof jy in die hemel is.” >