Wandelaars van ons tyd
Elke maand se Weg- stories kronkel soos wandelpaaie deur ons grootse landskap en partykeer – per toeval – ontmoet hulle mekaar by ’n onverwagte plek voordat hulle weer elkeen sy rigting inslaan. Baiekeer neem ’n mens skaars kennis van die toevallige kennismaking. In Weg #152 verskyn ’n kleinbyvreter voor in die boek en 50 bladsye later fladder daar wrintiewaar weer een, nee twee, kleinbyvreters in die fotoportefeulje! Die kleinbyvreter is ’n mooi voëltjie en seker geregtig op 15 minute van roem nes die meer flambojante visarend, maar die feit dat drie byvreters in een uitgawe verskyn, gaan grootliks ongemerk verby.
Maar daar is ’n toeval waarby jy wil talm, asof jy ’n gedenkteken by die ontmoeting van twee stories wil oprig omdat dit iets binne-in jou roer. Dit was vandeesmaand die geval met Toast Coetzer se storie oor Namibië en Erns Grundling se storie oor Fraserburg. Ek lees eerste Toast s’n. Hy haal twee keer uit Lawrence Green se Lords of the Last Frontier (1952) aan. Mooi aanhalings wat konteks gee aan die verhaal wat Toast weef oor sy reise deur ons buurland.
Die volgende oggend lees ek Erns se storie op kantoor. Sommer in die eerste paragraaf duik Lawrence Green weer op, dié keer uit Karoo (1955). Erns se lessenaar is so ’n grootwithaailengte van myne af. “Hoe werk dit dat julle albei vandeesmaand vir Lawrence Green channel, Erns?” roep ek na hom, en ek lees vir hom Toast se aanhalings. Hy skud net sy kop. Pla dit my, wil hy weet. Moet ons eerder aan een van die stories verander?
Dit pla my nie. Inteendeel. Dit maak vir my sin dat twee van ons skrywers vir Green aanhaal. Green, ’n joernalis wat jare lank die “Wanderer”-rubriek in die Cape Argus geskryf het, het met ’n fyn waarnemingsvermoë en empatie reisverhale vir die gewone SuidAfrikaner geskryf. Tavern of the Seas (1948) oor Kaapstad se mense, kos, wyn en ja, die weer, was as kind een van my gunsteling-boeke. Dié onopgesmukte wandelaar het uiteindelik meer as 30 boeke geskryf waarvan meer as 750 000 eksemplare verkoop is.
Howard Timmins, die uitgewer van die meeste van Green se boeke, het kort ná dié skrywer se dood in 1973 finaal die deur gesluit, maar ’n mens kan nog van die boeke in tweedehandsboekwinkels vind. Ek het ’n goedbewaarde eksemplaar van Tavern of the Seas vir R125 in Clarke’s – ’n bekende boekwinkel in Kaapstad – gekoop en ek lees dit weer met groot genot. Dis soos om in ’n tydkapsule saam met ’n wel ter tale reisgids na ’n ander wêreld verplaas te word. Wie weet, dalk sê mense dieselfde as hulle 70 jaar van nou af Weg #154 lees! Ek hoop so.