Stuur groete aan Paul Roux
Die artikel oor die Oos-Vrystaatse dorpie Paul Roux in Weg #151 het my na my kinderjare laat verlang. My grootouers aan my ma se kant (oupa Hennie en ouma Christina Kriel) het bo in die dorp teen die sandsteenrand gewoon.
My ouers, Barend Schutte en Corrie Kriel, is in 1935 daar getroud en ek is in 1936 op Bethlehem gebore – Paul Roux het nie ’n hospitaal gehad nie.
My ma het vertel dat oudpresident P.W. Botha soggens met vaart en vertoon te perd by die skool aangekom het. My pa, ’n polisieman, het gereeld die omgewing gepatrolleer, veral vir veediefstal. Hy het die storie vertel van landdros Eades op die dorp. Sy handtekening was glo net ’n paar strepies en die polisiemanne wou weet wat op aarde dit was? Sy antwoord was natuurlik: “It’s Eades." Waarop hulle reaksie dan was: “Ons kan sien dis iets, maar watse iets?”
Ek het net twee jaar daar gewoon, maar ons het gereeld by Oupa en Ouma gekuier. Destyds het Paul Roux nie elektrisiteit gehad nie, en die “draadloos” se battery is met ’n windlaaier gelaai. Windkrag is dus nie sodanige nuwe tegnologie nie. Verder het hulle lampe en kerse gebruik.
Ek kan wel die grootte van die standplase en die vrugtebome onthou – veral die adamsvybome met sy heerlike donker vye.
Dis wonderlik om te hoor dat die dorp nuwe lewe gekry het met die kunstenaars wat daar bly. Die Oos-Vrystaat met sy sandsteenberge en bouwerk bly een van die skilderagtigste dele van ons land.
CHRIS SCHUTTE, Port Elizabeth