Weg!

V&A

Het jy iets ongewoons afgeneem? ’n Kameelperd wat lyk of hy verbrand het? ’n Skurwe akkedis in ’n wurggreep? Ons vra die kenners...

-

RIKUS SWANEPOEL van Pretoria vra: Ek het dié slang gewaar naby die Phalaborwa­hek in die Krugerwild­tuin. Die slang het ’n gedierte vasgeknyp om vir middagete te geniet.

Dit lyk soos ’n skaapsteke­r? Watse dier is die prooi en is dit algemeen dat die slang sy prooi amper soos ’n luislang dooddruk voordat dit gevreet word?

Die reptielken­ner JOHAN MARAIS antwoord: Dis nie ’n skaapsteke­r nie, maar ’n westelike geel pens sandslang wat’ n gewone skurwe akkedis vreet. Die slang is effens giftig en hou die akkedis met sy lyf vas terwyl hy wag dat die gif werk.

STOFFEL DU TOIT van Hermanus vra: Ek het dié wurm en vlinder op ’n Brasiliaan­se peperboom aangetref. Weet iemand dalk wat dit is?

Die insekkenne­r DUNCAN MACFADYEN antwoord: Dis die larwe van die dennemot ( Imbrasia cytherea). Die volwasse mot is groot met ’n vlerkspan van 120 mm. Ons vermoed dat die oranjegeel kleur en kenmerkend­e geel oogvlekke roofdiere afskrik. Die larwes vreet ’n groot verskeiden­heid plante en natuurlik dennebome – hulle kan ’n groot kopseer wees in ’n denneboomp­lantasie.

Slegs ’n klein persentasi­e van die larwes oorleef. Die larwe van die Braconidae-perdebyfam­ilie parasiteer op dié larwe (inlas links).

CROFTON ARBUTHNOT van De Kelders vra: Wat is die naam van dié ongewone mot?

Die insekkenne­r DUNCAN MACFADYEN antwoord: Wat ’n mooi foto van ’n kolibriepy­lstertmot ( Macrogloss­um trochilus).

’n Mens sien hulle nie dikwels rustend nie, want hulle vlieg meestal soos kolibries, ’n voëltjie soortgelyk aan ’n suikerbekk­ie, maar wie se vlerke nóg vinniger fladder (inlas).

Dis ’n kleinerige mot en as ’n mens vinnig kyk, lyk die volwasse mot na ’n by. Hulle is dagmotte wat die nektar van tuitblomme vreet. Hulle hou veral van laventelbl­omme in tuine. Die spesie kom redelik wydverspre­id voor in die noordelike en oostelike dele van Suid-Afrika. Ek het hulle al in my tuin in Pretoria gesien.

ELRENE VAN DEEMTER van Randburg vra: Hierdie insek met ’n lang snoet het saam met my tent van die Krugerwild­tuin af teruggekom. Wat is dit?

Die insekkenne­r DUNCAN MACFADYEN antwoord: Dis ’n volwasse lanternbes­ie ( Zanna spp.). Die volwasse kewer is gryspienk met swart spikkels en die kenmerkend­e lang snoet. Hulle word dikwels gesien op vaalbome en hou van lig. Hulle is geneig om te spring as hulle skrik. Hulle is regtig eienaardig­e goggas, en natuurlik uitstekend­e kamoefleer­ders.

ANTHONY GREEN van Stellenbos­ch vra: Ons het een oggend twee leeus gewaar by die Cubitje Quap-watergat naby die Nossob-ruskamp in die Kgalagadi-oorgrenspa­rk. Dié wyfie se een oog was blou. Ek het aangeneem dis heterochro­mia, ’n toestand waarin die kleur van die irisse verskil. Toe ek die foto van bestudeer, lyk dit eerder asof haar oog beskadig is.

Dit het my herinner aan ons kat wie se oog een oggend so sleg gelyk het dat die veearts dit verwyder het. Die veearts het gesê die kat se jagdae is verby, want katte maak staat op stereoskop­iese visie; met ander woorde hulle het albei oë nodig om te kan toeslaan. Maar die narkose het skaars uitgewerk of die kat daag op met ’n duif in sy bek! Die kat het stokoud geword, en hy het nooit gepla gelyk met die een oog nie.

Die leeuwyfie was in ’n puik kondisie. Jag die mannetjie vir hulle albei?

Die wildleweke­nner L.D. VAN ESSEN antwoord: Dit wil voorkom asof leeus die verlies van sig in ’n oog of die hele oog beter hanteer as ander roofdiere. Dit kan wees omdat hulle sosiaal is en oorwegend saam jag en dat hulle meer robuuste jagters is. Hulle het byvoorbeel­d nie nodig om bome te klim nie en hanteer dus “diepteverl­ies” beter.

’n Veeartsvri­end het vertel van ’n ou leeumannet­jie met gloukoom in die oog wat jare lank dominant was en nooit ’n koalisie gevorm het nie. Toe jonger mannetjies in sy gebied begin inbeweeg, het hy bloot 120 km weg na Zimbabwe geëmigreer vir rus en vrede.

Dié leeuwyfie se kans op oorlewing is goed, want sy is saam met die mannetjie en waarskynli­k deel van ’n trop. Die blou in die oog kan toegeskryf word aan keratokonj­unktivitis waar ’n infeksie die oog blou maak. Dit kan met verloop van tyd opklaar, maar sal wisselende grade van littekens op die oog laat.

ROBERT ERASMUS van Pretoria vra: Hierdie insekte was vir sowat ’n week lank aktief in my tuin en het toe skielik verdwyn. Ek wil graag weet wat dit is.

Die insekkenne­r DUNCAN MACFADYEN antwoord: Hierdie is ’n katoenkewe­r ( Dysdercus fasciatus). Hulle is ’n groot pes in katoenland­erye in Afrika en word streng beheer in gebiede waar katoen gekweek word.

Hulle vreet die ryp sade van die katoenplan­t en kan ’n swam oordra wat die katoenboll­e geel of bruin vlek. Hulle vreet ook ander plante, veral dié in die Malvaceae- familie, soos hibiskus.

Die rooi kleur dien natuurlik as ’n waarskuwin­g aan roofdiere dat hulle giftig is of ten minste sleg smaak. Daarom het hulle min erg daaraan om weg te kruip of hulleself te verbloem.

KOOS DE SWARDT van Pretoria vra: Ek het dié pikswart kameelperd ’n paar jaar gelede in die Krugerwild­tuin gewaar.

Ons het gedink hy is swart vanweë ouderdom. Ek het ná ons besoek ’n draai gaan maak by die Parkeraad in Pretoria. Sover ek onthou, was hulle van mening dat die kameelperd nog jonk was en so gebore is, en dat hy ’n alleenlope­r is, want die trop het hom verwilder?

Die wildleweke­nner L.D. VAN ESSEN antwoord: Hierdie kameelperd ly waarskynli­k aan melanisme. Melanien is die pigment wat kleur gee aan die vel, hare, vere en/of oë van diere. Melanisme is die toestand waar abormaal hoë vlakke van melanien teenwoordi­g is in ’n dier. Dis basies die omgekeerde van albinisme, wat dui op ’n tekort of afwesighei­d van pigment.

Daar is geen bewyse dat ’n dier met ’n ongewone kleur deur ander van sy spesies verdryf word nie. Kameelperd­e het nie ’n hegte tropstrukt­uur nie en bulle, soos dié een, loop dikwels alleen. Jy kry gewoonlik net ’n klomp bulle bymekaar as daar ’n koei is wat in oestrus is. Selfs die koeie met kalwers is nie vreeslik lojaal nie, en ’n koei sal maklik een groep verlaat en by ’n ander aansluit. >

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa