Wat gaan ons nou op ’n Woensdagaand doen?
Ons was vreeslik hartseer toe Weg Agterpaaie in Junie tot ’n einde kom. Ons is ook agterpadryers. As ons kan, kies ons ’n grondpad. En ’n pas. En vir ’n wegbreek ’n plek sonder selfoonsein, televisie of mense. Ons het al salige Karookuiers geniet: Op Jansenville, Graaff-Reinet, Nieu-Bethesda, De Rust...
Aan die einde van 2014 het ons die agterpaaie tussen Port Elizabeth en die Kaap gery. Ek en ons worshond, Willemien, in die bakkie en Hein op sy fiets.
Op Oujaarsdag het Hein met sy bergfiets deur Gamkaskloof (Die Hel) gery en anderkant uit met Die Leer-4x4-roete tot in die Boschlyskloof waar ons gewag het. Hy was in verwondering oor dié kloof, en ek oor die Red Stone Hills en Seweweekspoort naby Calitzdorp... Op Weg Agterpaaie kon ons hierdie plekke met mekaar deel.
Die jaar was skaars drie dae oud, toe sing ons bakkie se wiele weer deur die Karoo. Ons is vroegoggend weg uit Keimoes (ná ’n roei-uitstappie op die Oranjerivier). Ons het amper verdwaal op pad na Verneukpan, want die hele jaar se gemiddelde reënval het die vorige nag in die Noord-Kaap geval. Die pan was ’n modderspul.
By die 10 km-bordjie stop ons om ’n foto te neem. En daar val die bakkie vas in die modder. Twee uur later, ná ’n gevorentoe en agtertoe, moes ons op ons spore terug grootpad toe (foto).
Dankie, Erns en Toast, want vanaand kon ons Verneukpan sien. KAREN EN HEIN BECKER,
Port Elizabeth