Mina Guli
Die Australiër Mina Guli is opgelei as ’n prokureur, maar is die grootste deel van haar dag besig om oor waterbesparing te praat. En sy’s passievol genoeg oor dié onderwerp om meer te doen as net praat. Laasjaar het sy 40 marathons (een is 42,2 km...) in
Waar kom jou groot liefde vir die buitelewe vandaan? Ek het in Australië grootgeword, waar die meeste kinders buite speel in vars lug. Ek het my somervakansies by die strand deurgebring.
Om in so ’n omgewing groot te word – nes in Suid-Afrika, raai ek – gee ’n mens ’n gesonde liefde en waardering vir die omgewing. Jy leer gou dat “huis” nie net die vier mure van ’n gebou is nie, maar alles wat in jou onmiddellike omgewing bestaan.
Het jy nog jou lewe lank omgegee oor bewaringskwessies? Ja, vir so lank as wat ek kan onthou. Toe ek ’n prokureur geword het, was ek – al het ek nie in dié rigting gewerk nie – besorg oor goed soos ontbossing. Ek kon nie verstaan hoekom ons woude verwoes as hulle ons lewensaar is nie. Of hoekom ons vullis in skoon water wil sit nie.
En sport en hardloop – is dit ook lankal ’n groot liefde? Ek is mal oor die buitelewe, maar ek was nooit ’n sportiewe kind nie. Ek het dit gehaat as sportspanne gekies moet word, want ek was altyd seker ek sou laaste gekies word.
Maar op 22 was ek in ’n ongeluk waarin my rug beseer is. Die dokter het vir my gesê ek sal nooit weer kan hardloop nie. Dit het my laat besluit: Niemand behalwe ek sal ooit my beperkinge bepaal nie – ek is die enigste een wat dit kan doen. Ek het stadig begin oefen, en twee tot drie lengtes op ’n slag geswem. Ná ’n rukkie het ek ’n bietjie driekamp-oefeninge begin doen en mettertyd meer op hardloop begin fokus.
Wat het sport jou geleer? Dit het my lewe tot ’n groot mate verander. Ek het besef daar lê krag daarin om sáám met ander mense ’n sekere doel na te streef. Dit het my gewys dat ons soms op ons eie sukkel, maar as ons ons “stam” kry, word dit makliker.
Vertel ons van Thirst, die nieregeringsorganisasie wat jy bestuur. Ek het ’n agtergrond in klimaatsverandering en het Thirst in 2012 begin. Ek het gedink: Wat as ons kan verander hoe die volgende geslag oor water dink en “waterslim” besluite kan neem? Ons is in China gesetel, die land in die wêreld met die verbruikerskultuur wat die vinnigste groei. Ons het al meer as ’n miljoen kinders in China oor die waarde van waterbesparing geleer. Teen 2030 gaan die vraag na water 40% groter wees as die beskikbare water – ons kan nie net hier sit en niks doen nie!
Vir jou sesriviere-uitdaging het jy 40 marathons in 40 dae gehardloop. Wat was vir jou ’n hoogtepunt? Ek het met ’n groot vlag gehardloop en mense gevra om dit te teken ter ondersteuning van waterbesparing. Dit was ’n hoogtepunt om dit aan die president van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering te oorhandig. Ek het besef dit verteenwoordig so baie mense wat ek ontmoet het, mense wat ’n verbintenis gemaak het. Ons almal wil hierdie probleme oplos – ons moet nou net die besluitmakers ook oortuig.
In die algemeen was dit wonderlik elke keer as iemand my êrens kom groet het, of sommer spontaan ’n ent saam gehardloop het. Ek het weer besef: Een mens kán ’n verskil maak. Almal moet dit verstaan, want ons soek altyd vir verskonings en op die ou end doen ons niks nie.
En die moeilikste deel? Ek het met ’n besering gesukkel en kon dus nie so goed voorberei nie. Om te hardloop was dus dié keer baie ongemaklik en seer. Daar was baie dae wat ek nie geweet het hoe ek dit gaan doen nie. Maar om op te hou was bloot nie ’n opsie nie. As daar ’n groter doelwit is – in my geval die waterkrisis – kan ’n mens baie meer deurstaan as wat jy dink.
Met jou sewewoestyne-uitdaging het jy ook in Suid-Afrika gehardloop. Hoe was dit? Ons het die Richtersveld-nasionale park as ons Afrikawoestyn gekies. Ons het die Oranjerivier probeer oorsteek na die Namibiese kant, maar die pont kon nie oorgaan nie omdat die riviervlakke te laag was. Dit het my lewe vir altyd verander. Dis waar die idee vir die sesriviere-uitdaging gebore is. Wat is volgende? Waterkwessies is baie uiteenlopend – van skaarsheid tot besoedeling en infrakstruktuur. Die volgende ekspedisie gaan op een kwessie fokus. Ons stel die veldtog later vanjaar bekend, en ek is reeds besig om te oefen en beplan.
Wat kan gewone Suid-Afrikaners doen om te help met waterbesparing? Verstaan hoe belangrik water is. Wees slim oor waterverbruik. Dit gaan nie net oor korter stort nie (hoewel dit ook help!). Dit gaan daaroor om te besef hoeveel water in vervaardiging gebruik word. Om ’n hamburger te vervaardig gebruik net soveel water as ’n twee uur lange stort. Om koffie te vervaardig gebruik baie meer water as wat nodig is om tee te vervaardig.
Ek sê nie mense moet ophou vleis eet en nooit weer koffie drink nie, maar word net bewus van die water wat in jou kos versteek is. Eet een dag in die week soos ’n vegetariër en vervang ’n paar koppies koffie met tee – elke bietjie help!