WAT SÊ DIE MENSE?
Jan en Marie Schreuder, Hermanus “Sedert die laat jare tagtig was ek al 21 keer in Namibië, meestal om te gaan visvang by Henties rond. Marie was al ’n slag saam op ’n treintoer ook, maar op hierdie Kaokolandtoer kon ons saam die diversiteit van die landskap waardeer.
“Ons het nooit besef hoeveel water in die Kunenerivier af vloei nie, en was verstom deur die grootte van die bome. Ook die Epupawaterval is enige dag so indrukwekkend soos die Victoriawaterval.”
Sybil Smit, Kuilsrivier “Ek bestuur graag self, maar vir die Kaokoveld se paaie is my kar te lig. Ek moes dus ’n ander plan maak, en gelukkig kon ek in een van Rey-hulle se bakkies saamry. Dit was veral lekker om in hierdie harde wêreld alle besluite en voorbereiding oor te laat aan kundiges wat ek ten volle kon vertrou. Hierdie soort toere bring my op plekke waar ek op geen ander manier kan kom nie.”
Barbara Rheeder, Melkbosstrand “Al het ek nie self bestuur nie, was ek benoud by Vanzylspas – ek ly erg aan hoogtevrees. Daarom het ek liewer uitgeklim sodat ek nie die afgronde langs ons kon sien nie!” Maartin en Igna Steyn, Klerksdorp Maartin: “Namibië is ’n land van groot kontraste. Jy kan met die see aan die een kant en woestyn aan die ander kant ry, of jy kom deur die klipperige Vanzylspas en skielik lê die uitgestrekte grasvlaktes van die Marienfluss voor jou.” Igna: “Dit was vir my sielskos om deur die natuur te ry en die uitgestrektheid van die land te geniet.” OOPTES (oorkantste blad, heel bo). Gert van Schalkwyk en sy Cruiser vaar die woestynvlaktes binne tussen die Khumib- en Hoarusibrivier.
KONINGSKOS (oorkantste blad, middel). Pikkie Daniel maak stywepap in ’n driepootpot by ’n boskamp tussen Vanzylspas en Orupembe in die Kaokoveld.
STADIG OOR DIE KLIPPE (oorkantste blad, onder). Rey Janse van Rensburg beduie vir Johan Lottering veilig teen die “Hillary Step” in Vanzylspas af.