Tuis by die mense van Groen
Kort voordat die nuwe seisoen van Groen op kykNET uitgesaai word, het ons die kans gekry om agter die skerms te kuier op N/a’an ku sê,
die reservaat waar die reeks deels geskiet word.
As jy lief is vir Namibië, ken jy waarskynlik die gewilde bewaringsreeks Groen op kykNET. Groen is van Julie af terug op die lug vir seisoen 3, en die reeks se borg, Windhoek Lager, het ons genooi om by die aanbieders op hulle wildreservaat N/a’an ku sê, net buite Windhoek, te gaan inloer.
Oor middagete by die lodge vertel die twee aanbieders, dr. Rudie en Marlice van Vuuren, dat seisoen 3 van Groen vir die eerste keer ook in Suid-Afrika verfilm is. Die span moet byvoorbeeld in een van die episodes leeus by Buffelsdrift naby Oudtshoorn bevry, en draai ook by die Drakensteinpark buite die Paarl.
Die reeks word gelyktydig in Afrikaans en Engels geskiet. Elke toneel word eers in die een taal geskiet, en dan word alles in die tweede taal herhaal. Dis harde werk, maar dit beteken baie vir die land. Die Engelse reeks word in Namibië deur die staatsuitsaaidiens uitgesaai.
Rudie is ’n mediese dokter wat twee dae van die week praktiseer (hy is onder meer die dokter vir die Namibiese president), maar jy kan sien Namibië en die bewaring van die omgewing lê hom na aan die hart. Die werk by N/a’an ku sê het die afgelope jare goed uitgebrei.
N/a’an ku sê beteken “die Here beskerm ons almal” en is die naam van ’n reservaat waar bewaringswerk gedoen word, maar ook van ’n groter organisasie wat by verskeie bewaringsprojekte in ander dele van Namibië betrokke is. Hulle bewaar die skaars wildehondspesie, beveg verwoestyning en renosterstropery, en help dat die Namibiese boere en luiperds in vrede met mekaar saamleef.
N/a’an ku sê wil konflik tussen mense en diere voorkom. Om te keer dat boere wildekatte afmaai, merk N/a’an ku sê die katte met elektroniese halsbande sodat hulle bewegings gemonitor kan word.
Boere kry soggens ’n e-pos wat sê waar “hulle” kat homself tans bevind. Mense bel ook gereeld vir Francois Theart van N/a’an ku sê as slange as
ongenooid by hulle opdaag. Francois vang nie net slange nie, hy behartig ook ’n Facebook-blad “Snakes of Namibia”, waar hy mense help om slange uit te ken.
N/a’an ku sê bestuur ook ’n kliniek by Epukiro in die noorde van die land. Die boomplantprojek om verwoestyning te keer vind onder die beskerming van koningin Elizabeth plaas, en daarvoor moes Rudie na Buckingham-paleis gaan om die koningin en prins Phillip te ontmoet. Hy sê dit was ’n baie statige affêre, maar in ’n stadium het die koningin droogweg teenoor hom opgemerk: “Looks like a tough place to plant trees.”
Projekte by dosyne
Die reservaat het ook geriewe waar vrywilligers, meestal jongmense in ’n oorbruggingsjaar, hulle vir ’n paar maande kan vestig. Die jongmense werk as handlangers in die reservaat, en help om hokke skoon te maak en die diere te voer.
Fiammetta (“Etta”) Carmellini is byvoorbeeld ’n Italianer van Milaan wat danksy vrywilligerwerk by N/a’an ku sê verlief geraak het op die Afrika-bosveld. Sy studeer omgewingsbewaring in Suid-Afrika. Etta sê sy is hier om te bly.
Die organisasie kry ook gereeld oproepe van mense wat wees- of beseerde diere in die veld opgetel het. Dan ry of vlieg Rudie se mense om die diere te gaan haal.
Die nag voor ons besoek is ’n jagluiperdwelpie in die veld opgetel en na N/a’an ku sê gebring, en hy loer verskrik uit sy hokkie.
Al die diere by die reservaat, die siek skilpaaie, koedoes, krimpvarkies, meerkatte en dassies sal uiteindelik weer in die natuur vrygelaat word. Die enigste diere wat nie weer heeltemal vry kan wees nie, is die wildekatte. “Dis nie dat die grootkatte verleer om te jag en daarom nie vir hulleself kan sorg nie. Hulle behou hulle jagtersinstink, maar hulle verloor hulle vrees vir die mens, wat hulle gevaarlik kan maak,” verduidelik Marlice. Daarom word hulle gerehabiliteer en in groot, omheinde kampe vrygelaat. Teen skemer ry ons saam om van ’n veilige afstand af te kyk hoe hulle gevoer word.
Die kese se kêrel
Rudie en Marlice het mekaar in sy rugbydae ontmoet, toe haar broer een van sy spanmaats was.
“Ek het altyd geskerts die dag dat ek ’n man na my ouers se plaas neem en die bobbejane hou van hom, sal ek met hom trou. Die bobbejane was die hele naweek alloverhim,” vertel Marlice laggend. Hulle is in 2000 getroud.
Wanneer hy moet wegglip om sy foon te ant- woord, vertel Marlice hy is nog die enigste sportman wat in een jaar sy land in ’n Wêreldbekerrugby- én kriekettoernooi kon verteenwoordig.
Ek dink in die stilligheid dat ek oplaas my kinderboekheld, dr. Roelof Serfontein van die Keurboslaan-boeke, ontmoet het. (Die fiksionele dr. Serfontein word ’n skoolhoof nadat hy in die Springbok-rugby- én -krieketspan was.)
Rudie het al geselsies met die queen aangeknoop, werk vir die president, en Angelina Jolie kuier aan huis (sy is by N/a’an ku sê betrokke). Ek terg dat hulle celebs is, en hulle lyk verleë. “Namibië het nie celebs nie,” sê Rudie. “Hier ken almal mekaar.”
En die Van Vuurens sal verkies dat die diere en dinge van Namibië die kollig kry, baie dankie.