Weg!

TANZANIË

Wanneer jy reis, is jy altyd op soek. Op soek na daardie plek waar jy sielsgeluk­kig gaan wees. Dis nie ’n gesoek wat maklik einde kry nie, maar dan ry jy eendag vas teen Tanzanië se Tanganjika­meer...

- WOORDE TOAST COETZER FOTO’S TOAST COETZER EN ALICE INGGS

Die Tanganjika­meer se water is warm en die bier is yskoud én goedkoop... Is dit die paradys? vra Toast Coetzer op pad terug huis toe.

aar is die paradys? Is dit waar my tent nou staan, in ’n veraf hoek van Tanzanië, hier langs die spieëlglad­de Tanganjika­meer waar die water warm, die bier koud en die kos goedkoop is?

Of is dit waarheen ons oormôre ry, suid na die Katavi- nasionale park, waar die oorvloedig­e wildernis jou onkant betrap met ’n modderpoel waarin honderde seekoeie lê en wag vir die eerste somerreën?

Wat van nog ’n dag of wat verder teen die meer af, by ’n vissersdor­pie genaamd Kipili, waaroor die ruïne van een van Afrika se oudste sendingker­ke waghou?

Of is die paradys ál hierdie plekke én padlangs? Dalk is die karpak, die tentopslaa­n, die vrugte koop by straatmark­te, en selfs die glimlag wat jy jouself gee wanneer jy lank in ’n grensposry moet staan – dit áls – paradys, die ganse reis.

Wanneer jy jou huis verlaat en wegry, begin ’n ontvlugtin­g. Maar wat van die terugry huis toe? Begin ’n stadige tuiskoms dan, of maak ’n goeie ontvlugtin­g eenvoudig nie ’n U-draai nie? >

Kigoma en die meer

’n Meer maak jou rustig, en rustigheid is wat ons nou nodig het. Gister het ek en Alice 440 km ver gery: van naby die Rusumo-grenspos tussen Rwanda en Tanzanië tot hier net buite Kigoma, by Jakobsen Beach. Dit het hééldag gevat, op meestal goeie grondpad, met ’n stukkie troosprys-teerpad net voordat jy Kigoma binnery.

Ek was egter strykdeur effens benoud, al het ek dit probeer wegsteek.

Hierdie deel van Tanzanië lê ver van die toeristero­etes af, en bittermin toeriste ry op eie stoom hier rond. Ons is hier in ’n Toyota Fortuner waarmee ons al die pad van SuidAfrika gery het: deur Zambië, Dar es Salaam toe, deur Ngorongoro en Serengeti, toe na Rwanda. ( Sien Weg #151, #152, #153 en #154 vir Toast se ander avonture. – Red.)

Ons het gehoor dat jy nie te lank gelede nie slegs in ’n gewapende konvooi hier kon rondry, weens ’n vlugteling­krisis wat ontaard het nadat mense uit die naburige Kongo en Burundi hierheen gestroom het. Maar gelukkig is dit nie meer die geval met ons reis nie – ons het wel in die ry ’n vlugteling­kamp in die verte gesien.

Ons het nie veel gestop nie. Net vir diesel vir die Fortuner en kos vir die siel: slaptjips en koue Coke.

Wanneer jy ’n bedenklike stuk pad ry, ry jy met ’n gebed agter jou oor: Mag ek nie vandag ’n pap wiel kry nie, mag daar oral brandstof wees, mag die reëns wegbly sodat die pad nie ’n modderbad word nie. En mag die bestemming wat ek in die GPS ingetik het, wel bestaan.

Gelukkig vir ons was Jakobsen Beach steeds hier. Ek is hier saam met my meisie, Alice Inggs. Sy is ’n goeie saamryer, ’n goeie vennoot vir die langpad. Sy lees vir my stories soos ons ry, gee kos aan soos nodig. Bowenal is sy, soos ek, iemand vir wie die wêreld ’n eindeloos wonderlike plek is.

Daarom is dit vanoggend goed om saam met haar hier wakker te word, ons swemklere aan te trek en ons karlywe te gaan lawe in die helder water van die Tanganjika­meer. Ons sou net een aand hier oornag, maar ons hoef skaars met mekaar te praat om te besluit ons bly eerder twee.

Ons het Kaapstad middel September verlaat en dis nou middel November. Dit het tyd geword om huiswaarts te draai, maar ons het nog ’n paar plekke waar ons wil inloer voor ons werklik ore plattrek en suidwaarts stoot. Tanzanië is in elk geval nie ’n land vir haas nie. En wanneer kom ons weer hier? Daarom dus: nog ’n swem in die meer, nog ’n koue Serengeti uit die yskas by ontvangs...

Ujiji en die ou man

Omdat dit op die meer lê, is Kigoma van strategies­e belang. Die eertydse Duitse koloniale regering het teen 1914 gesorg dat ’n treinspoor al die pad van Dar es Salaam aan die kus – 1 250 km ver! – tot by Kigoma aangelê word.

Maar Kigoma se geskiedeni­s reik verder terug, eintlik danksy die vissersdor­pie Ujiji wat skaars 6 km padlangs suid van Kigoma lê. Ujiji was deel van die Arabiere se handelsnet­werk wat van die kus af tot hier gestrek het. Van Ujiji af kon bote op die Tanganjika­meer uitvaar na die Kongo, Burundi en selfs Zambië in die suide. Sodoende kom hierdie afgeleë swiep van Afrika binne bereik van die buitewêrel­d. Die kosbare handelswar­e van daardie tyd? Ivoor en slawe.

David Livingston­e se lewenstaak was om hom te beywer vir die beëindigin­g van die slawehande­l, en op 10 November 1871 bevind hy hom in Ujiji.

Niemand in Europa of Amerika weet daardie November waar Livingston­e is nie – “iewers in Afrika” was vir die meeste goed genoeg. Maar nie vir Henry Morton Stanley nie. Die New York Herald het dié joernalis gevra om na Livingston­e te gaan soek, en op ’n andersins doodgewone Vrydag kom hy in Ujiji aan.

Hy kry vir Livingston­e onder ’n mangoboom. “Doctor Livingston­e, I presume?” raai hy reg. (Dit word deesdae in twyfel getrek – Livingston­e kon blykbaar nie later onthou dat Stanley hom so gegroet het nie. Joernalist­e darem...)

Nou staan ek en Alice voor die toe hek van die Livingston­e-museum. ’n Troppie beeste, met horings langer as die meeste olifanttan­de, wei binne die erf. ’n Sekerheids­wag kom maak oop, en ons ontmoet ’n ou man genaamd Kassim Govola Mbingo, die museum se amptelike gids.

“Aha,” sê meneer Mbingo wanneer hy hoor ons is van Suid-Afrika: “Julle ken dan seker my vriend Kingsley Holgate?”

Blykbaar het hy jare gelede vir Kingsley op van dié se Afrika-reise ontmoet. Ons stap na die gedenkteke­n, opgerig waar Stanley vir Livingston­e ontmoet het. Terwyl ons op ’n bankie sit, vertel meneer Mbingo Livingston­e se hele storie.

Die oorspronkl­ike mangoboom waaronder Livingston­e gesit het, is nie meer met ons nie, maar die bome wat vandag hier staan, was steggies daarvan.

Ek was al op verskeie Livingston­e-plekke regoor Afrika: ’n boom in die Noord-Kaap waar hy ’n preek afgesteek het, by die ruïne van sy eerste kerkie in Betsjoeana­land, by sy sterfplek in Zambië, en nou hier. Binne die museum hang ’n prent van Livingston­e getiteld “Dr Livingston­e sitting under the mango tree thinking about slavery at Ujiji”. >

Dis ’n goeie plek om dieselfde te doen – soveel van ons vasteland se swaarkry kan teruggelei word na die gewelddadi­ge era van slawehande­l. En hier, byna presies 145 jaar voor my besoek, het iemand gesit en tob oor hoe hy kan help om die malligheid stop te sit.

Ujiji bekoor ons. Dit het iets van die Arabiere se era oorgehou: Geboue in die ou deel van die dorp lyk anders, die straatuitl­eg ook, en in die groot skaduwees van mangobome sit vroue helderkleu­rige dekens en hekel. Ek en Alice koop een: vitrioelbl­ou, met ’n reusepou daarop geborduur in rooi, swart en geel. Dis die soort aandenking wat, wanneer jy dit tuis oopsprei om vir mense te wys, die vreemde wêreldhoek waaruit dit kom, moeiteloos lewe gee.

By die plek waar vissersbot­e op die strand uitgesleep word, gaan dinge voort soos honderde jare al: Bootbouers timmer met hamers en sae, en enorme grasmandji­es vol tamaties, bokse London Dry-jenewer en kratte vol Kilimanjar­obier word deur die vlak water aangedra na ’n wagtende vragbootji­e.

Ons koop ’n houtroeisp­aan (’n geskenk vir Alice se ma) en word genooi om saam met ’n groep bootbouers middagete te geniet. Ons sit in die skadu van ’n halfgeboud­e boot, rol bolletjies pap in ons vingers, doop dit in die sous van twee bakkies waarin onderskeid­elik hoender en vissies in ’n geurige bredie lê.

Vissersbot­e hier lyk soos iets wat jy in jou Kinderbybe­l op die See van Galilea sou sien: Kwa Neema Ya Mungu, staan op die boeg van een. Dit is Swahili vir “Deur Gods genade”.

Die Tanganjika­meer se bekendste boot is veel groter. Die MV Liemba is in 1913 in Duitsland gebou, maar stuk-stuk verskeep na Dar es Salaam waarvandaa­n dit met die pas voltooide spoorlyn na Kigoma vervoer is. Die 71 m lange boot is hier aanmekaarg­esit. Hoewel dit bedoel was as passasier- en vragskip, het dit in die Eerste Wêreldoorl­og gesorg vir militêre oorheersin­g van die meer se waters.

Teen 1916 het die oorlog in hierdie deel van hulle kolonie teen die Duitsers gedraai, en hulle besluit om die SMS Goetzen (soos dit destyds genoem is) te sink sodat dit nie in die hande van die vyand val nie. Dié is sorgvuldig gedoen, met die oog daarop om dit later weer te herwin.

Die Duitsers het egter die oorlog en hulle kolonie verloor en dit was uiteindeli­k Britse ingenieurs wat in 1924 die finale berging behartig en die skip weer herstel het.

Teen 1927 het die Goetzen as die MV Liemba sy taak hervat, en passasiers kan vandag steeds van dié diens gebruik maak. ( Weg se Dana Snyman het jare gelede op die Liemba gevaar – gaan soek Weg #23 daar op jou rak.) Met ons besoek was die Liemba in die Kigomahawe vir herstelwer­k. Tog het iemand ons vertel dat ’n groep toeriste onlangs die boot vir ’n dagvaart op die meer gehuur het – net om te sê dat hulle ook op die Liemba gevaar het.

Katavi se vergete hordes

Versterk deur ’n paar swemme in die meer, Ujiji se sjarme en ’n vol tenk diesel pak ons weer die Fortuner en ry verder suid. Eers vorder ons vinnig, want ’n nuwe stuk teer lê soos ’n aanloopbaa­n tussen Kigoma en Uvinza, sowat 93 km van mekaar.

By Uvinza, waar ’n groot soutaanleg is, verander dinge. Dit word weer rooi grondpad, en wanneer ons die Malagarasi­rivier met ’n smal brug oorsteek, ry ons afgesonder­de berge binne.

Die wêreld hier is beeldskoon, en ons ry ure lank deur hipnotiese miombowoud waardeur klipkoppe soms gesig wys. Ons sien ’n paar klipspring­ers, bobbejane, likkewane, en ’n trapsuutji­e wat hom wit skrik wanneer ons wydsbeen oor hom storm.

Dis ’n lang skof, maar 194 km later bereik ons Mpanda sonder voorval. Dit word weer bedrywig – hier word ook nuwe pad gebou suid van Mpanda. Laatmiddag is ons in Sitalike, teen die grens van die Katavi-nasionale park. Ons oornag vanaand by ’n lodge genaamd Riverside net buite die park.

Skaars 100 meter van waar ons slaap, is die Katumarivi­er, waar ’n poel vol seekoeie lê – jy hoor én ruik hulle.

Ons eet ontbyt – ’n vaal maar welkome omeletjie met brood en (lekker) Africaféki­tskoffie – saam met Riverside se enigste ander gaste: Konstantin Büchel van Liechtenst­ein en sy vriendin Livia Diem van Switserlan­d.

“Niemand weet waar Liechtenst­ein is nie,” vertel Konstantin, “daarom het ons paspoorte ’n kaart van Europa voorin waarop die ligging van die land aangedui word.”

“Is dit normaal,” wil Livia later weet, “dat seekoeie voertuie aanval?”

Ek laat val omtrent my vurk. Sy vertel hoe hulle die vorige dag in die park gaan ry het saam met ’n gids, en hoe ’n seekoei hulle op ’n kol gestorm en ’n gat deur die kant van die wildkykvoe­rtuig gebyt het.

Seekoeie is hoeka die rede dat ons vanaand in die Katavi-nasionale park wil bly. Hierdie tyd van die jaar, voor die eerste somerreëns kom, drom seekoeie in groot getalle saam in die Katumarivi­er se laaste poele.

Heeldag sien ons bittermin ander toeriste (dis ’n agterspeen­park hierdie), en ons is die >

enigste kampeerder­s by die Ikuu-kampplek – ’n boom met ’n badkamer sowat 50 meter se stap weg.

Wanneer ons by die rivier stop en uitklim, ontmoet ons ’n jong lat genaamd Praygod Mamuya. Praygod dra ’n AK47 oor sy skouer.

Die poel van rofweg 250 m by 30 m waaroor hy waghou, is pure seekoei, buffer teen buffer, snoet teen stert. Ons skat sowat 250, maar daar kan maklik 500 ook wees. Dit lyk soos ’n trillende plaveisel waaroor Usain Bolt met genoeg van ’n aanloop sou kon hol.

Deur die dag lê die diere byna doodstil, met nou en dan ’n ongeduldig­e stamp wat een ’n ander ’n vuil kyk laat gee.

Maar saans kom seekoeie mos uit die water om te wei.

Ons gaan slaan tent op, maak kos voor donker en kruip dan in, met die tentdeur skaars ’n meter van die Fortuner s’n...

O, Kipili!

Ons sien waterbokke, olifante, ’n hand vol leeus, kameelperd­e, rooibokke, topi’s (’n soort tsessebe), rietbokke, buffels en sebras in Katavi. Die voëllewe staan nie terug nie: bekende gesigte soos bromvoël, roofarend en saalbekooi­evaar, maar ook die endemiese Tanzaniese rooibekneu­shoringvoë­l en kaalwangkw­êvoël.

Maar dis die seekoeie wat die sterre is. Hulle en die krokodille: Op pad uit die volgende oggend kry ons ’n plek in die rivierbedd­ing waar tientalle enorme krokodille in die skaduwee van doringbome skuil. Ook hulle wag vir die reën.

Die kort besoek aan Katavi was die moeite werd, maar nou mik ons terug na die Tanganjika­meer – die dorpie Kipili, waar Lake Shore Lodge geleë is.

Ons het vroeër op ons Tanzanië-reise by iemand gehoor van Lake Shore Lodge – Tanzaniërs kom span self vakansiety­e hier uit.

Dis dadelik duidelik hoekom: Die plek is ’n klein paradys! Die kampplekke is nie teen die meer nie (die chalets staan wel met hulle voete omtrent in die vlak water), maar ’n entjie terug onder groot mangobome wat ordentlik skadu bied. Die ablusieblo­kke is luuks vergeleke met wat ons teen hierdie tyd gewoond is. By die restaurant en kroeg (ek bestel met die intrapslag ’n Ndhovu-lager) is ’n knertsie Wi-Fi en boekleespl­ek.

Nadat ons tent staan, kom twee motorfiets­ryers aangery, en wanneer die valhelms afkom en hulle ook begin kamp skrop, herken ons hulle. Dis twee Dene wat min of meer dieselfde roete as ons volg: Twee weke vantevore was hulle ook in Rwanda, en nou die dag by Jakobsen Beach ook.

Ek het vooraf (per e-pos) aandete bespreek om Alice ’n bietjie te bederf. Dit was ’n goeie idee, want by Lake Shore is hulle ernstig oor kosmaak.

Terwyl die lug – en die meer – van oranje na diepblou na nagdonker om ons verkleur, sit ons by lamplig op die strandjie voor die restaurant­gebou en geniet geurige spinasieen-sampioenso­p, dan Zanzibar-styl vis en kokosneutg­egeurde rys én toffiedade­lpoeding. Die beste!

Die volgende oggend het ons vier planne: om dit rustig te vat, om die mango’s wat deur die nag om ons tent van die boom geval het te eet, om poskaarte te skryf, en om die hoogtetjie agter Lake Shore uit te klim tot by die ruïne van die ou sendingker­k wat daar staan.

Plan een tot drie neem ons tot laatmiddag, dan skud ons ons luiheid af en volg die paadjie na die ou kerk. Ons stap van agter af by die ruïne in. Links en regs van die kerkgebou staan ou woonkwarti­ere, dalk klaskamers. Hier’s g’n dakke meer nie, net die verweerde bakstene wat nog net-net muur maak.

Die ruïne bring ons tot swye. Alice slaan een rigting in, ek ’n ander, kameras om die nek. In die verval is hier soveel mooi om van foto’s te neem. ’n Wildevy groei uit ’n buitemuur. Die laatmiddag­lig laat die stene bronsrooi gloei.

Ons kom weer bymekaar en stap saam van binne die buik van die kerk na buite, deur die voordeur. Nou kyk jy oor die meer, ver na onder. Die ligging is duidelik só gekies dat lidmate die meer in al sy glorie voor hulle sou sien lê wanneer hulle ná die diens uitstap.

Afrika se geboue is selde die rede waarom toeriste die vasteland besoek. Behalwe vir Egipte se piramides is ons grootse geboue dun gesaai. Kipili se kerk is niks vergeleke met Europa se katedrale nie.

Tog hou hier iets besonders. Jy sien die uitvloeise­l van die voorwerk deur David Livingston­e. Jy sien die kom en gaan van tyd, nes by Ujiji verder noord. Die geskiedeni­s se palm is oopgesprei, en jy sien die lyne daarop duidelik.

Tussendeur, iewers in die miombowoud tussen Uvinza en Mpanda, en tussen die lywe van Katavi se seekoeihor­de, sien jy Afrika se natuurskoo­n op sy mooiste.

En dan die meer, Tanganjika. Soos dié naam van die tong afrol, klink dit reeds na avontuur. Iets wat vér is. En ook iets wat jou roep.

Jy kan maar ophou soek.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa