DORP VAN DIE MAAND
Bring jou vlieërplank– Langebaan wag!
Desembermaand swaai strandhuise se hortjies wawyd oop en honderde sambrele staan in rye op die strand geplant. Maar jy kan heeljaar op Langebaan kom kuier. Behalwe vir branders is hier ook boetiekbier, blomme en stokou beendere.
Die Sand Bar in Langebaan is ’n paar strate van die strand af, en die plek waar die locals ná werk kuier. By die kroeg sit ’n ry manne stil en gebuk oor die toonbank. Een kyk op toe ek instap, knik sy kop en staar weer na sy bier. Op die dansvloer wieg ’n vrou in ’n rok met ’n kamoefleermotief toe-oë op die maat van Foreigner se “I Want To Know What Love Is”. ’n Weeksaand in die winter is seker nie die regte tyd om Langebaan se naglewe te leer ken nie, maar by Weg kan ’n mens nie altyd kies wanneer om ’n plek te besoek nie...
Langebaan lê in ’n halfmaan versprei al langs die gelyknamige strandmeer met Club Mykonos die verste punt in die noorde en die Weskus- nasionale park in die suide.
Saldanhabaai se liggies flikker buite, oorkant die baai. Dis laataand, maar dinge dreun steeds op die hawedorp. Treinspore karwei ystererts heen en weer, vragskepe word onder oranje spreiligte gelaai en die rooibruin stof van die ystererts kleef aan alles langs die treinspore. Maar op Langebaan word geen nywerhede toegelaat nie.
Die baai bied ook ’n veilige hawe vir besoekers en Langebaan se mense teen die onstuimige Atlantiese Oseaan. Die wind kan loei oor die see, maar die skiereiland tussen die Atlantiese Oseaan en die meer keer dat die branders hier ooit te groot raak.
Ja-nee, Langebaan is ’n vakansiedorp in murg en been. In die somer bars die kusdorp uit sy nate en sit vakansiegangers die strande en restaurante vol. Maar hier is steeds ’n hartklop in die winter – die meeste plekke bly heeljaar oop en jy staan nêrens in ’n ry nie. (En dan is daar plek op die dansbaan by die Sand Bar – Red.) Juliemaand word die dorp en omgewing ingeval deur die blomme: wittes, pienkes, oranjes, geles...
En as die blomme teen einde September begin verdor, marsjeer die sonsambreel-brigade weer in: pienkes, bloues, rooies...
Die regte tyd om te kom kuier? Enige tyd! >
1 Wie brou daar?
’n Goeie ou Castle Lager is deesdae nie meer goed genoeg vir die meeste kranige bierdrinkers nie. Elke tweede dorpie het ’n mikrobrouery waar brouers met gort en hop ’n unieke kontreibier aanmekaar probeer slaan. By Black Eagle Brewing Co., in ’n ou vissershuisie ’n paar minute se stap van die hoofstrand af, doen hulle presies dit.
Hugo en Elmien Roux, wat ook ’n drukkery op die dorp besit, het in hulle huis begin bier brou. “Ons het dit vir onsself gedoen,” vertel Hugo. “Ons wou bier maak wat ons wil drink as ons laatmiddag op die stoep sit.”
Hier is skaars plek vir ’n muis, maar Hugo is in sy element. Hy draai kleppe oop en toe, roer die janskruid (bier voordat dit gegis is) en monitor temperature.
Die hele operasie lyk primitief én modern. Tussen die gistenke en elektriese skale speel ’n konfytpot en gasstoof net so ’n belangrike rol. Hugo bottel die bier met die hand en vul die seisoenale bier se etikette in.
Hulle bier – met name soos Weskus Brekfis, Fisker, Hoppy In Love en Moedersmelk – is beskikbaar by verskeie restaurante in die kontrei. Koop gerus ’n paar bottels vir jóú stoep. Waar? Queens Cottage, Suffrenstraat 4. Koste Die biere kos tussen R25 en R60. Kontak 022 772 0594; bebc.co.za
2 Bring jou stofkwassie
’n Kameelperd met ’n kort nek klink nie na veel van ’n kameelperd nie, maar lank gelede het so ’n gedierte langs die Weskus gewei. By die Weskus-fossielpark maak jy kennis met die gebeentes van allerlei prehistoriese diere: varke, seekoeie en perde. Én bere.
Ons toer begin by ’n bord met ’n skets van hoe die omgewing ’n paar miljoen jaar gelede gelyk het. Rondom jou lyk dit asof die landskap uitgekalwe is met geelwit rotsrante wat plek-plek uitsteek.
“Die Bergrivier het eers hier geloop,” verduidelik ons gids, Karen Herman. “Die rivier het diep poele gevorm. Die diere het dikwels verdrink in fratsvloede en van die karkasse het agtergebly in dié poele.” Vandag staan hier twee tente waar die poele eens was.
In die jare veertig het tonne fossiele in die slag gebly toe fosfaatmyne oopgemaak is. In 1996 is ’n gebied van 700 ha tot ’n nasionale monument verklaar.
In die tente stap ons op staalbruggies bo-oor die opgrawings. ’n Klomp verskillende spesies is saamgegooi in ’n modderput waarna hulle versteen het, en sonder Karen is dit onmoontlik om hond haaraf te maak van wat hier aangaan.
Sy beduie met ’n lang stok na die hoop toe: “Hierdie is ’n kortnekkameelperd; hy sal ’n eland soos ’n duiker laat lyk. En hier kan jy sien hoe ’n voorvader van ’n hiëna aan ’n been gekou het.”
Jy kan ook jou lyf argeoloog hou. Buite staan drie sifbakke met gruis waarin jy kan soek vir die beentjies van knaagdiere of paddas.
Die geriewe lyk tans effens gehawend, maar daar is planne om die park tot ’n Wêrelderfenisterrein te laat verklaar en bouwerk aan ’n moderne sentrum is reeds voltooi – hou dus dié spasie dop. Waar? Langebaanweg, sowat 16 km buite die dorp in die rigting van die Langebaan-lugmagbasis. Koste Toere kos R80 p.p. en vertrek elke uur tussen 10 vm. en 3 nm. Elke toer duur 45 minute. Kontak 022 766 1606; fossilpark.org.za
3 Speel in die strandmeer
Dit is laatmiddag en hier is bykans g’n mense op Langebaan se hoofstrand nie. ’n Drawwer sukkel oor die sand, terwyl ’n kelnerin – nog in haar uniform – strandlangs huis toe stap ná haar lang skof.
Verderaan staan ’n gesin en lyn natmaak – hulle silhoeëtte strak teen die vurige oranje weerkaatsing op die strandmeer.
Langebaan het g’n tekort aan strande nie, en somermaande is dit net sambrele en sandkastele waar jy kyk. Sandbaaistrand suid van die hoofstrand is ’n kleiner, smaller en stiller weergawe van sy buurman, terwyl Shark Bay op pad na die Weskusnasionale park die gewildste is onder groentjievlieërplankryers. ’n Wat? ’n Kitesurfer, man.
Vlieërplankryers is sekerlik die enigste mense wat bly is as die wind pomp. En Langebaan het behoorlik ’n besigheid van wind gemaak. Die dorp word beskou as een van die beste plekke ter wêreld om vlieërplank te ry. Hier is blyplekke, opleidingskole en winkels wat toerusting verhuur vir mense wat van heinde en ver kom om hiér hulle vlieërs in die wind te laat bol.
Selfs in die winter wanneer die wind op sy makste is, rits twee vlieërplankryers heen en weer op die strandmeer. Rynard Visser ruk tot stilstand in die vlak water naby my terwyl sy pêl, Tanner Fourie, nog doer anderkant toertjies doen.
“Ons trek ons duikpakke aan en kom strand toe elke keer as die wind lekker lyk,” vertel Rynard, ’n Langebaan- local. “Die wind is flouerig vandag, maar ons maak ’n plan. Ons gebruik net groter vlieërs, so maklik soos dit.”
As jy wil leer om so ’n hengse vlieër baas te raak, loer in by Kitelab of Windtown in Breëstraat – sien die kassie op bl. 104.
Selfs die Farmhouse Hotel bied vlieërplankrypakkette aan. ’n Pakket wat vier dae se verblyf, ontbyt en vlieërplanklesse insluit, kos R6 370 p.p. Jy betaal net as die wind waai. As die weervoorspelling sê die wind gaan nie sterker as 13 knope wees nie, kan jy jou bespreking kanselleer sonder dat jy jou deposito verloor.
As die wind begin waai wanneer jy hier vakansie hou, sit die DStv af en kom kyk hoe dié vlinders van die see op die water bokspring en bollemakiesies maak. >
4 Slaap in ’n museum
Langebaan het ’n ryk geskiedenis. Voor Jan van Riebeeck se tyd het Europese reisigers al hier aangedoen, spesiale magte ( ja, die recce’s) word al jare hier opgelei en walvisjag was gróót.
Ten spyte hiervan is die Farmhouse Hotel in Egretstraat naby die seiljagklub die naaste ding aan ’n museum wat die dorp het. Hier is nie glaskaste nie en net plek-plek ’n inligtingsbordjie, maar die hotel is versier met allerlei oudhede uit die kontrei, van ossewa-onderdele tot grammofone.
Die mure is vol stories. Foto’s uit die sewentigerjare van troepe wat op die strand oefen, pronk in die voorportaal, ou kaarte hang in die gang en voorblaaie van ou Scope- tydskrifte is in die mansbadkamer opgeplak.
Selfs die storie wat Dana Snyman jare gelede vir Weg geskryf het oor Langebaan se walvisjagters, hang geraam in die Legends-kroeg (lees dit in Weg #91).
Bestel ’n bier en sit op die kroeg se stoep waar jy oor die ou slaweklok en die strandmeer uitkyk. Later die aand kan jy aansit by die Panoramarestaurant, waar daar wintermaande gewoonlik ’n vuurtjie knetter.
Onthou om ook die trappe regs van die ontvangskantoor te klim. Dit lei na ’n klein kamer met sowat 20 handgemaakte modelle van regte skepe – meestal visserskepe. Dis die handewerk van die afgetrede visserman Eric Wilsnach wat steeds hier in Langebaan woon. Die grootste model is van die Mispah, die vistreiler waarop Eric 26 jaar gewerk het. Waar? Egretstraat 5. Koste En suite-dubbelkamer: vanaf R950 p.n. (ontbyt ingesluit); gesinskamers: vanaf R3 140 p.n. met slaapplek vir 5 mense (ontbyt ingesluit) Kontak 022 772 2062; thefarmhousehotel.com >