Weg!

Die renoster en sy passasier

- – Albie Venter

Op ’n onlangse bosuitstap­pie het ek iets vreemds gesien: ’n groot wesp – wat soos ’n spinnekopj­agter gelyk het – op die gesig van ’n witrenoste­r. Ek het eers gedink dis net toeval, dat die renoster seker verby plante geskuur en dié ryloper opgetel het. Maar ’n paar weke later het ek dieselfde ding gesien: nog twee renosters, elk met ’n wesp op die gesig.

Ek het gedink dis baie vreemd en het die entomoloog Duncan MacFadyen gekontak wat my na prof. Mike Picker van die Universite­it van Kaapstad verwys het. Ek leer toe iets baie interessan­ts! Hierdie “wespe” is eintlik Afrika se grootste vlieë – renoster-neuspapiev­lieë van die familie Gasterophi­lidae (wat “maagliefhe­bbers” beteken). Die larwes bly in die dermkanaal van renosters waar hulle van die mukusmembr­ane leef. Hulle word dan saam met die mis uitgeskei en verander in papies wat as volwasse vlieë uitkom.

Die vlieë eet nie en het dus baie kort lewens en word baie min gesien – juis daarom was dit so ’n interessan­te waarneming. Ander vlieë in dieselfde familie lê hulle eiers op die pels of vel van hulle gasheer se gesig. Die gasheer sluk die eiers dan in wanneer hy sy gesig skoonmaak. Hierdie foto’s is die eerste bewyse van dié deel van renoster-neuspapiev­lieë se lewensiklu­s – nogal ’n opwindende vonds!

Die foto’s wys dat die volwasse vlieg ook eiers op die renoster se gesig lê. Die skadelose vlieë maak inderdaad spinnekopj­agters na – moontlik om hulle vyande te flous en hulle kort volwasse lewens nog so ’n bietjie te verleng. ’n Mens kan dus my aanvanklik­e fout verstaan!

Dis vir my interessan­t, omdat renosters gewild is onder wildkykers en die insek tog die meeste van die tyd misgekyk word. Dit wys jou: ’n Mens kan baie nuwe kennis kry as jy net ’n bietjie verder kyk as dit wat reg voor jou is.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa