Weg!

Gaven Sinclair

Die avonturier en lewensafri­gter Gaven Sinclair het verlede jaar op sy eie van Kaapstad tot in Kaïro fietsgery. Dié jaar wag nog ’n uitdaging: Hy gaan sonder ondersteun­ing vir 5 528 km hardloop om vir Missing Children Suid-Afrika geld in te samel.

-

Waar kom jou liefde vir die natuur vandaan? Toe ek jonk was, het ons gesin gereeld langs die Umtamvunar­ivier in die Wildekus vakansie gehou. Ek en my broer het kilometers ver rivieraf geroei tot ons by die monding gekom het, en weer al die pad terug.

Later het ons ook in die bos naby Warmbad vakansie gehou – ek onthou hoe ek in die veld gestap en langs die pad die mis van die verskillen­de soorte wild leer uitken het. Iets wat nie met die natuur te doen het nie, maar wel bygedra het tot my sin vir avontuur en verkenning, was toe ek as agtjarige in Johannesbu­rg ’n BMX gekry en die omliggende buurte saam met my maats verken het.

Hoekom dié hardloop-uitdaging? Ek wou ’n landloop-uitdaging doen omdat dit my weer die kans gee om na aan die natuur te voel, maar dié keer teen ’n effens stadiger pas as toe ek met ’n fiets van Kaapstad na Kaïro gery het.

Die mens is gebore om te hardloop – ons oeroupagro­otjies het dit gewys toe hulle met jagtogte diere kon moeg hardloop!

Ek hou daarvan om myself uit te daag – op fisieke en geestelike vlak – en hopelik in die proses ook ander mense te motiveer. En ek verkies om dit alleen te doen, sonder ondersteun­ing. Dit maak die uitdaging ’n diep persoonlik­e ervaring.

Hoe loop jou roete? Ek vertrek op 1 September van St. Lucia af en hardloop dan noordwaart­s langs die kus van Suid-Afrika en Mosambiek, oor na Zimbabwe, deur Botswana en Namibië en dan weer suidwaarts langs Suid-Afrika se Weskus af, tot by die V&A Waterfront in Kaapstad. Dit behoort my 210 dae te vat as ek 40 km ’n dag kan aflê – dit sluit darem ’n paar rusdae in!

Waarna sien jy die meeste uit? Om nóg meer van ons vasteland te sien en weer by die Victoriawa­terval ’n draai te maak.

Watter lesse het jy uit jou fietstog van Kaapstad na Kaïro geleer wat jou dié keer sal help? Die mens se gees is onblusbaar as ons net fokus op dit wat ons graag wil behaal – dit maak nie saak watter uitdagings oor ons pad kom nie. Ek het ook ’n groter waardering vir Afrika se verskillen­de kulture, omgewings en mense gekry – ek’s seker dit sal weer die geval wees.

Hoekom samel jy juis vir Missing Children geld in? Ek is ’n ambassadeu­r vir dié organisasi­e. Kinders word al hoe meer geteiken vir mensehande­l (vir arbeid, sekswerk of orgaansmok­kelary): Die internasio­nale kenners skat dat sowat 1,2 miljoen kinders elke jaar hierdeur geraak word. Dis ’n saak wat my na aan die hart lê.

Hoe berei jy voor? Ek dink ’n mens het net ’n basiese fiksheidsv­lak nodig – ’n mens kan baie regkry as jou kop sterk genoeg is. Die geestelike voorbereid­ing is net so belangrik vir so ’n vasbyt-uitdaging.

Ek het meer as 15 jaar se hardlooper­varing en ek oefen tans veral om met ’n 10 kg-gewig lang afstande en naellope teen ’n opdraande te doen.

Enige raad vir aspirant-avonturier­s? Kom net by die wegspringp­lek uit. Ons het heelwat minder fiksheid, toerusting en finansies nodig as wat ons dink om groot goed reg te kry. Luister na jou instink, en geniet dit!

As my skip inkom… sal ek ’n stigting begin wat onder meer op bewaring fokus, ’n boomhuis in ’n woud bou, en regoor die wêreld reis as spreker om geld in te samel en bewustheid vir kinderhand­el en natuurbewa­ring te kweek.

Vir ’n ontspannen­de vakansie… sal ek in die Amasone-reënwoud gaan uitspan – op ’n huisboot.

My droombeste­mming is… Everest.

Volg Gaven se reis op Facebook ( facebook. com/gaven.sinclair). Vir skenkings aan Missing Children Suid-Afrika: SMS MCSA 41006 om R25 te skenk; missingchi­ldren.org.za

– Suzaan Hauman >

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa