Weg!

2 Weskus- nasionale park

- – Erns Grundling >

Postberg is oop! Dié mantra lok elke jaar in Augustus en September duisende mense na die park wanneer die Postbergde­el baiekeer lyk asof derduisend­e blommesaad­pakkies gelyktydig ontplof het.

Ry vroegoggen­d die park by die hoofingang langs die R27 binne en volg die aanwysings vir sowat 20 km tot by Kraalbaai. Draai op pad soontoe af by die uitkykpunt oor die Atlantiese Oseaan.

Haal julle koffie en toebies by Kraalbaai uit en kyk uit oor die kalm turkoois waters wat tot by die groen heuwels in die verte strek. Huisbote en seiljagte dobber in die baai. Jy kan jou maklik verbeel jy is op ’n eksotiese eiland, duisende kilometer van die Kaap af.

Stap op die strand na die Preekstoel­rots wat soos, wel, ’n preekstoel lyk. Jy sal lank hier wil vertoef, maar maak seker dat jy teen 9 vm. by Postberg inry. Hoe gereeld sien jy elande en springbokk­e wat wei tussen plate geel, oranje en wit gousblomme? En dalk streep ’n bakoorjakk­als voor julle oor die pad.

Gaan hou by Plankiesba­ai stil as julle al Postberg se paaie gery het. Rek bene, stap tussen die blomme teen die heuwel uit en verkyk jou aan die ongerepte strand en die Atlantiese Oseaan. Terloops, dis hier waar ’n mens wakker word op die twee dae lange Postberg-staproete.

Mik vir middagete na die Geelbek-restaurant – die bobotie (R125) is watertand.

Sluit jou dag af by die Seeberg-uitkykpunt op pad terug Langebaan toe, waar die blomme net so mooi flikkers gooi soos in Postberg. Op ’n helder dag kan jy Tafelberg van hier af sien. Die Langebaan-hek en die pad wink huis toe, maar sit vir oulaas soos ’n dassie op ’n rots en kyk na die strandmeer wat soos ’n groot poel vrede voor jou uitstrek. Hoe kom ek daar? Die park is sowat 120 km van Kaapstad af. Tye 7 vm. tot 7 nm. Postberg is slegs oop in Augustus en September van 9 vm. tot 5 nm. Koste R70 per volwassene, R35 per kind; gratis met ’n Wild Card of van 18-22 September. Kontak 042 772 2144

 ??  ?? Die uitsig van Postberg af oor die Langebaan-strandmeer
Die uitsig van Postberg af oor die Langebaan-strandmeer
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa