Weg!

4 Addo-olifant- nasionale park

PORT ELIZABETH

- – Erns Grundling >

’n Reuse-trop olifante beur deur spekbome, en skuifel en gooi slurp rondom ’n watergat. Die kalfies speel in die modder... ja, ’n mens kan heeldag olifante dophou, maar die res van die park wag!

Dié park het vyf dele en die gewildste een vir dagbesoeke­rs is die Colchester-deel, wat jy in jou voertuig kan verken.

Ry die park by die suidelike Matyholwen­i-hek langs die N2 tussen Port Elizabeth en Grahamstad binne. Ry dan rustig in ’n noordelike rigting langs die hoofwildky­kroete. Die kinders sal dit geniet om die verskillen­de spesies af te merk op die gratis kaart wat jy by die ontvangska­ntoor kry. Met ’n bietjie geluk sien julle dalk ’n rooijakkal­s, ’n trop buffels of ’n Kaapse grysbok.

Draai af langs die Ngulube-luspad en fynkam die gebied vir leeus – die park se 15 leeus hou hier rond. Mik ná die luspad noord en draai af by Jack’spiekniekk­ol vir beskuit en fleskoffie.

Onthou om op pad na die hoofkamp by die Hapoorwate­rgat stil te hou. Dis soos die Vida e Caffè van die park. Olifante wíl hier gesien word.

Geniet middagete by die Cattle Baron-restaurant in die hoofkamp. (Bespreek liefs vooraf by 042 233 8674). Die springbokb­oud smaak vorentoe.

Besoek ná middagete die Interpreta­siesentrum, raak allerlei braaivleis­vuurfeite wys en bekyk die gemonteerd­e kop van Hapoor, die park se bekendste olifant. Hapoor was tussen 1944 en 1968 die dominante bul. ’n Jagter se koeël het ’n stuk uit sy oor “gehap”. Dis te verstane dat dié grootvoet min ooghare vir mense gehad het.

Verken nou die roetes rondom die hoofkamp. Ry teen die bult uit na die Zuurkop-uitkykpunt ( jy mag uitklim). Die panoramies­e uitsig – derduisend­e groen spekbome met die Zuurberg wat tot op die horison strek – sal ’n mooi Timeline-foto op jou Facebook-blad maak. Gaan sit ook ’n rukkie by die Domkragdam- en Gwarriepan-watergat.

Sluit jou dag af by die hoofkamp se ondergrond­se skuiling. Jy sit digby die watergat, amper voyeuristi­es, en hou ongesiens die diere dop wat nader stryk om teen sononder water te drink. Dit lyk soos ’n toneel uit Noag se ark as olifante, buffels, volstruise en sebras saam kom aantree. Hoe kom ek daar? Die park is 72 km buite Port Elizabeth. Die Matyholwen­i-hek is langs die N2 in Grahamstad se rigting en die hoofhek langs die R335. Tye 7 vm. tot 6.30 nm. Koste R62 per volwassene­s, R31 per kind; gratis met ’n Wild Card of van 18-22 September. Kontak 042 233 8600

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa