Weg!

6 Bontebok- nasionale park

SWELLENDAM

-

Bontebok is die hoekkafee van Suid-Afrika se nasionale parke: Dis klein, dis om die draai (as jy in die Kaap bly) en dis eenvoudig, maar dit het tog alles wat jy nodig het vir ’n luilekker dag. Dié park van sowat 30 km² lê aan die voet van die Langeberg net 5 km buite Swellendam en is ’n plek vir leeglê eerder as rondjaag op soek na die Groot Vyf.

Maak ’n fles vol koffie en begin jou dag met ’n wildrit op die oostelike sirkelroet­e. Die grondpad is plek-plek klipperig en die roete sal jou sowat ’n uur besig hou. Fynkam die renosterve­ld vir bontebokke, Kaapse bergsebras, rooihartbe­este, sekretaris­voëls en veldpoue. Hier is nie groot roofdiere nie en die diere is redelik mak, maar ’n bontebok sal wel verontwaar­dig proes as jy dit te naby waag.

Mik dan na Die Stroom, ’n dagbesoeke­rsterrein op die wal van die Breërivier in die suidwestel­ike hoek van die park, waar jy jou piekniekko­mbers op die groen grasperk kan oopgooi vir ’n laatontbyt of vroeë middagete. Die park het nie ’n restaurant of winkel nie; bring dus jou eie toebroodji­es. Nog honger? Steek solank ’n vuurtjie aan – hier’s braaigerie­we, maar onthou jou eie rooster en hout.

Nou’s jy reg vir gróót ontspan. Vang ’n middagslap­ie of lees daai nuwe Deon Meyer wat jy vir jou verjaardag gekry het. En kyk hoe mooi is dit hier: Die rivier krul lui om die krans aan die oorkantste wal en aalwyne blom langs die houtdek van die dagbesoeke­rsgebou. Dalk sien jy ’n groototter in die water plons...

Moenie jou swembroek, visstok en kajak vergeet nie – jy kan heeldag in die Breërivier baljaar. Diegene wat nou maar eenmaal nie kan stilsit nie, kan ook die park op bergfietse verken.

In die namiddag kan jy die Bosbokroet­e (5,4 km) stap. Die beginpunt is naby die Lang Elsie se Kraalruska­mp en die roete volg die rivier stroomop na ’n uitkykpunt en eindig by die dagbesoeke­rsterrein. Hier is ook twee korter roetes – Acacia (1,6 km) en Aloe Hill (3,3 km) – as jy net wil litte losmaak.

As die son begin water trek en jy’t nog nie genoeg bontebokke gesien nie, ry weer die wildkykroe­te. Of kuier rustig by Die Stroom tot dit tyd is om op te pak. Hoe kom ek daar? Die park is sowat 5 km suid van Swellendam langs die N2. Tye 7 vm. tot 6 nm. Koste R37 per volwassene, R18 per kind; gratis met ’n Wild Card of van 18-24 September. Kontak 028 514 2735; 028 514 3206 (parkkantoo­r)

– Martinette Louw >

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa