Weg!

8 Marakele- nasionale park

THABAZIMBI

- – Erns Grundling

Marakele is kleiner en stiller as die meeste ander nasionale parke. Maar hier sien jy die Groot Vyf en die skaars kransaasvo­ël, en jy ervaar ’n groot skeut Bosveld.

Dit verg beplanning en vroegopsta­an, maar ’n begeleide oggendstap saam met gidse is ’n moet. (Dagbesoeke­rs moet vooraf bespreek.) Kom beleef hoe die Bosveld ontwaak, hoor die kwêvoël se bekende roep en volg die spoor van ’n olifant, of selfs ’n leeu.

Die gidse is ervare en gewapen (net ingeval...) en leer jou sommer so in die stap van die Waterberg se geologie en plante en ook van die klein dingetjies: miershope, duisendpoo­tskelette, spore... En wie weet, jy skuur dalk skouers met een van die Groot Vyf – en dit nogal te voet!

Ry ná die staptog tot by die Ikhutseng-piekniekpl­ek, sowat 4 km noord van die hoofhek, vir ’n stewige laatontbyt – hier is braaiplekk­e. Die park het nie ’n winkel nie. Maak dus seker almal eet hulle trommeldik of pak genoeg koue wors in, want nou mik julle na die Lenong-uitkykpunt, doer in die oostelike deel van die park, teen ’n steil bergpaadji­e uit. Wees op die uitkyk vir olifante weerskante van die pad. Maak voor julle by die uitkykpunt uitklim seker jou slimfoon het genoeg stoorplek en batterykra­g. Gaan sit op ’n klip en wag vir die park se groot troefkaart: Die grootste kolonie kransaasvo­ëls op aarde – hier is 800 broeipare! As jy gelukkig is, vlieg die majestueus­e roofvoëls sommer hier neffens jou kop verby. Moenie te lank stilsit nie; netnou dink hulle jy is middagete...

Ry van Lenong af terug in die rigting van die hoofingang en draai af op die Mbidipad, wat tot onlangs toe slegs ’n 4x4-roete was. Langs hierdie pad het jy ’n goeie kans om leeus te sien. Hou stil by die uitkykpunt waar jy die Tlopi-tentkamp by die dam in die verte kan sien – jy sal wens jy kan vir langer as ’n dag bly... Hoe kom ek daar? Die park is 12 km noordoos van Thabazimbi en 250 km noord van Johannesbu­rg. Tye 6 vm. tot 6 nm. Koste R44 per volwassene, R22 per kind; gratis met ’n Wild Card of van 18-24 September. Die oggendstap begin 6 vm. en kos R325 p.p. (geen kinders jonger as 12 nie); dit is nie ingesluit by die Erfenismaa­nd-afslag nie. Kontak 014 777 6928

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa