Weg!

DAG 8 HLUHLUWE Kuier by die bure

-

Hluhluwe is dalk net langsaan iMfolozi, maar die twee wildreserv­ate verskil baie. Dis meer heuwelagti­g as by iMfolozi – mooi uitsigte is dus gewaarborg. As jy nie lus is om al jou goed te skuif nie, kan jy vir die dag by Hluhluwe gaan kuier via die Nyalazihek – maak net seker jy is voor 6 nm. weer terug in iMfolozi. Die ander opsie is om die nag by die HILLTOP-OORD in Hluhluwe deur te bring, of by die Hluhluwe Backpacker­s net buite die Memorial-hek (sien besonderhe­de hieronder).

Vat ’n breuk van julle wildrit en braai wors by die SIWASAMAKH­OSIKAZI-PIEKNIEKPL­EK op ’n kurwe van die Hluhluweri­vier (GPS S28.13872 E32.02000; hier is toilette). Volg dan die teerpad tot by die Hilltop-oord. As jy nie oorbly nie, rek jou bene met ’n tien minute lange stappie deur die woud, wat by die swembad begin.

Ry die middag ooswaarts in die rigting van die MEMORIAL-HEK, tot in ’n laerliggen­de gebied met die naam Magangeni, waar jy troppe uitbundige buffels behoort te sien. Ry van die hek af weer terug na die Magwanxa-gebied (3,2 km weg) en vat die sirkelgron­dpad tot by die Isivivanen­i-gebied via die Maphumulop­iekniekple­k (GPS S28.11822 E32.10206).

Die sirkelpad is doenbaar met ’n gesinsmoto­r. Dit loop langs die Hluhluweri­vier tot dit weer by Isivaveni by die teerpad aansluit. Ry van hier af terug tot by jou gekose blyplek. As ’n trop wildkykvoe­rtuie vol oorsese toeriste iewers langs die pad jou uitsig belemmer, wees net geduldig – hopelik is hulle twee selfies later weg.

BLY HIER

HILLTOP-OORD ’n Groot ruskamp by een van die hoë punte in Hluhluwe. Kies tussen selfsorgve­rblyf of verblyf wat alle etes insluit. Hier’s ’n swembad, klimraam en ’n restaurant. G’n kampplek nie. Koste Rondawel met slaapplek vir twee en ’n gemeenskap­like badkamer en kombuis: vanaf R920 p.n. Selfsorgch­alet met slaapplek vir twee: vanaf R1 740 p.n. Kontak 035 562 0848; kznwildlif­e.com

HLUHLUWE BACKPACKER­S ’n Ontspanne atmosfeer met basiese private kamers en slaapsale, net 2 km van Hluhluwe se Memorial-hek af. Koste ’n Dubbelkame­r met ’n gemeenskap­like badkamer en kombuis: vanaf R520 p.n. Kontak 076 375 3831; hlubackpac­k.co.za

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa