Ontdek die tuin (en kus) van Eden
Rondom Plettenbergbaai kan jy vir dae aaneen stap tussen strande, woude en riviere... Maar nie almal van ons is lus vir kitsnoedels en ’n swaar rugsak nie. Kom verken dié mooi kol in styl saam met Weg en Venture Beyond op ’n nuwe vyf dae lange slenterstap
Stappers stroom al jare lank na die strande, woude en heuwels rondom Plettenbergbaai. En hiermee bedoel ek nie die afgelope jaar of twee nie, maar ja-a-are al – van die eerste mense wat die aarde bewandel het, tot soveel as 160 000 jaar gelede, het dit in dié geweste gedoen.
Hier by die Matjiesrivier-skuiling waar ek nou staan, sowat ’n halfuur se stap oos van Keurboomstrand se hoofstrand af, kyk ek na ’n antieke vullishoop waarin duisende jare se geskiedenis opgestapel lê (’n “midden” in Engels). Dis ’n plek waar die oorspronklike strandlopers en hulle voorsate hulle oorskiet weggegooi het: skulpies, beentjies, groente, grate, as en bietjies gereedskap en potskerwe.
Die hoop is vandag nog 30 m lank, 15 m breed en 10 m diep, en die argeoloë lees dit soos ’n spanningsverhaal. Die heel onderste lae vertel van ’n tyd toe jy nie eens die see van Matjiesrivier af sou kon sien nie. Die groot water was meer as 100 km suid, maar sowat 14 000 jaar gelede het die Ystydperk sy laaste koue asem uitgeblaas. Die seevlak het begin styg en die voetslaners van ouds het strandlopers geword en mossels begin eet. Die lae wys hoe ons voorsate hulle dieet aangepas het van wit sandmossels tot klipmossels. Bo-op die klipmosselskulpies lê daar weer bruinmossels...
Skaars ’n uur gelede het ek nog gesmul aan ’n cappuccino en croissant in die woelige Plet, en nou staan ek op ’n plek wat sedert die Steentydperk nog nie veel verander het nie!
Dis juis die kombinasie van gemak en ongerepte natuurskoon, skaars ’n uur uitmekaar, wat gelei het tot die ontstaan van die Plett Trail. Venture Beyond het ’n jaar gelede saam met Plettenbergbaai-toerisme begin om veeldagstappakkette saam te stel, met kundige gidse, netjiese blyplek, bobaas maaltye, wynproeë en selfs perdry- en roei-uitstappies. Ek is nou hier om ’n recce van die roete te doen spesiaal vir ons lesers. Ja, dis ’n moeilike lewe.
Val in die pad
Ons eerste stapdag begin in die parkeerterrein by Keurboomstrand, waar Venture Beyond se minibus ons en ons gids, Sarah Hearn, aflaai. Ons stap van Keurbooms af tot by Nature’s Valley, ’n stewige dag van sowat 14 km verby strande, kranse, fynbos, woud en selfs ’n rivier.
Sarah maak seker ons pantser ons gesigte met sonbrandroom en dat almal vol
waterbottels in hulle dagsakke het. Dit is ’n soel, windstil herfsoggend. Regs lê die blou see. Links troon die groen kranse die lug in. Voor ons lê ’n wit strand sonder voetspore en wink. Dís mos nie werk nie, dink ek.
By die monding van die Matjiesrivier wys Sarah vir ons die spore van ’n groototter wat voor ons die rivier oorgesteek het. ’n Ent verder soek swarttobies tussen rotse na kos. “Dié byna bedreigde voëls is volop hier, ’n goeie aanduiding dat die ekostelsel nog gesond is,” sê Sarah.
Ná ’n uur of wat se stap langs die strand sny ons binneland toe, deur ’n melkhoutwoud en opwaarts teen ’n heuwel oortrek met fynbos, tot ons stilstaan in die skaduwee van eeue oue geelhout- en stinkhoutbome. Ons bestemming is Forest Hall, een van die oudste en mooiste opstalle in die kontrei. Die eienaars van Venture Beyond, Grahame Thomson en sy suster, Julie Carlisle, het ons piekniekmiddagete hierheen aangery, en ná ’n stywe klim deur die woud kan ons skoene uitskop en smul.
Magies vol, maar die ogies kan nie toe nie, want ’n middag se stap deur die kuswoud tot by Nature’s Valley lê nog voor. En ons moet die Soutrivier oorsteek voor die gety inkom, anders gaan ons moet oorswem...
Die versoeking om by die vele uitkykpunte af te saal en te dagdroom is groot. Ons neem foto’s dat dit klap, stap enkeldiepte deur die Soutrivier, kort daarna oor ’n laaste heuwel en siedaar: Onder ons lê Nature’s Valley (en die bussie wat ons na ons slaapplek neem) en wag.
Môre roep die Robberg-skiereiland. Hoe troef ’n mens ’n stapdag soos vandag, wonder ek in die kooi terwyl my ooglede swaar word.
Robberg roep
Luck’z Mdzeke, ons gids, staan vroegoggend gereed om ons Robberg toe te neem. Die Robberg-skiereiland is ’n natuurreservaat met drie sirkelroetes wat wissel in afstand en moeilikheidsgraad. Ons wil die langste een doen, al om die skiereiland se punt. Die sowat 8 km behoort ons omtrent vyf uur te neem, sê Luck’z.
Volgens hom is die baai se strande nou al die afgelope paar dae vir swemmers en branderplankryers gesluit omdat heelwat witdoodshaaie in die omgewing gewaar is. As ons gelukkig is, sien ons dalk bo van die kranse af hoe ’n witdoodshaai jag maak op die robbe wat in die klokhelder water onder ons baljaar, of dalk selfs ’n moordvis... >
Toe nie, maar ons sien wel een yslike olifantrob wat soos ’n vet (verdwaalde) duikboot tussen die honderde dartelende Kaapse pelsrobbe ronddobber. Sy GPS het hom duidelik in die steek gelaat – hy moet eintlik veel verder suid tussen die ysberge wees.
Robberg is skaars 8 km van Plet se middedorp af, maar jy voel heeltemal afgesonder. Die uitsigte oor die skiereiland en onstuimige Indiese Oseaan dwing jou telkens tot stilstand.
Teen middagete is ons klaar gestap en ons ry saam na die Bramon-wynplaas sowat 20 km noordoos van Robberg vir ’n wynproe en tapas. Provitas en Melrose-kasies kan gaan slaap – dís mos die staplewe! Dié wynplaas van Peter Thorpe en sy vrou, Caroline het al verskeie pryse losgeslaan met hulle Kaapse vonkelwyn.
“Toe ons die plaas in 2000 gekoop het, was dit oortrek met indringerplante,” vertel Peter. Hulle het skoongemaak, wingerd geplant en in 2004 die eerste oes ingebring. Vandag is hier byna 20 wynplase in die omgewing soos die Kaapse wynlande al verder oos migreer. Oor 50 jaar is Grahamstad dalk die nuwe Stellenbosch – wie weet?
Nabetragting...
Kyk, ’n mens eet, drink en kuier lekker in dié deel van die land. Teen die volgende middag twaalfuur se kant hou ek alweer my lyf smulpaap by die legendariese Totties Farm Kitchen op die plaasdorpie Rheenendal.
Ons het vroegoggend die “Kringe in die bos”-roete in die Diepwalle-woud noord van Knysna gestap saam met Meagan Vermaas (die amptelike Dalene Matthee-gids).
Die paadjie was gelyk en skaars 4 km lank, maar dit het ons nogtans drie uur geneem. Dis alles Meagan se skuld: Ons kon nie ophou luister na haar stories oor Matthee se boeke, die eeue oue kalanders, die houtkappers en goudmyners wat meer as ’n eeu gelede in die woud gegrawe het en die olifante wat steeds hier ronddwaal nie... ( Die inheemse woud is nie beskadig deur die onlangse brande in dié omgewing nie – Red.)
Oor ’n boetiekbier en ’n vól bord boerekos besin ek oor die afgelope paar dae. Dis een ding om in ’n mooi omgewing soos Plettenbergbaai jou eie koers in te slaan, maar om saam met passievolle gidse soos Sarah, Luck’z en Meagan sin te maak van alles wat jy om jou sien, ruik en hoor, bly ’n besonderse ervaring.
Hoe anders sou ek vroeër vanoggend die “bidup-bidup-bidup” in die digte onderbos as die geluid van ’n groenrugkwêkwêvoël kon uitken? Meagan het die blare teruggevou en my gewys presies waar die wipstert sit en wip.
Én op die koop toe word álles vir jou gereël – jy kan net opdaag. Ja, die Plett Trail sien my en my tekkies beslis weer.