Weg!

DORP VAN DIE MAAND

Calvinia is bekend vir skaapvleis, sy groot rooi posbus en die Lombard-vierling. Maar vlak onder die voubiljetv­erhale lê ’n Karoodorp wat jou met die hand groet en binnenooi.

- WOORDE EN FOTO’S SOPHIA VAN TAAK

Calvinia is bekend vir sy naweek lange vleisfees in Augustus. Maar vertoef ’n bietjie langer en jy word sommer familie, vind Sophia van Taak uit

‘My magtig! Dat ek nou my kleinniggi­e hier op Calvinia moet staan en ontmoet!” sê die vrou en kom haastig van agter die slaghuisto­onbank uitgestap. Het sy met mý gepraat? Ek weet my pa se mense kom uit die Hantam-Karoo, maar ek was onder die indruk hulle is almal met die jare vort. Sy steek voor my vas: “Rika Esterhuyse, bly te kenne.”

Hoe’t sy geweet ek is op Calvinia? Nee, Herman van die Blou Nartjie het vroegoggen­d gebel.

Ek het laat gistermidd­ag uit die Kaap hier aangekom, met daardie eerste storm van die winter kort op my hakke. ’n Koolstoof of kaggel was eerste prioriteit, en só beland ek in die Blou Nartjie, met ’n bakkie biltongsop en ’n bord winterkos. Die soetpampoe­n en gestoofde perskes het my reeds saf gemaak, maar tóé proe ek die skaaptjops, met ’n rojale vetjie. Ek moes eenvoudig by Herman Fick, die eienaar en sjef, uitvis waar dié vleis vandaan kom.

Ek volg Rika tussen bandsae en bakke sosaties deur tot in Calvinia Vleis se kantoor om familie uit te lê. Haar oupa Koos en my oupa Thomas was broers, verduideli­k Rika. Dan praat ons oor die droogte. Op die platteland is dit byna ’n gebod om oor die weer te gesels. Hier’s immers ’n direkte verband tussen die reënvalsyf­er en die ure slaap wat ’n mens snags kry.

Die Kareedam is al sedert Desember sonder water en die hele distrik is afhanklik van boorgate. Gelukkig lê die ruwe Hantamberg vanoggend gladgevee onder ’n laag sneeu. >

LAAT JOU YSTERLEMME ROL (oorkantste blad, kloksgewys van regs bo). Richardo de Wee is ’n blokman by Calvinia Vleis. En daai tjops onder die lem is (natuurlik!) van die geurigste in die land.

WELKOM IN DIE REPUBLIEK! Dirk van Rensburg en een van sy brakkies, Vicky, sit ’n bietjie agteroor in die Republic of RusticA se kleurryke kuierlapa.

MOSSIE MAAR MAN. Tannie Martie Steenkamp se Mossienes lyk van buite af beskeie, maar hier word gewoeker! Kyk net daai reuse-brood vars uit die oond.

’n Lang gryskopman verskyn in die deur: “Wat betaal jy nou vir jou derms?” Dis Neels Koch, ’n Freddy Hirsch-verteenwoo­rdiger. Op sy baadjie pryk die woorde “a family of flavour” en tussen hom en Rika word ek ingelyf tot die slaghuisfa­milie: “Droëwors word gewoonlik in ’n skaapderm gestop. Dis die 20 mm-derm en hy kos so R50 per bossie – dis nou sonder belasting.”

Ek leer ook van speserymen­gsels, die verskil tussen ’n lam en ’n tweetandsk­aap, en hoe lank ’n karkas moet hang.

Die dermprysge­kibbel duur voort en ek gaan maak kennis met tannie Mirna Visagie, ’n werknemer, en Maryke Visagie, die produksieb­estuurder (hier’s ’n horde Visagies, maar nie almal is familie nie). Maryke werk al 39 jaar hier in die Van Niekerks se slaghuis. “Dis in my bloed om vleis te werk; ek is nie ’n kantoormen­s nie,” sê Maryke. “Rika was drie weke op vakansie, toe neuk ek daai rekenaar darem vir jou lekker op!”

Tussendeur lui die telefoon kort-kort soos die bestelling­s inkom en die personeel moet bontstaan. Die blokman Richardo de Wee draf karkas-oor-die-skouer uit die koelkamer en so vinnig as wat hy die boude en blaaie behendig deur die bandsaag stuur, verpak tannie Mirna die tjops – netjies, netjies. My skielike waardering vir die skoonheid van ’n slagding herinner aan my ouma wat – ná die weeklikse uitstappie van die ouetehuis in die Paarl winkels toe – sou vertel: “My kind, ek het in Pick n Pay gestaan en staar na die vleis. O, dit was so mooi!” Sy was immers ook ’n nooi van Calvinia. Skynbaar kan jy die mense uit die Hantam haal, maar nooit die Hantam uit sy mense nie.

Dié ouma van my het net langs Calvinia Vleis grootgewor­d in wat deesdae die Hantam Huis is. ’n Paar vertrekke is met antieke meubels ingerig, hier’s ’n restaurant en jy kan jou spens met konfyte, beskuit, piekels, kleinkoeki­es en gemmerbier aanvul.

Ek bestel ’n koppie moerkoffie en dwaal deur die kamers. Ek onthou Ouma se stories oor hoe daar altyd musiek in dié huis was: “Saans, as die skottelgoe­d gewas is, dan het my broer Dirk begin speel – viool of saxofoon. Dan kom Andries, ’n neef van my – hy speel kitaar. Dan kom ’n ander ou, Louis Sher, ook met ’n kitaar. En so kom hulle – ons huis was elke aand gepak van jong mense.”

Voor die koolstoof in die kombuis steek ek vas. Dis seker hier waar hulle saans sou sit, die vlamme wat teen die rietdak dans elke keer as iemand nog ’n stomp by die oonddeurtj­ie inskuif. Dit herinner my aan wat een van Calvinia se mees geliefde boorlinge, Rona Rupert, in haar boek Die Koningskin­d van die Hantam geskryf het:

Oranje is die kleur van die vuur wat in die koolstoof in die kombuis brand. Saans as die veld en die kliprantji­es slaap en die donker deur die venster kyk, en soggens vroeg as die ryp nog wit lê op die werf, altyd kan jy maar na die koolstoof gaan. Vir warmte, of iets om te drink, of sommer net vir troos – as troos is wat jy soek.

Rona het hier grootgewor­d, op die plaas Doega. En in dié boek skilder sy haar kleintydhe­rinneringe in drie kleure – oranje, blou en bruin:

Heerlik bruin is die reuk van die veld op die plaas, van skaapbossi­es en ganna, en koekemakra­nka.

Ek wil byvoeg: Bruin is ook die kleur van skuinskoek – soos jy dit net hier in die Hantam kry. Calvinia het ’n handjie vol baksters, soos tannie Martie Steenkamp. In haar winkel, die Mossienes, staan ’n drukkoker en sis – tannie Martie maak ook daagliks skaapvleis-, wild- en hoenderpas­teie. En sy bak gemmerkoek­ies, soetkoekie­s, mosbeskuit, karringmel­kbeskuit, souttertji­es, melktertji­es, you name it. “’n Skuinskoek se geheim is vet,” verklap sy terwyl my kieste bolstaan. “Jy knie die deeg met régte vet, dan braai hy so mooi bruin en bros.”

Teen R20 vir ’n pak van 14 is dit ’n winskopie. Bel tannie Martie ’n paar dae voordat jy deur Calvinia ry met jou bestelling.

Nóg iets wat daagliks op Calvinia gebak word, is brood. Ek ontmoet vir Dirk van Rensburg van die Republic of RusticA se bakspan, Booi van Wyk, Mario Ryk en Leon Tieties, waar hulle besig is om 25 kg deeg in 60 brode om te tower. Ek staan met my rug teen die oond waarin die dag se eerste baksel al boepens rys.

Die meeste gastehuise en restaurant­e kry hulle daaglikse brood by Dirk. (Jy kan ook brood bestel teen R9 elk.) Die Republic of RusticA is dus ’n belangrike skakel in die gemeenskap. Dirk en sy vrou, Sonja, is kunstenaar­s en die ganse Republic is hulle skilderdoe­k, met die tuin getooi in beelde uit skrootmeta­al – soos ’n moerske fantasievi­s uit ou pikkoppe wat in die wilgerboom hang.

“Jong, sommige mense noem ons die hippies,” grinnik Dirk. “Ons is byna ’n besienswaa­rdigheid hier op die dorp!”

Wel, hulle huis en gastekamer­s is beslis, >

 ??  ?? DIE GEWAG OP DIE WEER. Calvinia word beskut deur die Hantamberg in die noorde en die Rebunieber­g (foto) in die suide. Hierdie toneel is dorp-uit langs die Willistonp­ad afgeneem.
DIE GEWAG OP DIE WEER. Calvinia word beskut deur die Hantamberg in die noorde en die Rebunieber­g (foto) in die suide. Hierdie toneel is dorp-uit langs die Willistonp­ad afgeneem.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa