WIELE
Mahindra se TUV300 gaan nie sommer die koppe laat draai nie, maar Cyril Klopper meen sy ritgehalte is heel aanvaarbaar
Die TUV300 is die jongste (ietwat eksentrieke) sportnutsvoertuig deur die Indiese motorvervaardiger Mahindra. Cyril Klopper wonder of hy
– soos ’n steekhaarbrakkie – ’n troetelnaam verdien.
Kompakte sportnutsvoertuie is uiters gewild, en om goeie rede. Hulle is maklik om te parkeer, ry woerts-warts deur ’n besige dorp, en naweke kan jy met een gaan kamp. Hulle is relatief goedkoop om te onderhou, en as dit by koopprys kom, is Mahindra se aanbiedinge moeilik om te klop.
Buitelangs Mahindra sê die TUV300 se ontwerp is deur militêre tenks geïnspireer. Hy het sekerlik hoekige lyne en die bakwerk is aansienlik groter as sy mededingers – die Ford EcoSport en Renault Duster – maar ’n oorlogmasjien is nie die eerste gedagte wat ’n mens kry nie. Die stilering behoort nie soveel verdeeldheid as die Nissan Juke te saai nie, maar dis gewis eiesoortig.
Iets wat ek vreemd vind, is die vorm van die deure wat skuins na bo en agter swiep. As jy na aan die TUV300 staan en die deur vinnig oopmaak, gaan die boonste hoek van die deur jou teen die kop moker.
In die algemeen lyk die TUV300 nie te onaardig nie – ’n bietjie soos ’n lelike brakkie wat jy maklik liefkry, juis oor sy voorkoms. Die TUV300
het beslis voetgangers se aandag getrek, maar ek kon nie altyd hulle gesigsuitdrukking lees nie.
Binnelangs Beige is nie ’n opwindende kleur nie, maar Mahindra het daarin geslaag om met die saaiste skakering van beige vorendag te kom – en toe die binneruim van die TUV300 daarmee uitgevoer.
Die instrumentepaneel gee darem lewe te midde van die oordaad beige. Die silwer en swart panele vertoon goed en die dunnerige materiale waarvan dit gemaak is, is darem netjies. Die voorste sitplekke is gemaklik en die voubare armleunings voel luuks wanneer jy jou elmboog daarop rus en die N1 deur die Karoo aanpak. Die middelste ry voel ferm, maar daar is genoeg kop- en beenruimte. Let wel dat die TUV300 nie Isofix-ankerpunte vir kinderstoeltjies het nie.
Die agterste twee sitplekkies is verspot en eintlik nutteloos. Twee volwassenes wat dwars (nie vorentoe nie) hierin sit, gaan diep in mekaar se oë moet kyk terwyl hulle kniekop-xilofoon speel. Jy kan beweer dat die sitplekkies eintlik vir kinders bedoel is, maar hier is nie eens sitplekgordels nie!
’n Boaardse manstem met ’n eienaardige Engelse aksent bulder êrens uit die kar se binneste as jy iets verkeerds doen, byvoorbeeld as jy vergeet om die handrem te laat sak of versuim om jou sitplekgordel te dra. Die stem groet jou ook elke oggend wanneer jy die sleutel draai. Aan die begin is dit vermaaklik, maar teen die vyfde dag gaan jy wens daar is ’n manier om die ding te ontkoppel.
Die vensters se skakelaars sit ook op ’n vreemde plek: reg onder die handrem. Wat de joos?
Hoe ry hy? Die driesilinderdieselenjin is soggens raserig, nes dit ’n diesel betaam, maar hy raak stiller namate die olie warm word en die kleppe smeer. ’n Mens is ook deurentyd bewus van die enjin se vibrasies, veral as die TUV300 by ’n verkeerslig luier.
Gepraat van luier: Om brandstof te bespaar skakel die enjin outomaties af by verkeersligte of stopstrate. Om dit weer aan die gang te kry moet jy die volgende doen: Trap die koppelaarpedaal, wag totdat die enjin heeltemal aan die gang is en druk die rathefboom eers daarna in eerste. As jy enigsins van hierdie metode afwyk, sal die TUV300 summier weier om te werk. Dis frustrerend, en te oordeel na die toetergeraas agter jou voel ander mense ook so. Gelukkig kan dié funksie afgeskakel word.
As die TUV300 eers op spoed is, verskaf hy egter ’n lekker rit. Die gemaklike vering slurp slaggate op en die bak rol darem nie te erg as jy om ’n skerp draai ry nie.
Die TUV300 trek ook sterk deur die ratte danksy die dieselenjin se lekker wringkrag en die windgeraas is verbasend min gegewe die hoekige bakwerk.
Die ratgange voel lank – amper soos ’n twintigjarige Hilux s’n, maar in die algemeen is dit lekker om agter die stuur van ’n TUV300 te sit. Slotsom Dis maklik om ’n goedkoper voertuig sleg te sê. Hou in gedagte dat vervaardigers soos Mahindra sy bes doen om oulike katoeters in voertuie aan te bied, maar dit steeds bekostigbaar te hou.
Teen R230 000 kry jy baie kar vir jou geld en die gepaardgaande aardighede word later deel van sy karakter. Die TUV300 is die soort motor wat vinnig ’n troetelnaam by sy eienaar kry.