Weg!

LAWRENCE VAN DIE WESKUS?

Nie alle kamele droom van ’n Arabiese reis na verre lande anderkant die sand nie. Party wil net rustig staan en tuinplante vreet, besef die leser Werner Winterboer.

-

Die goed kom mos van Egipte af?” “Nee, my broer, jy dink aan die piramides,” stry die twee petroljogg­ies oor die twee kamele wat agter op die sleepwa staan. Ontmoet vir Pilot en General wat ek gister by Karel Kameel van Camel Friend op Krugersdor­p gaan haal het. Die plan? Om soos wafferse Toearegs met die kamele strandlang­s van Strandfont­ein tot op Elandsbaai te ry. Maar eers moet ek vir Pilot en General op Stilbaai kry waar ek en my reismaat, Michael (Mike) van der Spuy, ons kameel ry vaardighed­e moet slyp .( Tegnies is hulle dromedaris­se; dis die regte naam vir ’n kameel met een boggel.)

Later die middag hou ek stil by my ouers se strandhuis. “Dodge net die bene en tande,” waarsku ek vir Mike. Ek lei vir General eerste af. Met sy eerste tree gee die ramp mee en hy pootjie met lyf en al uit die sleepwa. Ek maak maar asof dit soms gebeur. Pilot klim doodluiter­s af soos wat enige mens by die see sou doen. Hulle vreet rustig my pa se plante terwyl die verbygaand­e karre briekmerke voor die strandhuis los.

Thabong Redebe, een van die kamele se hanteerder­s, het gesê “koes” is die bevel wat ’n kameel sal laat sit. “Koes, koes, koes!” roep ons verwoed. Pilot gaan sit, maar General is beslis nie hier om te luister nie. “Koes, koes, ko-o-o-es!”

Ek kry later vir Thabong op my foon se luidspreke­r om vir General te “koes!” Hy bly staan. Plan C is om met ’n lat te maak of jy gaan piets, aldus die kameelmens­e. Dit werk, en General is op sy knieë.

Ons sit die saals op en ek spring gemaklik op Pilot. Maar binne sekondes sien ek net die wolke tussen my tone, en ’n stuk boom... voor my kop die grond tref. Mike lê ook op die grond – van die lag. Sowat tien minute later is ons albei uiteindeli­k bo-op die kamele.

Ek skree “go” en gee ’n ligte voetdruk in die heupe. Ek probeer Pilot vergeefs wegstuur, maar hulle mik reguit na die bome en gou trek ons deur die takke en lê weer op die grond.

Genoeg vir een dag. Alles sal okei wees, dink ons. Daar is mos nie bome langs die Weskus nie.

Ná swak en, wel, geen beplanning hou ons ’n week later stil op Strandfont­ein. Ons verdeel die bagasie tussen ons: tent, stoele, slaapsakke, ketel, rooster, kos, water... Met baie tou begin ons die kamele pak soos die Arabiere. Iets wat ons op TV gesien het.

Pilot lê stil en General rol soos ’n hond in die sand. Ná ’n gesukkel en ’n gekoes sit ons bo-op die kamele, reg om strandlang­s te stap.

Toe ons ons weer kom kry, draai die kamele om en loop terug in die rigting waaruit ons gekom het. “Hulle like nie die sand nie. Hulle gaan terug sleepwa toe,” sê Mike.

Ons klim af en lei hulle eerder met die hand. Ná 10 km kry ons ’n droë boomstomp om die twee aan vas te maak vir die aand. Ons slaan kamp op, maak ’n rooiwyntji­e oop en kyk hoe die son ondergaan.

‘Wie het gesê die goed is cute?’

“Hulle is weg,” is die eerste ding wat Mike vir my sê ek toe ek my oë oopmaak. Ek spring uit die tent en hardloop oor die eerste duin. So ver as wat die oog kan sien, is daar nie ’n kameel in sig nie. Mike is reeds so klein soos ’n mier terug Strandfont­ein se kant toe.

Ek vat hulle spoor van die stomp af. Ek klim duin ná duin en stap oor ’n grondpad tot by ’n ou plaasdraad. Daar staan die twee ál >

kouende, met ’n uitdrukkin­g wat vra: “Hoekom is jou gesig so rooi?”

Terug by die tent sluk ek ’n appel omtrent heel in van die honger. Daarna mik ek met die latjie reguit na die twee kwaaddoene­rs en gee net een tikkie op die boud. Kóés!

Later is Mike terug en terwyl ons pak, hou ’n oupa en sy twee kleinkinde­rs naby ons stil op die dienspad wat agter die sand verbyloop.

“Is julle lus vir ’n koue,” vra Francois du Toit. Hy beduie hulle strandhuis is die laaste huis op die horison sowat 4 km verder. Met nuwe hoop kap ons vier stuks aan.

Die Du Toits bederf ons met potbrood en kaas en konfyt, en ’n yskoue bier. Tot die kamele kry ’n lusernbaal. Ons kuier soos ou vriende.

“Vra vir die eienaar van Sopieshoog­te of julle oor sy grond tot op die strand kan stap,” groet Francois later.

Ná ’n paar opklimslae besluit ons om heelpad te stap. Sopieshoog­te klink nie te ver nie. Die grondpad slinger al langs die kus. Bordjie op bordjie kom verby. Maar Sopieshoog­te staan nie op een van hulle nie. Ná 12 km kry ons ’n man langs die pad.

“Dis nóg 12 km tot by Sopieshoog­te, daar by daai brug,” antwoord hy.

Dis al skemer – ons sien die brug in die verte. Met moeë voete, voosgetrap­te plakkies en ’n gebrande nek skraap ons ons laaste energie bymekaar en loop tot onder die Sopieshoog­tebord net langs die treinspoor.

Skielik kom ’n trein aan. Terwyl ek wag vir die regte hoek om ’n foto van ons te neem – die kamele en die trein – trek die twee met ’n spoed los. Hulle word ál kleiner langs die trein. En die dag word al donkerder.

Die laaste ding waarvoor ek nou lus is, is om agter twee kamele aan te hardloop. Ek begin dink hoe ek vir Karel gaan verduideli­k sy kamele is vort.

Ons stap moedeloos in die rigting van die hensoppers en tel die bagasie op wat stuk-stuk afgeval het. Met die laaste lig kom ’n kar verby.

“Kan jy vir ons ’n lift gee tot by ons kamele, asseblief, Meneer?” “Kamele?” “Ons kamele het vir ons weggehardl­oop.” Ek probeer nog verduideli­k, maar Mike spring in en gaan sit amper op die ou se rollie.

“Ek’s ’n undercover cop,” sê die man vinnig. “Ek doen net my rondes.”

Gelukkig hoef ons net ’n entjie te ry. Ek is verbaas deur hoe bly ek is om hulle te sien!

Lambertsba­ai se liggies skyn genadiglik in die verte. Ons stop by die eerste geboutjie wat ons teëkom–dis’ n klein sekerheid s wag huisie. Die twee ouens keer dat die publiek op die dienspad ry.

Die twee wagte kyk verskrik na die diere. “What’s this?” vra die een en stap nader met sy Nokia-foon se flitsie. Die dorp is nog sowat 3 km se stap, maar ons slaan net daar kamp op. Grootliks omdat ek nie meer kan loop nie.

Die volgende oggend bederf ons onsself met ’n behoorlike ontbyt op die dorp terwyl die sekerheids­wagte ’n ogie op die kamele hou. Ons bedank later die twee wagte met ’n 2 liter Coke, pak op en mik weer dorp toe.

Daar gekom, is dit nie lank nie of die fotonemery begin. Dit voel asof elke Lambertsba­aier ’n selfie saam met die kamele wil neem. Ons eindig later op die stoep van twee broers, Schalk en Danie van Zyl, met ’n groot bord kos. Ons kuier terwyl Pilot en General op die gras gevoer word soos gode. Om te groet was nie maklik nie, maar dis nog sowat 5 km tot by die Muisbosske­rm.

Dié bekende restaurant het ’n kampterrei­n, Malkoppan, oorkant die pad. Hier bied die eienaar, Ian Turner, vir ons slaapplek aan. Terwyl ons die kamele vasmaak, nooi ’n klomp jong mense ons vir seekos. Dis meestal die sjefs en visbraaier­s wat vakansiety­e help by die bekende restaurant.

Ek leer oesters oopmaak en Mike leer oesters sluk. “Gooi net baie peper en Tabasco op, dan proe ’n mens dit nie eens nie,” gee iemand vir hom raad.

Voordat ons inkruip, is General en Pilot nog net waar ons hulle gelos het. Ons gaan slaap. Dankbaar.

Vroegoggen­d val ons in die pad om betyds op Elandsbaai aan te kom. Teen dié tyd is die kamele en hulle dinge al ou nuus. Dalk verbeel ek my, maar dit lyk tog asof die twee drommels ’n soort ritme gekry het.

Op Elandsbaai wag ons vriend Irish Leach met ’n sleepwa vir die kamele om ons ’n geleenthei­d huis toe te gee. Voordat ons ry, bederf hy ons met ’n bier by die Elandsbaai-hotel.

“En hoe was dit?” wil hy by ons weet. “Die kamele was maar steeks, maar ek het opnuut besef Suid-Afrika het wonderlike mense,” antwoord ek.

 ??  ?? TREK LAER. Pilot en General by die eerste aand se kampplek, ongeveer 10 km buite Strandfont­ein.
TREK LAER. Pilot en General by die eerste aand se kampplek, ongeveer 10 km buite Strandfont­ein.
 ??  ?? IN GELID. General (voor) en Pilot volg vir Mike kort voordat hulle by Sopieshoog­te die hasepad gekies het.
IN GELID. General (voor) en Pilot volg vir Mike kort voordat hulle by Sopieshoog­te die hasepad gekies het.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? VRIENDELIK­E ONTVANGS. By die Muisbosske­rm-restaurant het Elna Balie, Fransiena (Baba) Nel en Ben Toontjies ons én die kamele met oop arms ontvang.
VRIENDELIK­E ONTVANGS. By die Muisbosske­rm-restaurant het Elna Balie, Fransiena (Baba) Nel en Ben Toontjies ons én die kamele met oop arms ontvang.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa