Martjie en die Nartjie
Hoe beplan jy die perfekte ervaring? Die antwoord is eenvoudig: Jy beplan nie, jy doen net. So nooi ons my broer Frans Heyneke en sy vrou, Yvonne, saam vir ’n blommekykvakansie sie in die Noord-Kaap. My storie is ’n lag met ’n traan, want dit was – sonder dat enigeen kon weet – my en my man, Johann, se laaste uittog. Hy’s nou tien maande oorlede, maar die herinneringe hou my aan die gang.
Met al die persoonlikhede in een voertuig was dit moeilik om saam te stem oor iets. Waaroor ons wel kon saamstem, is dat ons op ons oudag ’n avontuur gaan hê... ons gaan kyk waar die pad ons lei!
Net voor sonsondergang hou ons stil op Calvinia en vra waar ons kan oornag. Uit een mond kom dit: “Die Blou Nartjie-gastehuis.” Daar aangekom, word ons letterlik met ope arms verwelkom toe ’n jonge dame voor die kar inspring en waai! Ek is stom, want hoe ken hierdie jong meisie my man? Dis eers nadat ons die voertuig geparkeer het dat die meisie uit haar maag begin lag – sy het gedink dis haar pa se voertuig. Hoeveel wit Subaru’s kan daar nou op Calvinia wees? Ons nommerplaat heet Martjie, en haar pa s’n Nartjie.
Hoe ouer ’n mens word, hoe meer besef jy elke oomblik is kosbaar. Soms moet jy bloot jou hoed in die lug gooi, jou skoene uitskop en begin dans, want jy weet nooit wanneer jy jou laaste “nartjie” deel nie.
MARTJIE LAMPRECHT, Tzaneen