Weg!

Ek verlang na ’n treinvakan­sie

-

Ek was gaande oor Deon Strydom se rubriek “Die trein na Willowmore” in Weg #149. In die vroeë tagtigerja­re het ek, my ma, Jennifer, en my broer, Gregory, gereeld per trein gereis na my ouma en oupa, wat op ’n plaas naby Ugie in die Oos-Kaap gebly het. Op die inlasfoto is ek 4 en my broer 11.

Ons het in die aand opgeklim by Bellville-stasie buite Kaapstad en teen drieuur die volgende middag op De Aar in die Karoo op ’n ander trein geklim. Dié trein het ons elfuur die aand op Sterkstroo­m afgelaai.

Hier het ons in die wagkamer langs die Queen Anne-houtstoof die tyd verwyl. Teen middernag was dit bitterkoud. Ek onthou twee keer het ons vir ’n paar uur by die stasiemees­ter se huis gaan slaap. ’n Warm bad en ontbyt was natuurlik deel van die uitnodigin­g!

Die laaste deel van die rit was op ’n goederesto­omtrein. Ek het dikwels gewonder of die enkele passasiers­wa spesiaal vir ons aangelas is – sover ek kan onthou, was dit altyd net ons, die drywer en die kondukteur.

Die reuk van steenkool wat brand laat my nou nog verlang na die Suidelike Drakensber­g, met swart roet in my neus en hare, en my oupa en ouma wat op die platform vir ons wag. Ek is dankbaar dat ek nog dié soort reise in Suid-Afrika kon ervaar.

SONA HART, Kaapstad >

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa