Ons gesels met
Dié natuurkenner het in 1990 begin duik – ondanks die feit dat sy aan engtevrees ly. Sedertdien het sy onder meer ’n gids oor die seediere van die Kaapse Skiereiland geskryf én sy help om ons lesersvrae oor die see en sy diere te beantwoord.
Van waar die liefde vir die buitelewe? Dit voel asof dit maar nog altyd daar was! Maar dit het dalk destyds met ons gesin se seevakansies (van Wildernis tot die Wildekus) begin. Ek het in die Hoëveld grootgeword en ’n dag op die strand het soos die heel beste ding op aarde gevoel! Ek het later rotspoeletjies verken en toe boeke daaroor begin lees – heelwat deur Gerald Durrell, die Britse natuurkenner, skrywer en TV-aanbieder wat onder meer geskryf het oor sy grootwordjare op die Griekse eiland Corfu.
Wat behels jou werk? Ek sukkel altyd met wat ek langs “beroep” moet invul op vorms... en kies op die ou einde altyd “natuurkenner” – die Engels is “naturalist” – die outydse woord vir iemand wat die natuur dophou en opteken en dit probeer verstaan. (Georgina het eintlik ’n graad in ekonomie en in biochemie.)
’n Tipiese dag behels dalk dat ek my kamera opstel in sy onderwaterhuls en ’n paar duike gaan doen, al die diere en gedragspatrone wat ek raaksien opteken, en my foto’s by die huis gaan verwerk. As ek by die lessenaar sit, skryf ek dalk ’n duikkursus of -lesing of ’n artikel oor seelewe. Of ek doen navorsing oor die lewensiklus van ’n seedier.
Wat is die beste deel van jou werk? Om onbekende spesies en gedragspatrone te ontdek en iets te sien wat niemand nog gesien het nie. Ek geniet ook die interaksie met seediere: ’n gesprek met ’n seekat, ’n vissie wat hom in die palm van my hand tuismaak, om die paringspatrone van krappe dop te hou of daai foto van ’n blitsvinnige seeskoenlapper te neem.
En die slegste deel? Om te verduidelik wat ek doen! Nee, dis eintlik wanneer wetenskaplikes voorbeelde soek van spesies wat nog nie beskryf is nie, en ek die een is wat hulle uit die see moet haal en dus doodmaak. Ek weet dis noodsaaklik – daarsonder sou ons nie ons kennis kon uitbrei nie – maar dis nie vir my lekker nie.
Hoe word iemand met engtevrees ’n kenner oor duik en seelewe? Dit was maklik: Ek het verlief geraak op die onderwater-wêreld. Al was ek nog bang het dié liefde my aangespoor om onder die water te bly, meer tyd daar deur te bring en te sien dis eintlik glad nie ’n benoude plek nie. Ruimte-agentskappe lei ruimtevaarders onder die water op vir vryval en plekke met nul swaartekrag omdat jy in enige rigting kan beweeg.
Waaraan werk jy op die oomblik? Ek’s besig met die laaste poetswerk aan DIVESouthAfrica – ’n oriëntasiekursus wat mense inlig oor Suid-Afrika se wonderlike duikplekke. Ons toestande kan uitdagend wees en dit wissel heelwat van plek tot plek, maar die seelewe is die moeite werd. Gaan kyk by southafricandiver.co.za na dié kursus.
Hoe kan mense wat vir ontspanning duik, betrokke raak by die opbou van wetenskaplike kennis? Wat ons weet van die lewe onder die water, kom gewoonlik van dood of sterwende organismes wat in ’n net of aan ’n haak na die oppervlak gebring word. As skubaduikers het ons ’n unieke blik op die seelewe en wat ons sien – interaksie tussen spesies, onderwatergedrag en ongewone diere – kan ’n belangrike bydrae lewer. Ons het byvoorbeeld vroeër vanjaar ontdek die plaaslike naaldvisspesie (’n soort seeperdjie) kom in groot groepe byeen om te paar. Navorsers van dié spesie het nie daarvan geweet nie!
Die Suid-Afrikaanse nasionale biodiversiteits- instituut (SANBI) gebruik iSpot ( ispotnature.org) as die platform waar lede van die publiek foto’s kan deel. Ons het ook heelwat Facebook-bladsye geskep waar mense kan deel wat hulle onder die water gesien het: Soek vir Underwater Cape Town, Sea Fish Atlas, Sea Slug Atlas en Crustacean Atlas. Jy kan ook by surg.co.za foto’s oplaai. Dis ’n baie waardevolle hulpbron vir wetenskaplikes.
Wat is die vreemdste of interessantste ding wat jy al onder die water gesien het? Seker seeskoenlappers. Dis klein, swemmende slakke en hulle is so vreemd as wat hulle klink (sien die foto’s hierbo). Maar ek moet sê: Min dinge kom by die gevoel daarvan om saam met ’n walvis in die water te wees – dis baie opwindend!
Waar is jou gunstelingduikkol? Valsbaai. Dit boei ’n mens – hier is ’n groot verskeidenheid spesies en al het ek van die siklusse leer ken, is ek nooit seker wat ek volgende gaan sien nie.
Watter raad het jy vir iemand wat meer wil leer oor die seelewe, maar nie noodwendig ’n duikkursus wil doen nie? Die kursus wat ek hierbo noem (DIVESouth Africa) is ontwerp as ’n aanlynkursus met ’n praktiese deel. Dis maklik om in te skryf en die lesings te doen, te kyk of dit vir jou interessant is en dan te besluit of die onderwaterwêreld vir jou is. En dis gratis – dit kos net geld as jy ’n kwalifikasie wil hê.
Of gaan maak ’n draai by die Twee Oseaneakwarium in Kaapstad of uShaka Marine World in Durban. Dis uitstekende plekke om die wonder van die wêreld onder die water te sien. Daar’s ook heelwat video’s aanlyn wat vir jou ’n idee gee van hoe dié wêreld lyk.