Tarangire- nasionale park
Van Arusha af ry ons wes oor kaal vlaktes waar Maasai op een of ander manier hulle kuddes aan die lewe hou in die weke voordat die eerste reëns kom. Ons spoor kampplek op skaars 20 minute se ry van Tarangire se parkhek, by die nederige maar agtermekaar Wild Palm-kampplek.
Die Tarangire- nasionale park is ’n plek waar jy kan vashaak. Die twee dae wat ons gehad het om die park te sien was te min. Die baie kremetartbome (hierdie foto) laat jou by tye aan die Krugerwildtuin dink. Ons diere- en voëllysies het by die uur gegroei: van Grant se gasel tot olifant, lui leeus tot dikgevrete jagluiperds, berghaan tot lepelaar, askleurige spreeu tot skaars geelkraagparkiet. Ons besoek was in die droë seisoen (Oktober), en diere het rondom die watergate en riviere gehou. Ons soeke na skaars boksoorte soos die gerenuk en fraiingoorgemsbok ( fringe-eared) was vrugteloos, maar die uitsig wat ons een middagete van die piekniekplek af oor die Silale-moeras gehad het, staan sterk in die geheue. ’n Trop olifante het die moeras – halflyf diep – ingevaar met die dorre Tanzaniese vlakte wat in die verte vibreer. Dít was wat ons hier in die noorde van Tanzanië kom soek het.