DORP VAN DIE MAAND
Aandag alle Gautengers: Ry julle hierdie Desember na die Drakensberg of Durban? Hou op pad stil op dié piepklein dorp, waarvan jy waarskynlik nog nooit gehoor het nie.
Die dorpie Val het minder permanente inwoners as ’n Springbok-toergroep, maar ons vertel jou hoekom dit die moeite werd is om stil te hou
Die dorpie Val lê sowat ’n uur en ’n half van Johannesburg af, op die goudbruin vlaktes van Mpumalanga, tussen ’n spoorlyn en ’n rivier. Met drie strate en minder permanente inwoners as ’n Springbok-toergroep, sou ’n mens dink Val is ’n sogenaamde one-horsedorpie. Toe nie... Dis ’n dorp met ’n halwe perd: Rita Britz van die Val-hotel vertel dat die dorp ’n perd met Greylingstad deel.
Die eerste ding wat ’n mens raaksien as jy Val binnery, is skoene. Hulle waai in die wind aan ’n draad wat oor die hoofstraat gespan is.
Dit was Rita en haar man, Andre, wat die eerste paar oor die draad gehang het; nou gee die draad al mee van al die tekkies.
Hulle inspirasie was die uitdrukking “om jou skoene agterna te gooi”, wat beteken om dankbaar te wees. En hulle het baie om voor dankbaar te wees. Ná dekades se harde werk het hulle ’n afgeleefde hotel op ’n verwaarloosde spoorweghalte herbou en ’n geskiedenisryke dorpie laat herleef.
Die Britze het ook sentimentele redes vir die herstel van Val. Rita se voorvaders het agt generasies lank hier rond geboer en die grond is nou terug in familiebesit. >
Dis vroegmiddag in die Moegeploeg-kroeg, die Val-hotel se kroeg, en ’n Australiese mynwerker is keelvol. Sy baas het hom beveel om op Val pleks van in Johannesburg te bly.
“What am I doing in Fall?” vra hy, en plak sy bier met ’n dramatiese gebaar neer. Sy taalgebruik is dus meer kleurryk as wat dit hier blyk, maar nie so kleurryk soos die neonkleurige veiligheidsklere wat hy aanhet nie – net so ’n eg Australiese neiging. Ek gee hom ’n halfuur, dink ek. Dis die ding met Val: Dit vat ’n rukkie om gewoond te raak aan die vreedsaamheid wat jou binnesypel. Dit klink net anders hier. Rustig. Hier’s geen stadsgedruis nie. Dan hoor jy die veraf gebabbel van die inwonende klompie ganse wat die dorp patrolleer. En dan sal jou ore dink hulle hoor verkeerd as hulle Portugese geprewel in die lug optel. Jy sal die prewelings volg tot by ’n megafoon wat aan ’n straatlamp vasgemaak is en LM Radio uit Maputo speel. Maar teen dié tyd verbaas dit jou glad nie. Welkom in Val.
In die dorp se begindae was hier egter gans ander geluide: die gestamp, geskree, gesug en gekreun van treine. Dié geluide het in 1896 die eerste keer weergalm, nadat Paul Kruger besef het hy het iets sterkers as poskoetse nodig om goud van die Laeveld af in Johannesburg te kry.
Joseph Smith, wat die plaas Oudehoutspruit op die oewer van die Watervalrivier besit het, het ’n deel van sy plaas vir die regering aangebied. Dié stuk grond het toe Waterval geword, en die naam is ’n paar jaar later verkort tot “Val”.
Kort voor lank het Val ’n spoorwegstasie, algemene handelaar, poskantoor, hotel, rolmeul en smidswinkel gehad.
Drie jaar later het die Anglo-Boereoorlog uitgebreek. Joseph – wat op goeie voet was met sy Afrikanerbure – het sy neutraliteit verklaar en Val tot die einde van die oorlog verlaat. Sy vrou, Elizabeth, het aangebly om die plaas en besighede te bestuur. Sy sou blykbaar op die stoep tee drink saam met haar bure en haar dan verskoon om by die agterdeur rantsoene aan Engelse soldate uit te deel.
Op 29 Desember 1900 is die geluid van treine onderbreek deur die knal van ’n groot kruitontploffing. Twee Boere-broers, Jack en Gert van den Heever, het ’n bom onder die spore geplant, ongeveer 4 km van Val af. ’n Groepie Boere met Mausers het die trein oorval, Britse soldate gevange geneem en die trein se vrag gebuit: vyf ossewaens vol drank. Net betyds vir ’n oproerige Oujaarspartytjie.
Die partytjie was legendaries. Drank is
vrylik met die Britse gevangenes gedeel terwyl Jack – die man van die oomblik – net genoeg jenewermoed gehad het om ’n senior kommandolid te vra of hy met sy dogter kan trou. (Jack hét toe met haar getrou, ná die oorlog). Ondanks die vuurwerk op die treinspoor was daar geen slagoffers nie.
Die trein het jare lank pos, nuus en skinderstories na die dorpie gebring, maar die grootste nuus wat Val verlaat het, was nadat Jan Smuts, Louis Botha en Koen Britz op 6 April 1902 by die Val-hotel vergader het in die kamertjie wat nou die hotel se biblioteek is. By dié vergadering het hulle die Vrede van Vereeniging bespreek, wat tot die einde van die tweede Anglo-Boereoorlog gelei het.
Val was al gasheer vir ’n hele paar ander bekendes uit die geskiedenis, maar nie almal het in ’n hotelkamer geslaap nie.
In die middel van ’n vredesoptog van Durban na Johannesburg is Mahatma Gandhi in Val gearresteer en gedwing om ’n nag in die klein tronk deur te bring. Hy het geweier om die tronk se vleiserige kos te eet en ene mev. Janoo – ouma van Latib Janoo wat steeds die winkel onder in die straat besit – is opgekommandeer om ’n vegetariese gereg vir die toekomstige bevryder van Indië te maak.
Die son volg die treinspore weswaarts op pad na die horison en die twee gesinne wat oorbly in die selfsorghuisies (en Val se bevolking die hoogte laat inskiet), trek hulle braaiskottels tot op die sypaadjies.
Val is veilig. Kinders hardloop op hulle eie rond, jaag ganse op fietse en verken die treinstasie. Die dorp is skoon, vreedsaam en vol interessante plekke om aan te doen – die ideale aftrekplek op pad die Hoëveld uit.
Soos die gaste na die Moeggeploeg-kroeg migreer om die rugby te kyk, gly die son se laaste strale in die verte van ’n silo af en sny deur die veters van die swaaiende skoene aan die draad. Led Zeppelin se “Stairway to Heaven” – uitgesaai uit Mosambiek– dryf van die luidspreker die aandlug binne.
Negentig minute later – te midde van die Cheetahs-ondersteuners wat traag hand skud met Bulls-aanhangers wat hulle bes probeer om nie te ingenome te lyk nie – het die knorrige Australiër ’n kitaar beetgekry. Hy sing “House Of The Rising Sun” uit volle bors. Hy gloei in sy oranje over-all – en van selfvertroue – en is sy baas ewig dankbaar dat dié hom beveel het om in Val te bly.
Ek is seker sy werkstewels gaan nog voor die oggendtrein hier intrek, ook op die draad swaai. >