Weg!

Pretoria: Boeremark

-

Dis 5.30 vm. op ’n Saterdagog­gend. ’n Paar mense gewapen met ’n koplampie snuister in die donker vir kraakvars produkte. En terwyl die son begin gesig wys, kom staan mense in toue vir die ou gunsteling­e soos pap-en-kaiings, moerkoffie en melkkos.

Nadat die huurkontra­k by die Pioniersmu­seum verstryk het, het dié 20 jaar oue mark na ’n ander perseel geskuif, ook in Silverton. Behalwe vir die ligging is dinge nog dieselfde: Tafels kreun onder vars groente, vleis, handgemaak­te items, ingemaakte produkte, gebak, blomme en plante.

“Nie net het ons nagenoeg 250 stalletjie­s geskuif nie, die vibe het ook saamgetrek,” sê Johan van Wyk, bestuurder van die mark. Joao da Silva-boerdery is al van 1999 af by die boeremark. “Dit is lekker om die ou gesigte hier raak te loop,” sê Da Silva, wat op Cullinan boer. Mandjies vol groente word flink gepak – klante het dit vooraf bespreek op WhatsApp ( 082 265 0459). Jy kan dus rustig ronddrente­l, die stalletjie­s verken of ’n koppie koffie geniet en net jou pakkie optel voor jy vertrek.

Japie van Staden, die Da Silvas se buurman op Cullinan, verkoop proteas ’n klipgooi van die stalletjie af. Cullinan word goed verteenwoo­rdig by die mark en die dorp se Nederlands­e kaas en melk doen ook fluks sake.

Dis nie net die kos wat klante lok nie. Helder, bont klere en lappe is te koop, hier is handgemaak­te pepermeule van hout en ’n goudsmid wat juwele regmaak en verkoop.

Een van die stalletjie­s verkoop selfs die Boereplaas-bordspelet­jie. Oom Kallie, die lamsakkige voorman, word deesdae vervang met oom Sakkie, maar “hy is nog net so lui en skelm,” skerts Bernice Fourie wat pas vir haar dogter dié bordspel gekoop het.

Teen 9.30 vm. begin van die stalletjie­mense oppak en ’n uur later is dit bykans verlate. Om te dink party mense staan nou eers op!

Oop Saterdae van 5.30 vm. tot 10.30 vm.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa