Hartenbos, Suid-Kaap
Hartenbos laat mense gewoonlik dink aan ’n lang strand met hope mense en handdoeke en sambrele so ver as wat die oog kan sien. Of dalk dink jy aan die ou waterwurm (met sy leuse “Ek sluk, jy geniet”), draairoomys wat teen jou gewrig afloop, warm mini donuts en sekerlik die propvolste kampterrein in die land.
As jy ’n grompot is, roep jy te veel lywe op tussen vlooimarkstalletjies wat goed koop wat hulle nie nodig het nie, en ’n hengse gesukkel om parkeerplek te kry.
Miskien dink jy aan Cora Marie se “Hartenbos O Hartenbos” (en die jonger geslag aan Snotkop se “Hiekies op Hartenbos”).
Ek dink aan dít alles, en nog meer. Ek het grootgeword op Hartenbos. Hartenbos is waar ek met nerfaf knieë en singende speke leer fietsry het.
Dis waar ek – sommer in die see – leer swem het en later leer branders ry het.
Ek is ’n Januarie-baba en het sommer my partytjies langs die strand gehou. Ek onthou hande wat plaatkoek – dik gesmeer met karamel – verorber en die reuk van Coppertone en kaaskrulle voordat ons al jillend weer gaan swem het. Of strandkrieket gespeel het (op die foto bo probeer ek koel lyk met ’n donkerbril en op die ander foto is ek links).
Ek het hier leer woeker – terwyl die res van die wêreld vakansie gehou het, het ek Die Burger verkoop vir sakgeld (en later allerhande ander dinge – van juwelierskoonmaakgoed by stalletjies tot vis-en-tjips by ’n restaurant).
By die sokkies in die Skoffelskuur het ek met klam hande leer vas-, los- en close dans, en later leer vry (vir laasgenoemde twee was Boyzone se “No Matter What” ’n treffer).
Ek het gemeensaamheid elke Kersdiens in die Amfiteater beleef, daar waar tienduisende saam “Stille Nag” sing.
Hier het ek my vrou ontmoet, en hier is ons getroud.
My ouers bly steeds hier. Elke Desember (en meer gereeld, soos die begroting toelaat), sal jy ons hier vind.
Ons kou aan warm mini donuts, mor oor ons nie plek het om ons handdoeke op die strand oop te gooi nie en sing saam aan “Stille Nag” by die Kersdiens.
Ons smeer ons twee kinders Coppertone, en leer hulle swem in die soel waters (my dogtertjie, Moya, is versot op branders ry soos haar pa).
Ek hoop tog dat hulle ook so beskut kan grootword, al is die wêreld wilder as toe.
En al is die Koffiehuis en die Sentra nie meer daar nie, is Hartenbos steeds my hartsplek. En weet jy, deesdae is daar meestal parkeerplek vir almal – nou kla die mense weer omdat hulle moet betaal.