Skaars samangoape word ál skaarser
Vir ’n land met vele soogdierspesies het Suid-Afrika eintlik nogal min soorte primate. Vyf van die primaatsoorte wat hier voorkom, is nagapies, en twee – blouape en bobbejane – word dikwels as peste beskou. Die skaarsste en mooiste aapsoort wat in ons immergroen inheemse woude voorkom, is die samango-aap. Verder noord in Afrika staan dit ook bekend as Sykes- of blouape. In Suid-Afrika is hulle beperk tot die habitat in die ooste van die land tot so ver suid as die woude van die Oos-Kaap.
Hulle eet meestal plantmateriaal soos vrugte, blare en blomme. Samango-ape vorm hegte sosiale groepe van tussen 10 en 35 ape, met ’n dominante mannetjie as leier. Ek bly op die woudagtige hange van die Blyderiviercanyon in Limpopo, en hier hoor ’n mens elke dag so ’n mannetjie se territoriale bulderroep. Die geroep help dat groepe eweredig versprei is en om onnodige konfrontasies te vermy.
Wyfies verlaat selde hulle geboortetrop, en aangesien die ape almal familiebande deel, is daar min onnodige kompetisie vir kosbronne. Daarom lyk die ape op die oog af vreedsaam.
Die enigste ander roep wat die stil ape ooit gee, is ’n harde “pyow”geluid, wat gewoonlik aandui dat ’n roofdier naby is. Luislange en luiperds sal samango-ape vreet, maar hulle aartsvyand is die sterk kroonarend, nog ’n woudbewoner wat uitstekend aangepas is om primate te jag. Dis nie ongewoon om verskeie samango-aapskedels onder ’n aktiewe kroonarendnes te kry nie.
Samango-ape is skaars – ’n direkte gevolg van hulle gefragmenteerde woudhabitat wat al kleiner word. Woude word skoongemaak vir ontwikkeling of landbou en dit beperk die ape se verspreiding sodat klein geïsoleerde bevolkingsgroepe bestaan. As geen diere ingebring of weë ontwikkel word wat groepe aan mekaar verbind nie, sal samango-ape dalk plaaslik uitsterf.
Daar is goeie nuus ook: Waar ek bly, kon ek al sien hoe die plaaslike groepe se verspreidingsgebied uitbrei – grootliks danksy mense wat “woude” skep deur hulle tuinbou-aktiwiteite.
– Albie Venter