Weg!

SONY ALPHA A9

-

Moenie hierdie nuwe spieëllose kamera van Sony vlak kyk nie:

Hy boks saam met die swaargewig­te.

Wat het ons hier? Sony is breëbors oor dié nuwe spankaptei­n. Die a9 is meer as een stap beter as sy a7-reeks, en kos amper drie keer meer – jy gaan jou kind vir ’n jaar uit universite­it moet hou as jy dié stuk toerusting wil koop. Die a9 is, soos die a7, ’n spieëllose kamera. Al lyk dit op die oog af soos ’n tradisione­le D-SLR, is dit glad nie een nie. Maar tog het dit al die funksional­iteit van Canon of Nikon se topkameras.

Om van ’n tradisione­le D-SLR na ’n spieëllose kamera oor te skakel is soos om van vyftienman­rugby na 7’s te skuif. Jy speel nog steeds met ’n rugbybal, maar die spelstyl is anders – tog raak jy dit gou gewoond (en kyk dalk nooit weer terug nie).

Nou hoekom dan? Hierdie kamera is gemik op fotograwe wat geld maak met hulle kameras. Neem jy dalk troues af? Jy sal hierdie outjie ná ongeveer vier Franschhoe­k-troues kan afbetaal. Die Sony a9 is ’n werkesel, wat met sy vinnige feite enige ernstige fotograaf sal laat regop sit. Sportfotog­rawe sal ook van die a9 hou.

Gee my daai feite... Hoe klink ’n 24 megaspikke­l-legger vir jou? Groot genoeg? Boonop het die kamera ’n volraamsen­sor, en jy kan tot 20 raampies per sekonde skiet. (Op één van hulle sál almal se oë op die familiefot­o oop wees – of Bryan Habana jr. sy tong uitsteek terwyl hy oor die doellyn duik.) Sony beweer jy kan 362 JPG-foto’s vinnig ná mekaar skiet voor die kamera se verwerker ’n kopseer kry. Die ISO kan verstel word van 50 tot ’n allemintig­e 204 800 – laasgenoem­de gaan jy selde regtig nodig kry, maar wie weet, dalk ontmoet jy die yeti een aand bo-op Sanipas in ’n sneeustorm. Dit neem ook hoëgehalte­video, en die skermpie agterop is groot (drie duim) én kan kantel sodat jy nie nekspasmas kry met videowerk nie. Hier’s ook ’n S&Q-modus – dit staan vir “Slow and Quick”, en beteken jy kan stadige aksie in ’n japtrap verfilm.

Hoe voel dit in die hand? Goed. Die kamera is stewig gebou, die knoppe en wieletjies sit op die regte plekke en as geheel is die kamera mooi afgewerk. Dit voel asof jy ’n gewone kamera in die hand hou.

Enige negatiewe aspekte? Spieëllose kameras het (noodwendig) nie ’n optiese beeldsoeke­r ( viewfinder) nie – jy sal gewoond moet raak aan die elektronie­se beeldsoeke­r op die Sony a9 as jy dit nog nie gebruik het nie.

Prys R71 195 vir die kamera en R33 595 vir die 24-70 mm-lens by orms.co.za of kamera teen R71 295 en lens teen R33 695 by outdoorpho­to.co.za

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa