Weg!

OOS-AFRIKA

’n Lang reis deur Afrika is iets wat jy nooit sal vergeet nie. Hier is tien dinge wat ’n toer deur Zambië, Tanzanië, Rwanda en die Kongo jou kan leer.

- WOORDE EN FOTO’S TOAST COETZER

Toast Coetzer vertel wat hy alles geleer het langs die pad deur Zambië, Tanzanië, Rwanda en die Kongo

1 Die aksie begin noord van die Zambesi

Suid-Afrikaners kyk uit ’n unieke hoek na die res van Afrika. As jy glo dat suid “onder” is, dan sit ons hier “onder” en kyk “op” na die res van die vasteland. Ons is deel daarvan, maar dikwels so verstrenge­l in ons daaglikse doen en late binne ons eie landsgrens­e dat ons vergeet ’n ganse vasteland lê – net buite die TV-weervoorsp­elling se gebiedskaa­rt – rustig en wag.

Om daar te kom moet jy dus noord ry en riviere oorsteek. Eers die Limpopo, of dalk die Oranje of dorre Molopo. Dan, later, as jy mik vir die dele van Afrika waarheen ek laat in 2016 gereis het, die Zambesi. Dié magtige rivier is soos geen ander rivier suid daarvan nie. Dis nie ’n rivier waardeur jy kan stap, swem of selfs met ’n 4x4 ry nie.

Nee, die Zambesi dwing respek af. Brûe daaroor is skaars, en plek-plek moet jy nog ’n pont vat om die ander oewer te bereik. In die water wag dinge met tande: tiervis, krokodil, seekoei.

Staan eers ’n ruk en kyk na die rivier. Verbeel jou sy oorsprong iewers in Zambië. Verbeel jou hoe sy vloedvlakt­es in die vloedseiso­en kan uitstrek. Hoe dit stroom-af iewers oor die Victoriawa­terval tuimel. Die duisende mense wat op sy oewer woon. Uiteindeli­k waar dit wyd uitloop in ’n delta teen die Indiese Oseaan.

Steek dan die Zambesi oor, sodat jou kopskuif kan begin.

2 Jy’s op jou eie

Hoe verder weg (in tyd en afstand) jy van jou huis af vorder, hoe meer val gedagtes daaraan weg. Jy dink nie meer aan die feit dat jy vergeet het om jou tuinslang in die motorhuis toe te sluit nie. Jy dink nie meer aan Suid-Afrikaanse politiek nie. (Wie is nou weer die adjunkpres­ident? Jy’s nie meer seker nie.) Sommige dae gaan selfs verby sonder dat jy jou hond, kat of kokketiel mis.

Na ’n ruk besef jy: Ek is op my eie. Dis werklik ’n bevrydende gevoel.

Teen hierdie tyd sal jy al geolie wees met jou daaglikse kamproetin­e van tent op- en afslaan, kosmaak, skottelgoe­d was. Jy sal tuis voel in jou voertuig – jou veilige hawe, kantoor én sitkamer op jou lang reis. Jou kaarte en gidsboeke sal op die regte plekke in die kar lê, als binne bereik.

Die omvang van jou avontuur sal nou merkbaar begin word, en jy sal dit kan begin waardeer. Nie net die groot gesigte langs die pad nie – élke oomblik. Want die lewe is kort, en jy is nou hier: wat ’n voorreg.

3 Maar iemand sit en wag vir jou...

Jy reis nooit alléén nie – al voel dit soms so in die knus kajuit van jou kar. Nou en dan hou jy stil, draai die venster af of maak die deur oop. Jy klim uit en gesels met mense. Dalk met iemand by wie jy tamaties koop langs die pad in Mbeya, Tanzanië, of die vrou wat jou petrol ingooi in Kapiri Mposhi, Zambië.

Dan is daar die mense wat in die toerismebe­dryf werk. Hulle maak staat op mense soos jy vir hulle bestaan. Soos wat jy inry by die hek van Kisolanza Old Farmhouse naby Iringa in Tanzanië sal iemand opstaan uit ’n stoel en gereed staan met ’n glimlag wanneer jy stram uit jou kar klim en nader stap om te hoor of hier vanaand kampplek beskikbaar is.

En elders, waar jy nie nou kan sien nie, sal iemand in die kombuis begin uie sny vir vanaand se maaltyd in die restaurant­jie.

By Mayukuyuku in die Kafue- nasionale park, Zambië, sal jy vir Patrick Moyo aantref. Hy’s ’n veteraan van die park en met sy raad spoor jy dalk net die wildehonde­trop rondom Hook Bridge op. Dit is mense soos Patrick wat jou reis deur Afrika die moeite werd gaan maak. As jy slegs staatmaak op jou GPS en gidsboeke, gaan jy skaars die helfte van Afrika se wildernisp­lesiere ontdek.

Dit is gerusstell­end om te weet – hoewel jy onafhankli­k reis – jy is nooit alleen nie. Oral padlangs is daar mense wat jou ondersteun.

4 Die wêreld is vreemd

Hoekom reis ons? Elke Weg- leser sal hierdie vraag anders kan beantwoord. Ek dink ons reis bloot omdat ons nuuskierig is. Wat lê om die volgende draai? Hoe sal dit voel om op die rand van die Ngorongoro­krater te staan? (Jy gaan voel soos ’n muggie op die rug van ’n baie groot buffel.)

Ons het almal ’n bietjie swerwersbl­oed wat begin roer wanneer ons ’n padkaart oopmaak. Ek hou daarvan om vooraf die roete waarlangs ek wil ry met my vinger te volg en by prikkelend­e plekname te talm. Wat gebeur in Sumbawanga? (Nie veel nie, maar jy kan darem ’n roomys koop.) Is Mwanza ’n groot dorp? (Dit het ’n lughawe!) Is daar slaapplek in Nyakasanza? (Ja, die Dream Land Motel is skaflik, en jy sal jou hoender eers in lewende lywe ontmoet voordat jy hom op jou bord kry...)

Hoe verder noord jy ry, hoe meer anders raak die wêreld. ’n Toilet lyk anders - ’n gleuf op die grond, dis tyd vir hurk! ’n Kwevoël lyk anders – in Tanzanië kry jy so ’n mooi bonte. Die landskap lyk anders – padlangs staan dalk eerder teeplantas­ies as mielieland­e. Die spyskaart lyk anders – dis hoender en vis (jy moet maar ’n foto saamneem van ’n skaaptjop, sodat jy darem daarna kan kyk as jy te veel verlang). >

5 Maar ook nie só vreemd nie!

Tog is jy steeds in Afrika, wat ook jou vasteland is. Ons wat hier gebore is, het ’n “gewoondhei­d” vir dinge: As ’n vlieg op jou voorkop kom sit, kan hy maar eers vir so ’n rukkie sit voordat jy hom wegwaai. Jy dink ook nie dadelik dat jy malaria gaan kry nadat een muskiet jou gebyt het nie. Jy het darem ook al ’n slaggat of tien in Suid-Afrika gesien – nog ’n paar is niks nie.

Veral Tanzanië se nasionale parke sal jou ook gereeld aan ons eie parke – veral die Krugerwild­tuin – laat dink. Daar is die gerusstell­ende teenwoordi­gheid van piekniekpl­ekke, waar jy op bankies by tafels kan aansit en jou middagete geniet – en, net soos hier, dalk nou en dan ’n blouaap sal moet wegjaag!

Jy is ook ’n toeris, en oral gaan jy ander toeriste teëkom. Of hulle nou van Benoni of Beijing is, jy sal altyd iets gemeen hê om oor te gesels: Watse kamera het jy daar? Het julle leeus gesien vandag? Waarheen ry julle volgende?

En dan is daar die verrassink­ies. Iewers naby die Tarangire- nasionale park in Tanzanië sien jy dalk ’n spazawinke­l genaamd “Rehoboth” en skielik verlang jy Namibië toe. Of jy stap by die nabygeleë Arusha se Rotterdam-supermark in en sien Provita, tennisbesk­uitjies, Suid-Afrikaanse wyne (wraggies ’n Chocolate Block!) en selfs boerewors en biltong. Dan kóóp jy daai biltong!

6 500 km is nie wat dit was nie

In Suid-Afrika kan jy maklik op die N1 klim en 1 000 km ver ry – jy weet die padoppervl­ak gaan goed wees, dat daar soms verbysteek­plek sal wees, en dat daar elke 300 km iets soos ’n Ultra City of One Stop op die horison gaan verskyn.

Elders in Afrika werk dinge nie so nie. Selfs al is die teerpaaie soms goed, kan jy selde meer as 500 km per dag aflê. Omdat die padnetwerk in byvoorbeel­d Tanzanië baie kleiner is as in Suid-Afrika, word die teerpaaie wat wel bestaan, druk gebruik. Boonop swenk hoofpaaie nie soos hier óm groot dorpe nie, en jy ry soms vir lang kilometers deur klein nedersetti­ngs waar die spoedgrens tot so laag as 50 km/h is (omdat so baie voetganger­s, fietse en diere ook die pad gebruik).

Dit is dus belangrik om jou oornagplek­ke vooraf só uit te werk dat jy nie meer as 300 km per dag hoef te ry nie.

Om te bestuur is deel van jou vakansie, en in Afrika sal jy leer dat jou ure op die pad ook lewensverr­ykend kan wees. Afrika wil eintlik maar net vir jou sê: Stadig oor die klippe, en geniet die wonderlike wêreld rondom jou.

7 Eet wat die mense rondom jou eet

Ons is bederf in Suid-Afrika, dít kom jy gou agter soos jy noordwaart­s oor die Zambesi vorder. Skielik raak supermarkt­e skaars, of minstens die soort supermark waaraan jy gewoond is. In die stede soos Lusaka, Dar es Salaam en Kigali kan jy enigiets koop wat jy in Johannesbu­rg of Kaapstad kan koop, maar in die duisende kilometers tussen dié punte raak ’n olyf – of olyfolie – byvoorbeel­d bitterskaa­rs. As jy dus ’n swak plekkie het vir iets spesifieks, moet jy dit saamry uit Suid-Afrika.

En tog moet jy ook bloot anders begin dink oor wat jy eet. Wat eet die mense rondom jou? Iewers kou iemand suikerriet, of ’n ou vrou sit en maak kassawa gaar. ’n Masai-jongman verkoop gebraaide bok onder ’n kremetart langs die pad.

Waar jy in Suid-Afrika dalk deur ’n dorp sou ry en soek na die bekende kentekens van ’n Wimpy, KFC of Steers, begin jy later weet waarvoor om uit te kyk in die klein dorpies van Tanzanië: groot glaskaste, amper soos ’n vistenk, vol aartappels­kyfies.

Wanneer ons hierdie glaskaste gesien het, sou ons dadelik stilhou en ’n bord vol koop – soms met ’n eier daardeur gebraai. In Dar es Salaam se Ranger’s Café het ons die beste ete van ons reis gehad: vis met kokosneutm­elkkerrie, voorgesit met rys en ’n ertjie-gereg, en dan ook gebraaide vis met skyfies. Terwyl ons gewag het, het ons Tanzaniese tee en ’n glas yskoue waatlemoen­sap gedrink. Dit alles het ons net R128 gekos!

Vars vrugte in Zanzibar, ’n stewige bord vol hoender-en-kassawa by Elephant Motel naby die Mkomazinas­ionale park en vars broodrolle­tjies gekoop langs die pad by Shiwa Ngandu in Noord-Zambië is eenvoudige maaltye wat ons nog baie lank sal onthou.

Eet gerus wat die mense rondom jou eet, en ’n nuwe ontdekking­sreis begin. >

8 Die aarde is nog nie klaar nie

’n Reis deur Afrika is een van ope bewonderin­g. Die verskeiden­heid landskappe – van die groot mere soos Tanganjika en Victoria (of Malawi, as jy dit insluit by jou reisplan) tot die savannevel­d van die Serengeti, die kusvlaktes oortrek met palmbome, en die ruwe berge van Tanzanië (soos die Udzwunga of Usambara) – gaan jou verstom.

Omdat so ’n toer noodwendig lank is (moenie met minder as twee maande tevrede wees nie – drie of vier is beter), sien jy die seisoene kom en gaan. Dalk is dit aanvanklik stowwerig en winderig. Maar dan begin die donderwolk­e wit seile span, die humiditeit skiet die hoogte in en die somer se eerste reën begin val.

Die aarde is altyd aan die roer, en selfs al is ons besig om van die weerpatron­e op te neuk, vergeet ons ook alte dikwels hoe nietig ons teenoor die aarde staan.

Nêrens het ek dít meer intens ervaar as toe ek by die kelk van die Kongo se berg Nyiragongo ingekyk het nie. Doer onder het ’n lawapoel gelê en bruis soos ’n baie gevaarlike glas vol Eno (ja, hier rond het die aarde erge sooibrand!). Net regs van die poel het ’n skoorsteen­tjie gedurig lawa en gasse uitgespuug, bewyse dat Afrika se Skeurvalle­i steeds aan die skeur is, en dat Oos-Afrika dalk eendag iewers op pad na Indië toe in die see gaan lê.

Eendag lê nog ver in die toekoms, maar in Afrika kan jy leer dat die aarde nog aan die vorm is. Ons mag dalk dink ons is die laaste pagters op aarde wat dit nou in die grond in boer met ons misbruik daarvan, maar nee – die aarde gaan hier wees lank nadat ons aardse polisse verval het.

9 Jy kan lief raak vir ’n ketel

Wanneer jy op ’n lang selfryvaka­nsie gaan, raak jy ekstra vertroud met elke stukkie kamptoerus­ting wat jy besit. As jy nie voor die tyd geweet het of jou matrassie sag gaan slaap nie, sal jy weldra uitvind. Daai duur kopliggie wat jy gekoop het – hy kan jou beste vriend word vir die volgende 100 aande.

Ons het heeltemal verknog geraak aan ons ketel. Wanneer die Cadac-gas begin raas en die ketel vol water daarop gestaan het, sou dit beteken ons dag het begin, en dat daar nou-nou koffie sou wees. Of aan die einde van die dag: tee.

As jy water kan kook – en diep in ’n kampstoel kan sit – dan is dit asof jy altyd iets van die gemak van jou huis by jou het. ’n Eenvoudige koppie warm koffie, tee of sop kan jou van ’n lang dag by die grenspos laat vergeet.

Lank lewe die nederige ketel!

10 Die beste mense sit reg langs jou

Dalk toer jy met vriende of familie – dalk ’n broer, suster of buurman en sy gesin. Dalk is dit net jy en jou man of vrou. Ek het saam met my meisie, Alice, getoer. Vriende uit Suid-Afrika het ’n paar weke lank by ons aangesluit, maar vir die grootste deel van die reis was dit net ek en Alice in die Toyota Fortuner.

Sy het vir my boek gelees om vervelige bestuursty­d te verlig, help soek na skaars woudvoëls in Rwanda en help kosmaak, kamp maak en reis beplan.

Jy besef gou hoe belangrik dit is dat jy met die régte mense die langpad (én die lewe se paaie!) aanpak. Die persoon wat reg langs jou sit, is die een met wie jy alles deel: maaltye, ’n tent, die kajuit van die kar, frustrasie­s wanneer die pad sleg is, maar ook grootse oomblikke wat die natuur langs jou roete aan jou skenk.

Afrika leer jou ékstra lief wees vir dié persoon wat langs jou sit.

Lees ook Toast se ander artikels oor sy reise deur Afrika in Weg #151-158.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? DIE ZAMBESIRIV­IER NABY DIE NGONYEWATE­RVAL (SIOMA), ZAMBIË
DIE ZAMBESIRIV­IER NABY DIE NGONYEWATE­RVAL (SIOMA), ZAMBIË
 ??  ?? KAMPPLEK BY DIE KAPISHYA-WARMWATERB­RON, ZAMBIË
KAMPPLEK BY DIE KAPISHYA-WARMWATERB­RON, ZAMBIË
 ??  ?? PATRICK MOYO, KAFUE- NASIONALE PARK, ZAMBIË
PATRICK MOYO, KAFUE- NASIONALE PARK, ZAMBIË
 ??  ?? TEEPLANTAS­IE SUID VAN GISENYI, RWANDA
TEEPLANTAS­IE SUID VAN GISENYI, RWANDA
 ??  ?? NABY TARANGIRE- NASIONALE PARK, TANZANIË
NABY TARANGIRE- NASIONALE PARK, TANZANIË
 ??  ?? VIS-EN-TJIPS, RANGERS CAFÉ, DAR ES SALAAM
VIS-EN-TJIPS, RANGERS CAFÉ, DAR ES SALAAM
 ??  ?? VARS BROOD, SHIWA NGANDU, ZAMBIË
VARS BROOD, SHIWA NGANDU, ZAMBIË
 ??  ?? SKYFIES MET EIER, TANZANIË-PADKOS
SKYFIES MET EIER, TANZANIË-PADKOS
 ??  ?? VARS VRUGTE, AL-MINAR-HOTEL, ZANZIBAR
VARS VRUGTE, AL-MINAR-HOTEL, ZANZIBAR
 ??  ?? NYIRAGONGO-VULKAAN, DRK
NYIRAGONGO-VULKAAN, DRK
 ??  ?? MAYUKUYUKU-KAMPPLEK, KAFUE, ZAMBIË
MAYUKUYUKU-KAMPPLEK, KAFUE, ZAMBIË
 ??  ?? KAMPPLEK BY DIE KAPISHYA-WARMWATERB­RON, ZAMBIË
KAMPPLEK BY DIE KAPISHYA-WARMWATERB­RON, ZAMBIË

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa