AGTER DIE SKERMS
François Haasbroek en sy swanger vrou, Marilize, het in die middel van die somer deur een van die warmste plekke in land getoer. Die Richtersveld het hom veral twee dinge geleer.
Hier být die son
Ek steur my nie gewoonlik aan “die beste tyd van die jaar om te gaan”-raad wanneer ek toer nie. Die winter is dalk die beste tyd om wild in die wildtuin te sien, maar dit moet jou nie keer om in die somer te gaan nie. Ek reken daar is altyd iets nuuts en mooi, ongeag wanneer jy gaan.
Ons besoek aan die Richtersveld einde verlede jaar het my gedwing om dié teorie te heroorweeg. In een week het ons sommer verskeie seisoene ervaar. Oor die Helskloofpas was dit koud en het dit selfs liggies gereën. In die Kokerboomkloof het die wind só geloei dat die tent se reënseil afgeruk en ek in die veld agter dit moes aanhardloop.
Dít kon ons alles baasraak. Maar net nie die hitte nie...
As dit nie vir die Mitsubishi Pajero Sport se lugreëling was nie, het ons dit dalk nie gemaak nie. Hier kruip jy weg vir die son, en jy wag vir hom om te sak voor jy kamp opslaan.
Ek het eenkeer met plakkies en al blase op my voete gebrand toe ek uit die motor klim en op die vuurwarm sand loop.
Vertrou boererate
Ek en Marilize het ’n maand voor ons reis uitgevind ons eersteling is op pad.
Iewers langs die N7 het ons nog geskerts dat sy oggendnaarheid gaan systap aangesien daar nog geen teken daarvan is nie.
Ai, die optimisme van nuwe ouers. Tussen die Akkkedispas en De Hoop-kamp moes ek die eerste keer stilhou. Die volgende twee dae was maar ’n stop-en-ry-affêre, met die Domoroghpas wat meer stop as ry was.
Ek onthou toe dat suurlemoen help om die naarheid weg te hou, en ry toe al die pad terug na Sendelingsdrift om ’n botteltjie Brookes-suurlemoensap by ’n kiosk te koop.
’n Paar druppels in die waterbottel het genadiglik die passe vir die res van die reis aansienlik makliker gemaak.