Pasop vir dié ou, honderdpote!
Die meeste slange eet gewerweldes soos akkedisse, voëls, paddas en klein soogdiere. Die uitsondering op die reël is die swartkop-honderdpootvreter. Dis eintlik ’n baie algemene slang, maar as gevolg van sy grootte (gemiddeld 20-30 cm lank) en grawegedrag sien ’n mens hom nie gereeld nie. Die kleur wissel van geelbruin tot grysbruin, met ’n kenmerkende swart kop en kraag wat tot onder die “ken” strek.
Ander kenmerke soos die silindriese liggaam, geen herkenbare “nek” nie en ’n gepunte kop is alles aanpassings vir sy lewe onder die grond. Honderdpootvreters is graafdiere wat meestal onder die grond – onder rotse, verrotte stompe of ongebruikte termiethope – bly. Daar is soms ’n hele paar van hierdie slange wat in een termiethoop skuiling soek.
Sekere slangversamelaars wat glad nie bewaringsgesind is nie, sal soms termiethope oopbreek op soek na hierdie en ander slange. Dit veroorsaak erge ekologiese skade aangesien die termiethoop selfs wanneer dit nie deur termiete gebruik word nie, ’n habitat vir verskeie ander spesies is.
Die swartkop-honderdpootvreter is ’n nagdier wat veral aktief word nadat dit baie gereën het. Soos die naam aandui, is hulle gunstelingprooi honderdpote. Die slang kry ’n houvas op die honderdpoot en begin al langs die prooi se lyf af kou en gif inspuit. Die hoogs beweeglike en giftige honderdpote is geensins ’n maklike prooi nie – dit kan self ’n baie pynlike byt toedien! Wanneer die slang gebyt word, sal dit die honderdpoot laat gaan en weer begin “kou”.
Dié slang het ’n piepklein slagtand net onder die oog. Al is dit giftig, is dit skadeloos vir mense. Trouens: Die slagtand is só klein dat, selfs al word iemand gebyt, die kans klein is dat dit die vel sal kan prik. Maar neem kennis: Moenie enige slange optel nie, selfs al dink jy dit is skadeloos. Hoewel dit effens anders lyk, kan jy dalk die honderdpootvreter met ’n Suidelike sypikslang verwar – en dié slang is nie so skadeloos nie.