Weg!

Wat is jóú 3-woord-adres?

-

Jy ken die paadjie na jou eie huis so goed dat jy dit in jou slaap kan ry. Maar sodra jy in ’n ander land reis, is die straatname (en aanwysings wat ’n mens kry) dikwels so verwarrend dat nie eens Google Maps jou kan help nie. Of dalk het die straatname tuis verander en maak dit jou nou heeltemal deurmekaar, of jy moet afspreek om iemand langs ’n staproete te kry, waar daar beslis nie ’n straatadre­s is nie, of jy kan nooit onthou waar in die mall se yslike parkeerter­rein jy parkeer het nie!

Die Britse maatskappy what3words het ’n oplossing gekry om adresse eenvoudige­r te maak: adresse wat uit 3 woorde bestaan, sonder enige syfers. Hulle het die hele wêreld in blokkies van 3 m x 3 m verdeel (daar is sowat 57 miljard van dié blokkies!) – en elkeen van die blokkies het sy eie unieke drie-woord-adres.

Die hele kaart is al in 26 tale beskikbaar, onder meer Afrikaans, Xhosa en Zoeloe. Onthou, dis nie net straatadre­sse wat ’n what3word-adres kry nie, elke liewe kolletjie op die aarde het drie woorde gekry. Só is die boonste stasie van die Tafelbergs­weefspoor se adres (in Afrikaans): mengwerk. beskrywer.boomslang en die Krugerwild­tuin se Phalaborwa-hek by antwoorde.opnemer.hoogwater.

What3words se langtermyn­doelwit is dat dit wêreldwyd die adresstand­aard sal word – sodat almal in die wêreld ’n eenvoudige, akkurate en betroubare adres het wat hulle kan gebruik wanneer hulle wil.

Die stelsel word reeds met groot sukses gebruik deur nieregerin­gsorganisa­sies wat werk in landelike gebiede of plekke met informele nedersettt­ings, waar adresse dikwels moeilik is om te bepaal. Sekere pizzaaflew­erdienste gebruik dit ook al om makliker by die regte klante uit te kom en in Mongolië is dit nou die amptelike adresstels­el! Hoe kry ek my adres? Gaan na map.what3words.com en tik die bestemming waarvoor jy die driewoorda­dres soek in die soekbalk. Verander die taal van die kaart deur op die pyltjie in die hoek regs bo langs “English” te klik, dan op “Change 3 words language” en dan op Afrikaans (of Xhosa, of Swahili!).

Laai die app af in die App Store (iOS) of Google Play (Android). Dis gratis, en kan vir jou aanwysings gee wanneer jy bestuur. Jy kan die kaart dan ook gebruik as jy nie met die internet verbind is nie. Nog inligting what3words.com

– Suzaan Hall

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa