ONTMOET DIE SKRYWER
In 2005 het Annelize Slabbert, ’n joernalis van Johannesburg, en haar man, Gerard, die gejaagde lewe gegroet en verhuis na ’n modder-en-mishuisie in Botswana se Sentraal-Kalahari om ’n luukse vierster-lodge te bestuur.
In ’n Luiperd in my bed ( Tafelberg), haar eerste boek, vertel sy met deernis en humor van hierdie groot én uitdagende avontuur.
En ja, daar was letterlik ’n luiperd in haar bed…
Waarom het jy besluit om die boek te skryf? Ek vermoed dis elke jong verslaggewer se droom om eendag ’n boek te skryf. Ek moes eers twee hindernisse oorkom. Daar moes ’n storie wees om te vertel. En ek moes agter die rekenaar gaan sit en begin skryf. Die stories van die Boesmans, van die gestroopte lewens wat hulle lei, teen die agtergrond van die wye Kalahari-landskap, het om ’n gehoor gepleit. Toe ek die boek geskryf het, het ek gedink aan elke mens wat al gedroom het van ’n plek van sy eie in Afrika.
Waar het jy die eerste keer van Deception Valley in Botswana gehoor? Mark en Delia Owen se boek Cry of the Kalahari was ons eerste kennismaking. Ek het daardie boek en ander boeke oor Botswana as geskenke aan Gerard gegee vir verjaardae en Kersfees, telkens met die inskrywing: “Leef vanjaar die droom.”
Julle het al vóór Botswana gedroom van ’n landelike idille? In die boek vertel ek van ons verskeie impulsiewe projekte om ons droom van ’n idilliese bestaan, weg van die eise van loopbane of sosiaal aanvaarbare gedrag, na te jaag. Eers op ’n plasie aan die Hennopsrivier en later op Sardiniëbaai buite Port Elizabeth. ’n Mens sou verwag dat die struikelblokke wat ons daar gepootjie het, ons gevoeliger sou maak vir ’n reuse-sprong soos die verhuising na die Sentraal-Kalahari in Botswana. Maar sommige mense leer nooit hulle les nie.
Hoe groot was die aanpassing by die Deception Valley Lodge in Botswana? Dink jou dit in: van ’n Provensaalse huis tussen melkhoutbome, met groen gras en aronskelke en die see net ’n snuf in die neus ver, na ’n modderen-mis-struktuur sonder elektrisiteit, temperature digby 40 °Celsius en die lug so droog dat jou vel ou leer laat goed lyk. Kortom: Niks kon ons behoorlik voorberei vir die uitdagings nie!
Was die bestuur van die lodge ’n familieprojek? Benewens ons Botswana-vennote, Braam en Susanne met hulle twee kinders, het my man, Gerard, sy wit aptekersbaadjie sonder enige wroeging vir verslete kakie verruil. Jacobus, wat die foto’s vir die boek geneem het, is ons seun. Sy liefde vir en kennis van die natuur het hy as seuntjie in die Laeveld saam met Gerard ontwikkel. Nishka het nee gesê vir ’n pos as sjef in Dubai toe sy van die geleentheid by ’n lodge in Botswana hoor. Tot ons almal se groot vreugde het sy gebly en Jacobus se hart gesteel. Verlede jaar het hulle mnr. en mev. Slabbert geword.
Hoe verskil die lodge se omgewing van die meer bekende Okavangodelta? Die plantegroei in die delta verskil aansienlik van dié in die Kalahari, waar akasia, witgat en Terminalia die belangrikste boomsoorte is. Hoewel daar in die laaste jare gereeld olifante in die Sentraal opgemerk word, is die delta veral bekend vir sy groot olifantgetalle. Vanweë die skraal veld is die wildgetalle by die lodge noodwendig veel laer as in die delta. Maar die ervaring van swartmaanhaar-Kalaharileeus wat brul om jou huis, flaminke by ’n waterpan wat binne ’n paar dae ’n meer geword het, en bottergeel wildegranaatblomme langs die sandpad is magic.
Waar kom die boek se titel vandaan? Dit klink soos ’n storie wat oom Kaspaas Grootlieg uitgedink het. Klink dit na die waarheid as iemand jou vertel van ’n oggend toe ’n fraai luiperdwyfie oral tussen die lodge se huisies rondgesluip het en toe by ons huis die geriewe op die proef gaan stel het? Net sodat ons, by ons terugkeer, haar onder die stort betrap het, ons bed omgedolwe
en die ene vere soos sy met die dons rinkink het?
Was daar komiese episodes met gaste by die lodge? Dit was selde komies vir my terwyl ek moes kook. Maar ek onthou ’n Switserse gas wat vir ontbyt opdaag met twee horlosies aan elke arm en nog een op sy bors vasgespeld... En raai net wat? Hy was laat vir ontbyt!
Jy skryf ook baie oor die Boesmans in die omgewing. Die grootste gawe van ons lewe in Botswana was ons belewenis met die Boesmans. Ons droom was om “lig” te lewe, sonder die sorge van aardse besittings. Ons Westerlinge kan nooit die Boesmans nadoen nie. Ons kan nie hulle sin vir humor en vreugde in elke dag begryp nie.
Jy sluit ook tussen hoofstukke smullekker resepte in? In die boek vertel ek van een droewige Sondag toe my pampoensop net nie die slag gehad het om die gemoedere te lig nie. Nishka se resepte in die boek het gaste van reg oor die wêreld saamgesnoer om ’n tafel met werklik nederige bestanddele, vernuf en ’n groot skeut verbeelding. Kos, veral eenvoudige kos, gedeel tussen mense, bring gemeenskap.
Watter lesse het jy geleer in jou tyd by die lodge? Leer ’n mens ooit betyds die lesse wat nodig is om vrede te vind?
Jy en Gerard het verlede jaar die plaas gegroet? Ons woon nou in Munster, aan die Hibiskuskus in KwaZulu-Natal, ’n klipgooi van die Indiese Oseaan af. Maar ons luister nog onwillekeurig snags vir die gebrul van ’n leeu by ons venster.
’ n Luiperd in my bed word uitgegee deur Tafelberg en kos R260 in boekwinkels.