Die klein prinsie
deur Antoine de Saint-Exupéry (vertaal deur André P. Brink) Tafelberg, 1994
“Alle grootmense was mos eers kinders. (Ongelukkig is daar min van hulle wat dit onthou).” Só skryf Antoine de Saint-Exupéry voor in sy klassieke boek Le Petit Prince (1946) wat in 1994 meesterlik deur André P. Brink uit die oorspronklike Frans vertaal is.
Le Petit Prince het reeds meer as 140 miljoen eksemplare verkoop en is in sowat 300 tale en dialekte vertaal.
Ek het Brink se vertaling vir die eerste keer op hoërskool gelees. Hierdie verbeeldingryke fabel het dadelik ’n groot indruk op my gemaak.
Die verteller in die verhaal van die klein prinsie is ’n vlieënier wat ontnugter is deur grootmense.
Grootmense is versot op syfers. As ’n mens hulle van ’n nuwe vriend vertel, dan vra hulle nooit uit oor die dinge wat regtig belangrik is nie. Dink jy hulle sou vra: “Hoe klink sy stem? Watse speletjies speel hy graag? Maak hy skoenlappers bymekaar?”
O nee. Wat hulle wil weet, is: “Hoe oud is hy? Hoeveel broers het hy? Hoeveel weeg hy? Wat verdien sy pa?” Eers dan dink hulle hulle ken hom. Hy maak ’n noodlanding in die Saharawoestyn. Sy vliegtuig is beskadig en hy is bekommerd sy drinkwater gaan opraak. Hier, in die middel van nêrens en ver weg van enige mense, ontmoet hy dan die klein prinsie, wat glo afkomstig is van Asteroïde B612.
Die prinsie het verskeie omswerwinge op ander planete én die aarde gehad. Hy soek egter ’n manier om terug te keer na sy eie planeet, na die roos vir wie hy baie lief is.
Die prinsie deel sy avonture met die verteller. Hy ontmoet onder andere ’n koning, ’n ydeltuit (wat ’n pragtige woord!), ’n dronkaard en ’n sakeman.
Een van die aangrypendste ontmoetings is tussen die prinsie en ’n jakkals, wat hom ’n groot lewensles leer:
“My geheim is baie eenvoudig. Hier is dit: Dis net met die hart dat jy werklik kan sien. Wat regtig belangrik is, is onsigbaar vir die oog.”
“Wat regtig belangrik is, is onsigbaar vir die oog,” herhaal die klein prinsie, sodat hy dit kan onthou. “Dis die tyd wat jy aan jou roos bestee het wat haar so belangrik maak.” “Dis die tyd wat ek aan my roos bestee het...” sê die klein prinsie, sodat hy kan onthou.
“Dis ’n waarheid wat die mense vergeet het,” sê die jakkals. “Maar jy moet dit nie vergeet nie. Jy bly vir altyd verantwoordelik vir dié wat jy mak gemaak het. Jy is verantwoordelik vir jou roos...”
“Ek is verantwoordelik vir my roos...” herhaal die klein prinsie. Met die herlees van Die Klein Prinsie het ek opnuut die betowering van hierdie merkwaardige novella besef. En ek kon vir ’ n paar uur weer ’n bietjie minder soos ’n grootmens voel.