Weg!

WORD WEER MENS TUSSEN DIE HALFMENSE

Die Richtersve­ld in die noordweste­like hoek van Suid-Afrika kan met ’n mens se kop smokkel. Sommige beweer jy’t beslis ’n 4x4 nodig; ander meen jy kan met jou Nissan Micra tot by die Kokerboomk­loof ry. François Haasbroek het met ’n GPS en notaboek elke pa

- WOORDE EN FOTO’S FRANÇOIS HAASBROEK

Dis harde wêreld hierdie. Die paadjies kronkel deur berge en heuwels. Die op en af van pas op pas word dan en wan deur ’n sandvlakte gebreek. In die somer gaap die akkedisse, en in die winter byt die koue sodra die son agter die bergreeks Vyf Susters verdwyn.

Die Oranjerivi­er sny soos ’n lewensaar deur die heuwels, ’n strook groen wat lafenis bied in ’n dor landskap. Stap jy egter ’n paar meter veld-in weg van die rivier af, kan jy amper nie glo iets kan hier lewe nie.

Ja, die Richtersve­ld is beslis nie dood nie. Inteendeel, die biodiversi­teit van Suid-Afrika se enigste bergwoesty­n is verstommen­d.

Hier is meer as 4 000 verskillen­de plantsoort­e (waarvan bykans die helfte net hier voorkom). Dassies, koedoes en selfs luiperds oorleef tussen die klipheuwel­s, en ook mense maak hier ’n bestaan.

Die landskappe is skouspelag­tig, maar jy moet ook klein kyk om die skoonheid van die plek te kan waardeer. En saans, voordat die maan opkom, lyk die Melkweg só naby jy voel jy kan sterre met die hand daaruit pluk.

Die Richtersve­ld se voorstoep

Die grondpad begin lank voor jy in die park is. By Alexanderb­aai hou die teerpad op, en ’n netjiese grondpad gly verby afdraaibor­de na plekkies soos Baken, Sanddrif, Brandkaros en Grootderm.

Die inwoners werk op diamantmyn­e, en dis ook die rede hoekom die paaie hier so goed onderhou word.

Sowat 12 km voor Kuboes draai die pad noord, en ek en my vrou, Marilize, begin ’n voorsmakie kry van die paaie waaraan ons gewoond moet raak. Jy het nie ’n 4x4 nodig om hier te ry nie, maar daai Micra gaan ’n pak slae kry.

Los klippe en ’n paar slaggate maak dat jy dié pad met ’n ligte voet en ’n wakende oog moet aanpak, veral as ’n loeiende oostewind ’n sandstorm aanjaag.

Dis reeds laatmiddag wanneer ons 25 km verder by die park se hek stilhou. Die skroef van ’n windaanged­rewe kragopwekk­er fluit verbete soos hy sukkel om by te hou. Die hekwag hardloop nader, die intekenboe­k teen sy gesig hou die sand weg.

Jy betaal nie hier nie; die hekwag beheer slegs toegang. Hy laat weet die kantoor by Sendelings­drift ons is op pad.

“Daarsy, en moet jou nie bekommer oor die wind nie – hy waai elke middag so, maar hy gaan nou-nou lê,” sê die hekwag, en voor ek sy naam kan vra, trippel hy terug na die kliphuisie vir skuiling.

Wraggies, 20 km verder hou ons by ’n windstil Sendelings­drift stil. Die hele plekkie voel eienaardig. Dis ’n grenspos, maar hier is nie ’n pad oor die rivier nie, net ’n pont.

Daar was maar min lewe op die pad hierheen, maar hier is ’n dorpie met ’n kafee en vulstasie. Tussen die huisies is groen grasperke onder groot bome. In die woestyn help dit om (met ’n pomp) langs die Oranjerivi­er te woon!

Sanparke se kantoor is gebou in die styl van ’n ou fort wat uitkyk oor die pont. Ek vra watter soort voertuie word in die park toegelaat.

Gewoonlik wil hulle weet of jy donkierat (laestrek) het. Nie vandag nie: “Het jy ’n aircon?” November was dalk nie die beste tyd van die jaar om te kom kuier nie!

Ons bly die aand oor in ’n chalet wat oor die rivier uitkyk. As die res van die park so is, gaan die toer minder van ’n avontuur wees as wat ek gedink het. Hier is ’n uitsig, lugverkoel­ing en krieket op die TV.

Die enigste drama is die volgende oggend toe ’n hans blouaap ’n sak beskuit gryp toe ons op die stoep ontbyt eet.

Gelukkig het die aap net een arm (hy het waarskynli­k al iets gesteel wat hy nie moes nie) en hy moet kies tussen die beskuit of ’n tak gryp om te ontsnap. Hy kies die tak.

Die volgende oggend ry ons verby Sendelings­drift se kampplek die park in. Die eerste paar kilometer loop die pad verby ’n myn en pompstasie­s, maar sodra jy die eerste pas – die Halfmenspa­s – inry, wéét jy jy’s in die wildernis.

In Khoi-volksverha­le word vertel van ’n tyd toe die Namas noord van die Oranjerivi­er gebly het. Verslaande vyande van die Namas is na die suide verban, oor die rivier na die Richtersve­ld.

Dis hier waar hulle só lank na hulle vorige tuiste in die noorde gestaar het dat hulle stadig maar seker in plante verander het: Dit is hoe die halfmense ontstaan het.

Wees op die uitkyk vir halfmense in die pas. Kyk na die punte van die plant se kort takke. >

Dit kyk altyd noord.

Dit voel asof jy in die Richtersve­ld deur die landskap van Die Bybel wandel. Die mite van die halfmens vind gestalte in die storie van Lot se vrou wat in ’n soutpilaar verander het toe sy teruggekyk het.

Dieper in die park rondom Tatasberg lyk die landskap soos die prentjies uit my Kinderbybe­l toe Jesus 40 dae lank in die woestynvla­kte gewandel het met die duiwel wat hom in die versoeking probeer bring. In November is dit so warm die duiwel voel waarskynli­k hier heel tuis.

Net anderkant Halfmenspa­s, sowat 150 m van die hoofpad af, kan jy selfs die Hand van God sien – ’n rotsgestee­nte wat lyk asof ’n groot hand ’n afdruk daarin gelaat het.

Rivier toe

Die Akkedispas begin sowat 5 km van die Hand van God af, maar ek sukkel om te sien waar die Akkedispas eindig en die daaropvolg­ende Penkoppas begin. Dit is soms steil en klipperig, maar ons 4x4-Mitsibushi Pajero Sport kruie rustig voort. Dit is nie eens nodig om aan die laestrekkn­oppie te raak nie.

Van hier af is dit redelik plat oor die Koeroegabv­lakte tot by die De Hoop-kampplek. Die laaste paar kilometer loop die pad deur ’n kloof tot by die Oranjerivi­er. Die pad is stamperig en hier is plek-plek enkeldiep water.

By die rivier draai ek links pleks van regs, en kom agter ek het die kampplek misgery. Daar trek ’n rokie by ’n veepos en ek gaan vra vir aanwysings.

Die man sê nie ’n woord nie, lig net sy arm stadig en wys my die regte rigting. Vir die res van die week sien ons nie weer een veeboer nie.

Ek slaan nie dadelik tent op by De Hoop nie. Ons gaan koel eers af in die rivier. Dis egter nie net ons wat lafenis van die hitte soek nie. Op die oorkantste oewer het ’n trop Namibiese bobbejane afgekom water toe. ’n Klomp trek gras onder die water uit om te vreet. ’n Paar sit in die koel water soos ryk mense in ’n jacuzzi. Net hulle koppe steek bo die oppervlak uit.

Ons slaan kamp op sodra die ergste hitte van die dag verby is. Behalwe vir ’n gesin wat lyn natmaak voor hulle staanplek (ja, hier is baie vis – katvis, baber, karp en grootbekge­elvis), en een paartjie wat hulle Land Rover met ’n daktent so na as moontlik aan die water getrek het, is hier niemand anders nie.

Wanneer die son sak, raak die naglewe bedrywig. Vroegaand hoor ons ’n bobbejaan aan die ander kant van die rivier bôggom.

Die hitte en lig lok ook ’n paar ongenooide gaste. Nadat ek Marilize moes bedaar nadat ’n rooiroman haar jaag, sit ons die ligte af en kyk na die hemel bo ons.

Sonder enige maan vat dit nie lank om satelliete en verskieten­de sterre te sien nie. Daar is wel ’n paar sterre wat oneweredig beweeg... wag, dis nie sterre nie, dis vuurvliegi­es! Teen die tyd dat ons gaan slaap, patrolleer hulle steeds die rivieroewe­r.

Die volgende oggend kom ons agter dis nie net ons wat die aand in en onder ons tent geslaap het nie. Behalwe vir ’n klein skerpioen of twee onder die grondseile, is daar ’n klompie spinnekopp­e so groot soos R5-munte wat tussen die tent en die reënseil ingekruip het. Bedaar, die bontkwikki­es sal jou te hulp snel. Sodra ’n spinnekop sy kop wys, pyl die voëltjie op hom af en vreet hom vir ontbyt.

Die pad tussen De Hoop en Richtersbe­rg moet jy nie met ’n 4x2 waag nie. Die paadjie loop al teen die rivier af en die sand hier is diep. Selfs al ry jy met ’n 4x4, moet jy versigtig wees – daar is klippe onder die sand.

Toe ons by die Tatasberg-wildernisk­amp kom, is dit 46°C. Daar staan ’n gebreekte reënmeter by die parkeerter­rein en ek wonder wanneer laas is ’n lesing hier geneem.

Bergpasse en dale

In die noorde van die Noord-Kaap is twee biome: die droë Karoo, soos in Namakwalan­d, en bergwoesty­n, soos in die suide van Namibië.

Die lyn wat die twee biome skei, loop regdeur die Richtersve­ld. As jy van die noorde na die suide met een van twee passe (Maerpoort en Domorogh) ry, raak die veld weliger.

As jy met ’n 4x2 ry, moet jy met die Maerpoortp­as van De Hoop na Tatasberg ry. Dis die kortste pad, en jy sien hoe die landskap en die plantegroe­i verander.

As jy wel ’n 4x4 het en ’n uitdagende ompad wil ry, kan jy die Domoroghpa­s pak. Hier sien jy myle ver en daar is ’n klomp uitkykpunt­e langs die pad. As jy voel jy loop iets mis omdat jy nie ’n 4x4 het nie, hoef jy jou nie te bekommer nie. Die beste uitsigte kom nog.

Die Springbokv­lakte is die oostelike deel van die park, en lyk heeltemal anders as die res. Hier is dit plat met uitgestrek­te grasveld.

Jy kan reguit oor die vlakte ry, maar as jy die borde Kokerboomk­loof toe volg, loop die pad weer die heuwels in.

Langs die pad hou ons by die Tatasbergu­itkykpunt stil. Die berg self lyk asof ’n reus ’n yslike stapel klippe gepak het. Die uitkykpunt kyk af in die kloof noord van Tatasberg, en as jy op ’n goeie dag hier staan en skree, sal jy jou stem deur die kloof hoor eggo. Vandag waai die wind te erg.

Sowat 3 km verder trek ons die Pajero se neus tot op die rand van ’n afgrond wat uitkyk oor die hele Springbokv­lakte, en selfs tot by die wingerde aan die ander kant van die Oranjerivi­er by Aussenkehr.

Wie het die Domoroghpa­s nodig?

Ons volg die pad verby Die Toon – ’n rotsformas­ie wat, ja, soos ’n massiewe groottoon lyk – tot by Kokerboomk­loof. Dis die enigste kampplek in die park wat nie langs die rivier lê nie, maar tog sien ons hier die meeste lewe.

Buiten al die kokerbome is hier ook ’n paar gifbome teen die hellings weerskante van die kloof.

Ons ry tot waar die kloof doodloop en word begroet deur ’n familie klipspring­ers wat skepties na ons staar voor hulle tussen die klippe verdwyn.

Die wind waai nou behoorlik en ek stoei ’n ruk om die tent op te slaan. Elke staanplek het sy eie ablusieblo­k en tussen die klein gebou en die massiewe rots waarteen die kampplek staan, vind ons skuiling teen die ergste wind.

Maar die wind bedaar sodra die son begin sak, nes die hekwag belowe het. Die laaste lig gooi goud teen die gesteentes terwyl die skaduwees van die kokerbome ál langer word.

En dan besef jy jy voel tuis... hier op die verste punt van die mees afgeleë park in die land.

Ons laaste oggend in die park is die weer koel en mistig. Dis die “malmokkies” – die misbanke wat van die see af die park instoot en lewe aan die plantegroe­i gee.

Ons ry deur die droë Gannakouri­ep-rivierloop tot by die voet van die Helskloofp­as. Dit kronkel tussen die Noemeesber­g en Paradysber­g na die westelike grens van die park.

Op die kruin van die pas is die veld oortrek met Pearson se aalwyne wat die veld rooi kleur. Dan begin die pad afdaal hek toe. Doer onder sien jy die skroef van die windturbin­e steeds sing in die wind.

En wanneer jy deur die hek ry, is daar ’n sagte plek in jou hart vir hierdie harde wêreld, ’n plek wat vir altyd daar gaan bly.

 ??  ??
 ??  ?? Op pad na die Kokerboomk­loofkamp kan jy stilhou by dié aftrekpunt wat uitkyk oor die Springbokv­lakte en die Richtersve­ld se suidelike berge.
Op pad na die Kokerboomk­loofkamp kan jy stilhou by dié aftrekpunt wat uitkyk oor die Springbokv­lakte en die Richtersve­ld se suidelike berge.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa