Weg!

BERGTRAILS-KOTHUIS, KAMBERG

-

Indien jou dierehart vermurwe wanneer jy ’n langbeenpe­rdevul sien, gaan jy op dié perdeplaas met sy troppe Appaloosas heeltyd loop “oee” en “aa” – ons was gelukkig om ’n pasgebore vul se wankelrige eerste dag te beleef.

By Bergtrails kan jy perdry (wees eerlik oor jou vermoëns, sodat ’n perd met die regte geaardheid vir jou gekies word), bergfietsr­y (bring eie fietse), visvang (dis gratis vir oornaggast­e), skape tel (lewendes) en lang ente voetslaan. Of sit op die kothuissto­ep – op ’n koue dag binne voor die kaggel! – en tuur oor die Klein-Mooirivier uit.

Dis ’n gawe plek om stadskinde­rs ’n proesel van die plaaslewe te gee.

Geriewe Kothuis: En suite-dubbelkame­r en twee enkelbedde­ns in die dakkamer. Dié is nie geskik vir kleuters (of oueres van dae) nie, want ’n mens klim met ’n leertjie boontoe. Gasstoof, kaggel, braaiplek (hout word verskaf). Boskamp: Twee houthutte met slaapplek vir agt mense; stort (’n “donkie” vir warm water), toilet. Die “kombuis” is slegs ’n wasbak en toonbank. Bring als asof jy gaan kamp, beddegoed ingesluit. Hier is geen elektrisit­eit nie.

Wat pla? Die kothuis is redelik privaat, maar onthou, dit is op ’n plaaswerf waar gewerskaf word – hou eerder verby as jy doodse stilte wil hê. Die boskamp lyk effe verlep, maar behoort jou innerlike penkop te laat ontwaak.

Hoe kom ek daar? Neem Mpofanaweg (oftewel die Kambergpad) uit Rosetta vir 31 km. Hou regs by die Glengarry/Highmoor-aansluitin­g. Bergtrails is 550 m verder op regterhand.

Koste Kothuis: vanaf R300 p.p.p.n. (slaapplek vir 4); Boskamp: vanaf R100 p.p.p.n.; Perdritte R300 p.p. (vir sowat 2 uur, bespreek vooraf).

Kontak 082 441 7926 (Heidi); bergtrails.co.za

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa