BRIEF UIT Bloemfontein
Soms moet jy vir oulaas weer aan jou jeugheld ’n brief skryf. Net dat hy weet jy is nog oukei, vertel Willem van der Berg.
‘Jonty het briewe gekry uit Reddersburg, George, Theunissen en Olifantshoek. Al die plekke waar ek op skool was.’
Beste Jonty. Amper al my briewe op skool het só begin. Ek was krieketbesete en erg oor Jonty Rhodes. Mense het my selfs Jonty begin noem. Vir my was dit ’n uitgemaakte saak: Ek gaan eendag vir die Proteas speel. Boul, veral. Boul en veldwerk was my gunsteling-aktiwiteite. Ek was nie ’n goeie kolwer nie, al het ek ook met ’n GM-kolf soos Jonty gekolf.
Jonty het briewe van my gekry uit Reddersburg, George, Theunissen en Olifantshoek. Al die plekke waar ek op skool was. My laaste brief aan hom is waarskynlik in Olifantshoek geskryf. In ’n klein skool in die Kalahari word krieketdrome egter vinnig ’n veraf lugspieëling. Niemand het my meer Jonty genoem nie. Proteas groei nie in die woestyn nie.
Ek was vir ’n ruk lank baie hartseer daaroor, maar gelukkig kan ’n mens op 16 ’n heel nuwe loopbaan uitdroom. Juffrou Clara Aucamp het my lief gemaak vir taal en skryf, en ek het begin glo ek sal ná skool ’n skrywer word. Ek het nie. Ek het gaan boer, windpompe reggemaak, jakkalse gejag en skape gesonar totdat ek op 23 Bloemfontein toe is om te studeer, want ek het toe geweet ek moet joernalis word.
Op die Kovsie-kampus was heelwat bakkies; dus het ek en my tralie-2.5 Isuzu glad nie vreemd gelyk nie. Voor die landbougebou het ’n paar skape soms agterop ’n bakkie gewag dat iemand klaar toets skryf. Die res van Bloemfontein het nie juis anders gelyk nie, en ek het gou van die stad met sy plaasdorpgevoel begin hou. Ek kon binne minute van die Senwes-koö-perasie se bekende boerderyreuke tot by die fliek en restaurante van die Mimosa Mall beweeg.
Die joernalistiek het my laat belang stel in fotografie en ek het met spaarskaapgeld my eerste kamera gekoop en met ’n vreeslike gelesery en gespook myself geleer foto’s neem. Ek het by die kampuskoerant, Kampus-Volksblad, begin werk. My vriend Pieter Steyn, wat by Volksblad gewerk het, het my een aand na die drukpers gevat dat ek kon kyk hoe my voorbladstorie en foto gestalte aanneem. Dáár, tussen vars ink en koerantpapier, was ek dankbaar dat al my ander lewensplanne nie uitgewerk het nie. Joernalistiek was die beroep vir my.
Later het ek die bakkie vir ’n motorfiets verruil. ’n Swart Yamaha XT 660. Daarmee kon ek lekker naby die lesingslokale stilhou en grondpadlangs Karoo toe ry.
Dit was die begin van ’n altyd teenwoordige behoefte om te reis. Én die gewoonte om alleen die onbekende in te vaar. My jongste droom was om vir Weg te skryf.
Ná ’n honneursgraad op Stellenbosch en ’n paar maande by Volksblad in die Oos-Vrystaat keer ek terug Bloemfontein toe om as vryskutjoernalis te werk. Dis ’n droewige tyd waartydens ek vir ’n paar maande op ’n opblaasmatras in vriend Pieter se woonstel moet slaap omdat ek nie geld vir enigiets anders het nie. Dis ook die tyd wat ek my pa finaal moet groet. Hy het graag die weer dopgehou en reën voorspel. Maar van daardie herfsdonderstorm die Sondagaand het hy nie geweet nie. Hy en Bloemfontein het saam koud geraak, en toe ek met my motorfiets van die hospitaal af ry, het elke liewe lig op die nat teer geblink en al het my binnekant donker en seer gevoel, was dit die mooiste wat Bloem se strate nog was.
Hierna gaan dit stadigaan beter. In 2012 verskyn my eerste stories in Weg. Ek huur my eie woonstel in Mayostraat van waar ek al die ovaalbaanaksie by die skougrond kan hoor. My werk laat my toe om te reis. Ek leer ken die pragtige Daleen. Op ’n sonnige, windstil dag in die middel van Mei trou ons.
En so word Bloemfontein my huis. Die plek waarnatoe ek die graagste ry. Die plek waar ek die meeste geleer het. Die plek waar die meeste drome waar geword het. Dis tyd om vir Jonty te laat weet.
Beste Jonty,
Jammer vir die lang stilte. So baie het gebeur vandat ek laas vir jou geskryf het. Ek het toe nooit verder krieket gespeel nie. En ek het ook nie meer foto’s van jou teen my mure nie. Jammer man, dit moes plek maak vir foto’s van my vrou en van die interessante mense en plekke waarby ek intussen uitgekom het. Jy gaan my dalk nie glo nie, maar wat ek nou doen, is beter as boul en veldwerk. Ek soek en vertel stories. Groete uit Bloemfontein, Willem