Weg!

BOESMANSKL­OOF

Kapenaars hoef nie eens verlof te vat vir die Boesmanskl­oof-naweekstap­roete tussen Greyton en McGregor nie. En as jy jou sake reg reël, dra jy lig en eet soos ’n koning diep in die Riviersond­erendberg.

- WOORDE EN FOTO’S (TENSY ANDERS VERMELD) SUZAAN HALL

Stap ín die Riviersond­erendberg op dié naweekstap tussen Greyton en McGregor, en vergeet van die stad en al sy dinge...

Die eerste sowat 2 km van die Boesmanskl­oof-staproete tussen Greyton en McGregor is redelik gelyk. Jy stap uit die dorp, deur die Greyton-natuurrese­rvaat en oor die Gobosrivie­r (in die hoogsomer nie meer as ’n stroompie nie).

Dan hou die gelyk stukke egter op... Links van jou lê die tweespoorp­ad soos ’n slang wat al kronkelend teen ’n steil berg probeer opseil. Ons groep is opnuut dankbaar vir die koel, bewolkte weer. Gelukkig hoef ’n mens mos nie só fiks te wees vir ’n tweedagsta­p nie, of hoe? Maar ’n opdraande bly ’n opdraande en gou begin jou kuite brand…

Toe ons wekkers vanoggend skree, het ek reeds my bedenkinge gehad oor ons groepie van agt stappers se begrip van “naweek”. Maar nou ja: Dié roete is al lankal op my lysie, ’n paar vriende kon saamkom, en dit ís darem net 14 km se stap tot by ons slaapplek vanaand – die Galg aan die McGregor-kant van die kloof. (En môre weer terug, maar daaraan dink ’n mens nie nou al nie.)

Dis g’ n wonder die Boesmans kloof roete (of soos baie mense dit noem: die GreytonMcG­regor staproete) deur die Riviersond­erendberg is so’ n gewilde naweek stap nie. Daar is heelwat wat in sy guns tel: Greyton is naby genoeg dat Kapenaars Vrydag ná werk – of selfs Saterdagog­gend vroeg – kan ry; hier’s goed toegeruste blyplek aan al twee punte van die roete sodat jy lig kan dra; en dis uitdagend genoeg dat jy Maandag met stywe spiere op kantoor sit, maar kort genoeg dat jy minder entoesiast­iese stappers ook kan saamsleep.

Ons het die lig dra nog ’n stappie verder gevat: ’n Swanger vriendin kan nie saamstap nie en ry ons kos vir vanaand tot by Die Galg. Ons dra net dagrugsakk­e met water, peuselgoed, middagete en warm klere – én swemklere vir die poel wat ná 9 km op ons wag.

Ek is dus nie veronderst­el om heeltemal só bly te wees om by Breakfast Rock uitkom nie. Maar dit was immers opdraande tot hier, met die huisies en bome van Greyton wat al kleiner en laer onder ons weggedaal het, en my bene is goed bewerig, ligte sak ofte nie.

Daar loop ’n storie dat die rugbyspann­e van McGregor en Greyton destyds deur die Boesmanskl­oof dráf van die een dorp na die ander voor hulle jaarlikse rugbywedst­ryd. Dalk voel ek môre anders, maar in dié stadium dink ek die Greyton-span het beslis aan die kortste ent getrek as hulle “weg” moes speel… of dalk is dit juis die McGregor-span wat elke tweede jaar klippe gekou het as hulle ná die wedstryd weer moes terugdraf? >

Breakfast Rock is ’n groot rotsknoets links van die paadjie, gemerk met ’n naambordji­e sodat jy dit nie kan misstap nie. Dis die ideale plek om ontbyt te eet (verrassing!), sowat ’n uur en ’n half nadat julle begin stap het.

Van hier af lyk die uitsig vandag byna Europees, met die bopunt van die groen berg aan die ander kant van die kloof toe onder mis. Doer onder loop die Gobosrivie­r en agter ons kan ’n mens Greyton vir oulaas sien. Met so ’n uitsig smaak die oggendkoff­ie nog lekkerder (onthou die fles of stofie!) en die vroeg opstaan voel die moeite werd.

Ons is egter nog nie klaar geklim nie: Ná ontbyt vat die tweespoorp­ad ons steeds hoër. Die kaart op Kaapse Natuurbewa­ring se pamflet sê dis Perdekop (1 346 m) wat hier regs van die pad uittroon, maar of dit soos ’n perd se kop lyk, kan ek nie sê nie, want die spits is toe onder mis.

Teen die hange aan weerskante van die pad sien ek heelwat proteaboss­e – volgende keer móét ons in die lente kom. Volgende keer? Hokaai eers, sê my kuite, en ons knars voort oor die losserige klippe.

Sowat 20 minute se stap ná Breakfast Rock bereik ons ’n nekkie, op die kaart gemerk as ’n uitkykpunt, wat 650 m bo seespieël lê. (Greyton lê op 220 m). Die Boesmanskl­oofvallei lê voor ons uitgestrek en ons oë volg sy groen lyne, met die bruin voetpaadji­e wat plek-plek sigbaar is tot bo aan die oorkant, waar ’n trossie bloekombom­e wys waar ons vanaand slaap. Hoog bo ons volg twee roofvoëls ’n lui sirkel teen die grys lug. Dalk witkruisar­ende, wensdink ons, maar dis te ver om te sê.

Die tweespoorp­ad het dit tot hier vir die langasems maklik gemaak om kuier-kuier te stap, maar dis tog lekker om van hier af op ’n voetpad te stap: Dit voel vir my ons stap nou regtig ín die berg en gister en sy werkdinge voel al verder weg.

Om te weet jy stap môre op dieselfde pad terug, doen snaakse dinge aan ’n mens se kop. Dit help vir motivering teen die opdraande (toemaar, môre is dit áf!), maar dit maak my ook minder dankbaar om te sien hoe die paadjie van die uitkykpunt af laer en laer sigsag die kloof in (môre is dit op!)…

Ek stap dus die heel lekkerste toe ons ná die afdaal op ’n kontoerpad dieper kloof-in mik: Dié deel gaan môre net so lekker wees! En mooi: Dis welig weerskante van die paadjie en plek-plek sien ek pienk spikkels sewejaartj­ies.

Ná sowat 9 km kom ons om ’n draai en sien die Oakes-waterval wat onder ons in ’n donker bergpoel tuimel. Op ’n warmer dag sou dit seker nóg meer aanloklik gelyk het, maar ons is nietemin bly vir die afsaalkans en ’n paar lywe kry wel lafenis in die water.

Hier sou ’n mens lank kon vertoef – en as die son skyn, sal dit waarskynli­k die beste plek wees om te wag tot die warmste deel van die dag verby is, maar ná ’n bietjie meer as ’n uur sien ons kans vir die laaste stuk van die roete.

’n Entjie anderkant die poel kry ons ’n groep dagstapper­s van McGregor se kant af. Hou dit ook in gedagte met jou beplanning: Dit kan bedrywig word by die poel; as julle dus ’n bietjie vroeër daar uitkom, het julle ’n groter kans om dit vir julleself te hê. Daar is egter kleiner poele rivier-af vir dié wat stilte soek.

Ons stap steeds redelik gelyk en vorder goed, regs van die rivier. Later steek ons die rivier oor (dis op die oomblik nie veel meer as ’n stroompie nie). Die fynbos maak hier rond plek vir varings en palmietgra­s. ’n Entjie verder, min of meer by die 12 km-merk, kom ons by ’n vurk met twee bordjies: Ons moet kies tussen “geskiedkun­dige pas” na links en “natuurskoo­n” na regs. Ek het vooraf gelees dis makliker om by die “natuurskoo­n”-paadjie áf te stap as op, en ons wil graag die pas sien – ons hou dus links. Ons moet nou weer uit die kloof kom tot bo-op die plato waar ons blyplek wag.

Ek wil nie weet hoe die ander kant lyk as hierdie die makliker pad op is nie, want nou klím ons weer – die slag is dit meer trapagtig as met vanoggend se tweespoorp­ad en my bobeenspie­re wérk. Maar toe ons by die begin van die pas kom, kry ons nóg ’n mooi uitsig – dié slag weer terug in die vallei waardeur ons pas gestap het, met die son wat nou plek-plek deur die wolke begin strepe verf en vanoggend se uitkykpunt doer ver.

Die pas is rondom 1930 begin bou, glo om te help met werkskeppi­ng ná die Groot Depressie, maar veral om ’n kortpad tussen Greyton en McGregor te skep. Met die motor is dit ’n 140 km-ompad en ’n mens kan verstaan dat dié kloof ’n aanloklike opsie was. Dis ’n indrukwekk­ende stukkie bouwerk: Die pad is uit die kranse gekap en ons stap met ’n hoë klipmuur aan ons linkerkant en ’n afgrond aan ons regterkant. Die pas is nooit voltooi nie: >

ALLES IS GROEN (kloksgewys van links bo). DIe roete begin met ’n tweespoorp­ad wat jou (en jou kuite) vinnig wakker maak, maar byt vas: Daar wag ’n mooi uitsig oor die Boesmanskl­oof; kry jou kamera reg vir die verskeiden­heid fynbosspes­ies wat in die kloof groei; laat genoeg tyd om ordentlik by die vyfsterpoe­l onder die Oakes-waterval uit te span; die Boesmanskl­oof loop deur die Riviersond­erend berge n die stadslewe voel ver weg.

Party mense sê die voorman het met die geld verdwyn, terwyl ’n ander storie loop dat die geld opgedroog het weens die oorlog. Dankie tog, dink ek, want dan sou hierdie staproete seker nie bestaan het nie.

Ons ruik nou huis, en tel spoed op oor die laaste stuk van die pas, verby die Eagle’s Nesthuis (sien “Waar bly ek?”) tot by ons huisie by Die Galg. Die onheilspel­lende naam het gelukkig niks met die toestand van die verblyf (of ons groepie!) te doen nie – die hele deel bo-op die platorand is Die Galg genoem na die Galgeberg hier naby: ’n stuk met regaf kranse het iemand iewers aan ’n galg laat dink.

Ons kyk die huisie gou deur: klein maar netjies, met als wat ons nodig het – beddegoed, handdoeke, eetgerei en kombuisger­eedskap. “Hier’s selfs ’n dompelpot!” roep ’n koffievers­laafde opgewonde.

Ons swanger redder arriveer onder luide toejuiging met ons eet- en drinkgoed: Vanaand eet ons soos konings. Ek maak my op die bank op die stoep tuis met ’n (koue!) bier terwyl ek wag vir my (warm!) stortbeurt en sug tevrede. Nou’s ek éérs bly oor vanoggend se wekker… ons het al rondom halfdrie hier aangekom en kan nou heelmiddag ordentlik leeglê – soos dit hoort op ’n naweek!

Die volgende oggend skyn die son en ons val onder blou lug weg. Ons draai dié keer links af voor Eagle’s Nest en volg die steil voetpaadji­e af terug kloof toe. In die son blink die fynbos wat gister donkergroe­n was nou helderder en die Kaapse droogte en bruin wynland voel baie verder weg as bloot ’n twee uur lange rit.

Ons stap vanoggend met ’n goeie ritme en kom ná ’n uur en ’n half weer by die poel. In die sonskyn sien ek kans vir swem. ’n Mens kan tog nie op so ’n mooi plek kom stap en nie minstens één keer in die bruin bergwater plons nie! En van rantsoener­ing is daar nou geen sprake nie: Dis oorskiet braai broodjies, muesli, koffie en jellielekk­ers… Ons is mos nou-nou weer op Greyton!

’n Uur van die poel af is ons weer by die sigsagpad uit die kloof, tot by die uitkykpunt. Nou raak dit goed warm – het ons regtig netnou nog geswem?

Bo op die nekkie skep ons asem, maar nie te lank nie – ons weet van hier af is dit so te sê afdraande al die pad. Perdekop is vandag aan ons linkerkant, mooi helder teen die blou lug (ek kan steeds nie die perd se kop uitmaak nie). Ons tel gesels-gesels spoed op, veral ná Breakfast Rock toe ons Greyton weer sien groter word onder ons.’n Uur later soek ons koelte onder ’n boom aan die begin van die dorp.

Skuins ná twee sit ons by ’n restaurant in die hoofstraat, ons hamburgers en bier is op pad. Ons het 28 km gestap en gaan voor sononder by die huis wees...

Ja, dis na aan die Kaap, ons het lig gedra en ons bene is lekker lam. Maar wat die Boesmans kloof roete régtig goue status gee, is dat dit voel asof jy veel langer as twee dae in die kloof was, en veel verder weg van die stad en al sy dinge. Ek bespreek sommer weer vir komende naweek!

 ??  ??
 ??  ?? NET EKKE. Op ’n stil dag kan jy jou verbeel dis net jy wat deur die Boesmanskl­oof stap (hier in die rigting van Greyton).
NET EKKE. Op ’n stil dag kan jy jou verbeel dis net jy wat deur die Boesmanskl­oof stap (hier in die rigting van Greyton).

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa