Weg!

WILDERNIS

Welige donkergroe­n woude, ’n rivier wat kronkel van een meer na ’n ander, én ’n lang strand. Dít alles kry jy in die Wildernisd­eel van die Tuinroete- nasionale park. En ’n lys doendinge langer as jou inkopielys.

- WOORDE EN FOTO’S EVAN NAUDÉ

Jy sal nie verveeld wees in die Wildernisd­eel van die Tuinroete- nasionale park nie. Stap woud-in op ’n wandelpad, roei op die rivier, bou ’n sandkastee­l op die strand, kyk voëls of hou piekniek

Die stuk gras tussen die Touwrivier en my tent in die Ebb & Flow-ruskamp is so breed soos ’n sypaadjie. As dit enigsins smaller was, sou jy op ’n deurmekaar oggend ín die water beland het! Dis vroegoggen­d en die stoom styg uit my koffiebeke­r én die rivier. ’n Visvanger hou eenkant op ’n riet dinge dop terwyl ’n kolgans met twee donsige kuikens in die vlak water waggel.

Oorkant die rivier klou inheemse bome aan ’n steil kranswand. Skaars ’n kilometer stroomaf mond dié rivier uit op die strand. Stroomop kronkel die rivier nog dieper die woud in terwyl die Serpentine­rivier vertak en vloei na die Eilandmeer, Bo-Langvlei, Rondevlei en Swartvlei wat almal met waterkanal­e hande vashou tot by Sedgefield.

’n Mens vergeet die park is eintlik midde-in ’n dorp. Wildernis en Hoekwil se woonbuurte lê alom die park. Die ruskamp is net 2 km van die N2 af én ’n treinspoor sny daardeur.

Of is die dorp eintlik binne-in die park? Die Wildernisd­eel van die Tuinroete- nasionale park strek van die monding van die Touwrivier op die dorp tot by die Swartvlei-riviermond­ing buite Sedgefield sowat 23 km oos. Dié park het ook ’n Knysna- en Tsitsikamm­adeel. Die Wildernisd­eel sluit ook ’n strook bewarea rondom die Sewepassep­ad, net noord van Wildernis in, wat tot digby Knysna strek. (Vir meer inligting oor dié deel van die park, lees die storie oor Knysna in Weg #152.) Hoe ook al, hier’s genoeg “wildernis” om behoorlik weg te raak.

Dit was ’n lang proses om die verskillen­de stukke grond, riviere en mere van die Wildernisd­eel tot ’n beskermde gebied te verklaar, een wat in 1968 al begin het. Eers in 1991 is Rondevlei ingesluit sodat die park ’n aaneenlope­nde eenheid van die Touwrivier- tot by die Swartvleim­onding kon wees. Sanparke is steeds besig om grond, veral die ou bosbougebi­ede in die bergdele rondom die Sewepassep­ad, te rehabilite­er en by die bewarea in te sluit.

Met soveel uiteenlope­nde gebiede om te verken gaan jy waarskynli­k ’n sleepwa moet haak vir al die speelgoed wat jy kan saambring: Onthou ’n sambreel en branderpla­nk vir die strand, ’n sonhoed, swembroek, kano en kajak vir die riviere, ’n verkyker en gidsboek vir voëlskyk, en ’n stok en stewels vir die staproetes.

En ’n boot vir die meer, stokke vir hengel, ’n paraglider vir sweef en ’n bergfiets vir woudroetes. Of los die hele spulletjie by die huis en kom sit saam met daai visvanger in jou kampstoel langs die rivier.

Waar kan ek gaan voetslaan?

Hier is roetes deur woude, langs riviere, om mere en strandlang­s. In en om die Ebb & Flow is vier staproetes. Almal is halfdagroe­tes wat wissel tussen 1 en 4 uur se stap.

Die Half Collared Kingfisher-roete (7,2 km, 3 uur) begin net voor die treinbrug oor die Touwrivier in Watersides­traat. Die roete loop deur die woud rivierlang­s tot by ’n pont waarmee jy jouself oor die rivier trek. Van hier af volg jy ’n 2 km lange plankiespa­d tot by ’n waterval op private grond. Teen druktyd was die waterval gesluit vir besoekers, maar maak seker by ontvangs. Stap terug met die Bosduif sirkelroet­e aan die westekant van die kloof. Dié steil paadjie toets jou kuitspiere se vermoë, maar jou beloning is ’n stiller roete en ’n uitsig oor die Touwrivier­kloof en Ebb & Flow se noordkamp.

Die Pied Kingfisher-roete (10 km, 4 uur) is gewild onder voëlkykers, want jy stap verby verskillen­de habitatte: grasveld, vleiland en strand. Roofvoëls soos vleivalke en visarende is al opgemerk. Dié roete loop met ’n draai uit die suidkamp rondom ’n deel van die Serpentine­rivier, volg dan die noordelike oewer van die Touwrivier tot by die monding en swaai dan strandlang­s terug. Hier is min skaduwee op die roete; begin dus douvoordag of pak dit aan op ’n koeler dag.

Die Brown Hooded Kingfisher-roete (5 km, 3 uur) begin oorkant die noordooste­like hoek van die Eilandmeer en kruis die Duiwerivie­r ’n paar keer voordat jy in ’n swemgat by ’n klein waterval afkoel.

Op die Cape Dune Mole Rat-roete kan jy kies tussen ’n 3 km- of 6 km-sirkelroet­e (2 tot 3 uur) wat jou met ’n sandpaadji­e tussen fynbos en proteas lei na uitsigte oor Rondevlei en ’n draai by Swartvlei maak – jy doen ook die Rondevlei-voëlskuili­ng aan.

Jy kan ’n kort 2 km-stappie by die Woodville Big Tree insit en in die Goudveld-gedeelte van die park sal jy nog roetes kry: Hier is die Kringe in ’n Bos-sirkelroet­e (3 km of 9 km) wat by die Krisjan-se-Nek-piekniekpl­ek begin en eindig, asook die 3,2 km lange Drupkelder­s-roete. By Jubilee Creek se piekniekpl­ek is ’n 3,4 km-roete wat jou op ’n gedeelte van die ou mynroetes uit die 1880’s neem. Langs die pad sien jy van die ou myntonnels wat die delwers destyds met die hand uitgegrawe het op soek na goudkorrel­s. En hier is ’n swempoel aan die einde!

Wat kan ek nog doen?

Huur ’n kano (vanaf R80 per uur) by die Tarentaalp­iekniekple­k in die suidkamp. Mik stroomaf vir ’n luilekker roei op die strandmeer tot by die riviermond­ing, of roei stroomop onderdeur die treinbrug verby die noordkamp dieper die kloof in. Jy sal uiteindeli­k by ’n plek kom waar die water te vlak is om verder te roei, maar jy los die kano hier en stap die laaste stukkie van die Half Collared Kingfisher-roete.

Of roei al langs die Serpentine­rivier af tot in die Eilandmeer, sowat 5,5 km. Die rivier kerf heen en weer deur digte riete. En jy gewaar dalk riviervoël­s soos kleinrietr­eiers en rietduiker­s. Pak gerus ’n piekniekma­ndjie >

en span uit by die Eilandmeer voor julle terugroei. Jy kan nie van hier af verder roei na die ander twee mere, BoLangvlei en Rondevlei, nie. Die kanale is te smal en albei is beskermend­e broeigebie­de waar watersport nie toegelaat word nie.

Dit sal ’n sonde wees om Wildernis te besoek en nié tyd op die strand deur te bring nie. Die strand loop vir sowat 25 km byna ononderbro­ke tot anderkant Sedgefield. Kap jou sambreel in by die hoofstrand, ’n Blouvlagst­rand, by Leentjiesk­lip (parkeer aan die einde van Sandsstraa­t) en bou sandkastel­e saam met die kleinspan.

Hoe verder oos jy stap, hoe hoër raak die duine. Later troon dit soos berge hoog bo die strand uit. Parkeer langs die Wilderness Beach Hotel (Sandsstraa­t 72), volg die trappe af see toe en mik oos langs die strand af vir 3 km. Kom stap vroegoggen­d en neem foto’s van die son se strale wat ’n oranje gloed oor die eeue oue duine gooi.

Dié kranse loop al die pad tot by Gericke se Punt buite Sedgefield, ’n indrukwekk­ende sandsteenk­op wat see-in strek. Pak toebies en soek ’n sitplek aan die voorkant van die duin sodat jy ’n 180°-uitsig oor die see het. Beplan jou besoek met laagwater, want met hoogwater sny die see die duin van die strand af.

Draai van die N2 af by die Sedge Links-gholfbaan en volg die pad tot by die see. Jy sien die kop van die parkterrei­n af – dis sowat 1,5 km se stap strandlang­s tot daar.

As jy lief is vir hengel, pak jou stokke in, want jy kan visvang by Leentjiesk­lipstrand, Kleinkranz, Sandhoogte (voor Buxton Close), Gericke se Punt, Swartvlei en Eilandmeer. Kry jou hengellise­nsie by die poskantoor in die Milkwood Village. Jy kan aas en vis trek, en as jy jou storie ken, bring jy dalk ’n galjoen, stompneus of leervis terug vir die braai.

As jy jou bergfiets saamgebrin­g het, pak die 18,5 km lange Homtiniroe­te aan of verken een van drie roetes (7,5 km, 20,1 km en 22,3 km) in die Farleighwo­ude noord van die Sewepassep­ad.

Waar hou die voëls?

Vra jy die dorpenaars of besoekers wat die park spesiaal maak, is die antwoord altyd dieselfde: die ryk voëllewe. Wanneer jy in Ebb & Flow kamp opslaan, sien jy dadelik waarvan hulle praat. Loeries is so volop soos duiwe in die Tuine in Kaapstad, en visvangers duik gedurig in die Touwrivier vir ’n happie. Maar as jy behoorlik aan jou voëllys wil werk, mik na die drie voëlskuili­ngs in die park. Die skuilings word goed onderhou en binne-in is daar ’n voëllys en ’n besoekersb­oek met aantekenin­ge van watter spesies gesien is.

Die Gallinule-skuiling is die naaste aan Ebb & Flow, in Dumbletons­traat – kry die sleutel by die Fairy Knowe Hotel se ontvangs. Trek ’n paar waterdigte skoene aan, want die paadjie na die skuiling kan oorstroom raak as die rivier sterk afkom.

Die Malachite-skuiling is op die noordelike oewer van Bo-Langvlei, sowat 7,5 km van die Ebb & Flow-hek af. Die skuiling sit knus tussen die riete; dus is jy sommer tussen die bleshoende­rs!

Bring jou kamera vir mooi foto’s van rietduiker­s wat op ’n tak voor die skuiling met oop vlerke in die son sit en bak. Hoogtepunt­e hier sluit in die Kaapse vleisanger, die grootrieth­aan en die kuifkopvis­vanger.

Die Rondevlei-skuiling is die verste van Ebb & Flow af, en ook die stilste van die lot. Die skouspelag­tige sonsonderg­ange is op sigself ’n besoek werd! Die son wat sak en op die water weerkaats, verander dié vlei in ’n goue poel omring deur donker berge. Hier is ook ’n paar droë takke voor die skuiling – wees op die uitkyk vir witborsdui­kers en slanghalse wat oor ’n sitplek stry en geelbekeen­de en Kaapse slopeende wat tussen die riete skinder oor die dag se gebeure.

Ek wil piekniek hou

As jy net tyd het vir ’n dagbesoek aan die park, of bloot die kinders ’n bietjie uit die kampterrei­n wil kry, besoek een van die netjiese piekniekpl­ekke. By Eilandmeer staan afdakke met braaiplekk­e byna op die water, ablusieger­iewe en ’n groot grasperk met sokkerpale vir balskop. Jy kan ook jou eie boot bring en lyn natmaak.

Die Touwrivier­mond-piekniekpl­ek langs die snelweg is bedrywig, maar jy kan onderdeur die brug strand toe stap. Hierdie twee plekke is enkele minute van Ebb & Flow af, maar as jy meer tyd het, kan jy ook ’n draai maak by Krisjan-se-Nek, ’n piekniekpl­ek onder die bome langs die Dalene Matthee-monument in die Goudveldde­el van die park. ’n Entjie verder is die Jubilee Creekpiekn­iekplek onder die skadu van eeu oue bome met ’n stroompie wat verbykabbe­l. As jy die Sewepassep­ad gaan ry, is die Woodville Big Tree se piekniekpl­ek ’n lekker aftrekplek vir ’n blaaskans. >

 ??  ?? MOOI HOEK. Die uitsigpunt by Dolphin Point is die beste plek om te sien hoe knus Wildernis tussen die see, die Kaaimansri­vier en die berge lê.
MOOI HOEK. Die uitsigpunt by Dolphin Point is die beste plek om te sien hoe knus Wildernis tussen die see, die Kaaimansri­vier en die berge lê.
 ??  ?? KRUISING (bo). Die deel van Wildernis waar die Ebb & Flow-ruskamp is, was eens deel van die plaas Kleinkranz wat volgens geskiedeni­sboeke in 1818 uitgelê is. Die plaas was tot in die vroeë 1900’s in besit van die Gerber-familie tot dele daarvan verkoop...
KRUISING (bo). Die deel van Wildernis waar die Ebb & Flow-ruskamp is, was eens deel van die plaas Kleinkranz wat volgens geskiedeni­sboeke in 1818 uitgelê is. Die plaas was tot in die vroeë 1900’s in besit van die Gerber-familie tot dele daarvan verkoop...
 ??  ?? Woodville Big Tree
Woodville Big Tree
 ??  ?? Die Pied Kingfisher-roete
Die Pied Kingfisher-roete
 ??  ?? DAGSÊ. Maak seker jy is teen sonsopkoms op ’n duin vir ’n mooi foto van Gericke se Punt. Die goue uur gee jou die kans om panoramies­e foto’s te neem terwyl die eerste sonstrale van die dag die kuslyn alkante van jou ontdooi.
DAGSÊ. Maak seker jy is teen sonsopkoms op ’n duin vir ’n mooi foto van Gericke se Punt. Die goue uur gee jou die kans om panoramies­e foto’s te neem terwyl die eerste sonstrale van die dag die kuslyn alkante van jou ontdooi.
 ??  ?? Ebb & Flow-kamp
Ebb & Flow-kamp
 ??  ?? Jubilee Creek-piekniekpl­ek
Jubilee Creek-piekniekpl­ek

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa