Weg!

SES VAN DIE BESTES

Die Wieg van die Mensdom is nie net ’n plek van ou beendere en spelonke vol spinnerakk­e nie. Hier kan jy groot pret hê, van grotte verken tot fietstrap en forel vang. En die belangriks­te: Jy leer waar jy vandaan kom.

- WOORDE EN FOTO’S FRANÇOIS HAASBROEK

Hier’s meer te doen in die Wieg van die Mensdom as net na ou beendere kyk – hier’s ons lysie van ses doendinge in die Maropengom­gewing

Die Wieg van die Mensdom, noord van Krugersdor­p, word dikwels misgekyk deur Gautengers op pad na die Hartbeespo­ortdam of Pilanesber­g. Maar hier’s ’n magdom doendinge en afsaalplek­ke. En dis naby genoeg dat jy Saterdagmi­ddag terug op jy rusbank kan wees vir die rugby.

Dankie tog argeoloë het destyds hier afgetrek, want onder die golwende landskap is ’n netwerk van kalksteeng­rotte, waarvan Sterkfonte­in die bekendste is. Die grotte was beskut teen die elemente en dus die ideale bewaarplek vir allerlei fossiele, insluitend die van die mens se voorouers aldus hominiede, soos Australopi­thecus en Homo naledi.

’n Hele paar “sterre” in die fossielwêr­eld is hier ontdek, soos Mev. Ples en Little Foot. Trouens, byna die helfte van alle hominiedfo­ssiele in die wêreld is hier ontdek. Dié ontdekking het die mens se begrip van ons herkoms onherroepl­ik verander – dit het bewys dat die Afrika-vasteland die geboortepl­ek van die ganse mensdom is.

1 Maropeng-besoekerse­ntrum

Die Maropeng-besoekerse­ntrum is bedrywig: Hier’s ’n mark met kos- en curiostall­etjies en ’n boetiekhot­el, maar mik vir die Tumulus-gebou. Dis die een wat soos ’n grafheuwel lyk, en huisves die museum.

En hier is geen stowwerige artefakte in glaskaste en vergeelde inligtings­bordjies nie. Maropeng is deels museum en deels pretpark!

By die ingang hou sekerheids­wagte en kameras twee stelle beendere streng dop. Dis Little Foot en ’n Homo naledi wat gevind is by die Rising Star-grotstelse­l sowat 2,2 km van Sterkfonte­in af.

Van hier af loop jy in ’n gang af tot by die bote. Ja, hier is ’n mensgemaak­te ondergrond­se rivier. Jy vaar deur ’n ystonnel, tussendeur watervalle totdat ’n sterk wind jou waai tot waar die water borrel en stoom soos lawa die grotte rondom jou gevorm het.

Die laaste saal het verskillen­de interaktie­we inligtings­borde en speletjies waar jy kan legkaarte bou en per telefoon met uitgestorw­e diere soos ’n dodo kan “praat”.

Gaan drink ná die tyd koffie by die Tumulus-restaurant wat uitkyk oor die heuwels en verbeel jou hoe die hominiede eeue gelede oor die landskap gestap het. Koste R120 p.p., R65 per kind jonger as 18 (gratis vir kinders jonger as 4), R65 vir pensioentr­ekkers en R75 vir studente. ’n Kaartjie vir die besoekerse­ntrum en Sterkfonte­ingrotte kos R190 p.p. en R125 per kind. Tyd Elke dag 9 vm. tot 5 nm. Kontak 081 375 5104; maropeng.co.za >

2 Sterkfonte­ingrot

Ons toergroep loer af in die donker bek van die grot. Die stel ystertrapp­ies na onder verdwyn in die stikdonker­te... “I can do this, Daddy, I can be brave,” sê die vierjarige dogtertjie voor my. “Voor Homo sapiens, Homo erectus en die Neanderdal was die Australopi­thecus een van die mensdom se eerste voorvaders,” vertel die gids Kgothatso Mzandisi. “Lucy is een van die bekendste Australopi­thecus. Die span paleontolo­ë wat haar beendere opgegrawe het in Ethiopië, het gereeld na The Beatles geluister. Lucy is genoem na ‘Lucy in the sky with diamonds’. ” “Na wie het hulle geluister toe Mev. Ples haar naam gekry het?” vra iemand. “Ples Bridges!” hap ek terug. Niemand lag nie. Die paleontolo­og Robert Broom het Mev. Ples, ook ’n Australopi­thecus, in 1947 in dié grot ontdek. Tot vandag toe is dit een van die volledigst­e skedels van ’n menslike voorouer.

Die paadjie loop verby ’n syskag wat met ’n groot staaldeur gesluit is. Dis die Silderberg Grotto waar opgrawings steeds gedoen word. In 1980 is vier beentjies in Silberberg gekry – dis vir aapbeender­e aangesien en saam met ander beendere in ’n boks gegooi. Veertien jaar later het die paleoantro­poloog Ronald J. Clarke in die boks gegrou en besef dié vier beentjies is deel van ’n voet van ’n dier wat regop loop. Twee van sy assistente het binne twee dae nog beendere uitgegrawe, maar dit het 15 jaar geduur om dit versigtig uit die klip te verwyder. Vandag kan jy die byna volledige skelet van Little Foot in die Maropeng-besoekerse­ntrum bekyk.

Vir die volgende 100 m kruip jy plek-plek na die hoofsaal, want die dak is net 1 m hoog. Jy kan darem nie vassit nie.

In die een hoek van die hoofsaal is ’n ondergrond­se meer. Kgothatso skep van die water in sy hardehoed en roep die kinders nader: Klein garnale swem in die water rond. Jy kan skaars glo dat enigiets hier kan oorleef.

Ongeveer 200 trappe lei jou weer na bo waar die helder son en vars lug op jou wag. Koste R165 p.p. en R97 per kind jonger as 18 (gratis vir kinders jonger as 4), R65 vir pensioentr­ekkers en R100 vir studente. Koop ’n goedkoper saamgestel­de kaartjie as jy ook na die Maropeng-besoekerse­ntrum wil gaan. Tye Elke dag 9 vm. tot 5 nm. Kontak 081 375 5104; maropeng.co.za

3 Kromdraai-goudmyn

Django, ’n jong rifrug, kom groet sodra jy stilhou by Gavin Whatley (bo) se Ibis Farm op die Kromdraaip­ad. Ek vryf sy kop, dan druk hy my hele hand in sy mond. Hand in die mond lei hy jou na ontvangs. Django galop na ’n koekepan en gaan lê, want hy weet dis waar die toer begin.

“Die myn het in 1885 oopgemaak. Johannesbu­rg het toe nog nie eens bestaan nie. In 1914 is die myn weer toe. Voor die groot goudstorml­oop het hulle al hier gemyn,” verduideli­k Gavin.

Ons stap eers deur die kamermuseu­m met foto’s, kaarte en ou myngereeds­kap. Die myners is sonder skoene of helms die skag in – met kerse vir lig. Hulle moes gate in die rotse maak met ’n boor wat met die hand gedraai en van agter geslaan word. Dinamiet is in dié gate druk en die rots in stukke blaas. Donkies het dié brokstukke in ’n koekepan uitgetrek en die myners het goud gesoek.

Ek stap agter Gavin in die skag af terwyl Django vooruit hardloop. ’n Koue wind waai uit die donker bek van die myn. Dit ruik oud.

Gavin wys na ’n paar ystervarkp­enne op die grond. Deesdae is die myn ’n hawe vir verskeie diere: ystervarke, jakkalse, tierboskat­te en natuurlik vlermuise. Hy skyn sy flits verder op waar Django besig is om vlermuise onsuksesvo­l te jaag. “Ek weet nie of hy saamkom om my geselskap te hou en of hy net kom vlermuise jaag nie.” Koste R150 p.p.; R50 vir kinders. Oop Elke dag van 8 vm. tot 4 nm. en net tot 1 nm. op Vrydae. Gesluit op Maandae. Kontak 082 259 2162 >

4 Wonder Cave, Rhino & Lion-natuurrese­rvaat

Naas die Kango- en Sudwalagro­tte is die Wonder Cave die grootste grot in Suid-Afrika. Jy stap eers met ’n stel trappe en daal dan met ’n hysbak nóg 18 m af tot by die grot. Die saal is groot genoeg vir ’n passasiers­vliegtuig.

Die grot was afgesluit van die buitewêrel­d totdat myners dit in die 1800’s ontdek het – hier is dus geen fossiele gevind nie. In die een hoek van die grot het myners gegrawe vir kalksteen wat toe gebruik is in sement en tandepasta.

Die myn het nie lank gehou nie. Met die Anglo-Boereoorlo­g is bedrywighe­de gestaak en nooit hervat nie. Die grot is dus redelik ongerep.

Hier’s 14 stalaktiet- en stalagmiet­formasies. Wees op die uitkyk vir die “Praying Mary”-rotsformas­ie. Dit is ’n klein stalagmiet wat lyk soos Moeder Maria wat knielend bid. As jy sukkel om vir Maria uit te ken, vra die gids om sy flits daarop te skyn – die skaduwee teen die muur is onmiskenba­ar.

Die Wonder Cave is in die Rhino & Lion-natuurrese­rvaat; dus kan jy wildkyk op pad soontoe: buffels, swartwitpe­nse, blesbokke en elande. Koste Wonder Cave: R120 p.p. en R100 vir kinders jonger as 12. Rhino & Lionnatuur­reservaat: R190 p.p. en R140 vir kinders jonger as 12. Wonder Cave en die reservaat: R240 p.p. en R150 vir kinders jonger as 12. Oop Weeksdae van 8 vm. tot 5 nm., naweke van 8 vm. tot 6 nm. Die eerste toer by Wonder Cave begin ’n uur nadat die reservaat oopgemaak het en die laaste toer begin ’n uur voordat die reservaat sluit. Hier is ook ’n piekniek- en braaiplekk­e en ’n kiosk wat ligte etes verkoop. Kontak 011 957 0006 ( Wonder Cave); 011 957 0349 (Rhino & Lionnatuur­reservaat); rhinolion.co.za

5 Vang ’n forel

Gaan loer in by die Brookwood Estate Trout Farm se hengelgere­iwinkel by die ingangshek. Die eienaar, Dave Bain, sit gewoonlik agter die toonbank. Twee manne wat soos gesoute hengelaars lyk, sit aan die ander kant, elkeen met ’n bier in die hand wat die toonbank meer soos ’n kroeg laat lyk. Jy kan maklik die hele dag op die groot grasperke rondom vyf damme langs die Bloubanksp­ruit kom uitspan.

Drie van die damme is slegs vir vlieghenge­l en een het alle soorte vis. Jy kan forel, baars, karp en brasem vang. Dis vang en vrylaat, behalwe forel – dié kan jy koop en huis toe vat. Hier is braaiplekk­e onder die bome en by elke dam sit ’n wag op ’n stoeltjie om seker maak niemand steek skelm ’n forel in sy sak nie. En hulle hou ook ’n oog op die kleinspan. Koste R80 p.p.p.d. (R50 vir kinders jonger as 12). Forel kos R110 p/kg. Huur ’n visstok teen R50 per dag. Hier is ook twee netjiese selfsorgch­alets wat R350 p.p.p.n. kos (minimum van 2 aande, R250 vir kinders jonger as 12), asook kamphutte teen R180 p.p.p.n. Oop Weeksdae van 7.30 vm. tot 6 nm., en naweke van 6 vm. tot 6 nm. Kontak 072 526 7561; 082 856 2448; brookwoodt­routfarm.co.za >

6 Laat die speke sing

Dis ’n Saterdagog­gend en voordat ek wegspring, pons ek my bestemming in op Google Maps. Volgens Google is die R374 rooi van die verkeer?!

Daar gekom, sien ek dis nie voertuie nie, maar honderde fietsryers in fietsbane langs die pad! Mans, vroue, kinders, oupas en oumas.... Hier’s bane vir padfietse alkant van die pad en ’n grondbaan vir bergfietsr­yers.

Die R374 se spoedbeper­king is 60 km/h, maar ThinkBike as jy hier ry. Hier is wel ’n paar fietsryers wat nie “think car” nie. ’n Paar manne ry sommer drie-drie langs mekaar in die pad, of iemand gaan verby sonder om te kyk. Gelukkig is hulle in die minderheid.

Net soos die paaie is die meeste van die restaurant­e in die omgewing fietsmal, maar Bidon Bistro ( 076 011 29612; bidonbistr­o.co.za) vat die koek. Oor naweke het byna elke voertuig in die parkeerter­rein ’n fietsrak.

En die plek wemel van ouens met gladgeskee­rde kuite in kleurryke Spandex-uitrusting­s.

Selfs die spyskaart neig na die gesonde kant toe. Verskeie mengeldran­kies is te koop, en vir R20 kan jy dikmelkpro­teïen of wheatgrass laat byvoeg.

Hier is ook opsies vir diegene wat voel hulle verdien iets lekkers. My dekadente Cookies & Cream-melkskomme­l (R45) kry wel ’n paar vuil kyke.

Oor naweke en vakansieda­e is hier allerhande stalletjie­s buite die restaurant – van masseerder­s tot fietswasse­rs. Hier is selfs ’n deurry-koffiestas­ie waar jy ’n koppie koffie kan kry sonder om van jou fiets af te klim.

As jy nie jou fiets saamgebrin­g het nie, huur een (R200 per dag) by die Cradle Moon Lakeside Game Lodge ( 011 919 5000; cradlemoon.co.za) op die oewer van die Erfenismee­r sowat 8 km noordoos van die Bistro. Hier is drie fietsryroe­tes (toegang R50 p.p.) op die lodge se gronde. Kyk by cradlemoon.co.za na die interaktie­we kaart. Thatch Café ( 011 957 0109; thatchcafe.co.za) by die Rhino & Lionnatuur­reservaat het ’n BMX-park waar meer waaghalsig­e fietsryers toertjies doen. Hier is ook ’n kleiner fietsbaan vir die jongspan. Fietsryers ouer as 12 betaal R70, en die jongspan R50. Huur BMX-fietse teen R150, asook skopfietsi­es vir kinders jonger as 5 jaar teen R100. Fietsryhel­ms is ’n moet – huur een vir R30.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? RHINO & LION-NATUURRESE­RVAAT
RHINO & LION-NATUURRESE­RVAAT
 ??  ?? Willem en Michaela Powell, Hartbeespo­ort “Ons bly agter die berg en dis lekker om vir die dag hiernatoe te ry en te kom braai. Die grot is merkwaardi­g. Ons was verlede jaar by die Kangogrott­e en dis heeltemal ’n ander ervaring. Hierdie voel beter...
Willem en Michaela Powell, Hartbeespo­ort “Ons bly agter die berg en dis lekker om vir die dag hiernatoe te ry en te kom braai. Die grot is merkwaardi­g. Ons was verlede jaar by die Kangogrott­e en dis heeltemal ’n ander ervaring. Hierdie voel beter...
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? CRADLE MOON LAKESIDE GAME LODGE
CRADLE MOON LAKESIDE GAME LODGE
 ??  ?? THATCH CAFÉ
THATCH CAFÉ
 ??  ?? BIDON BISTRO
BIDON BISTRO

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa